E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (3) – VERBASING OOR SY ONDERRIG (1)
Joh. 7:14-18 – “Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. Die Jode was verbaas en het gesê: ‘Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!
Vergelyk ook Matt. 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”
Dit was nie die eerste keer dat mense en veral die leiers van die Jode, “verbaas was” oor Jesus se onderrig nie. Die menigte mense wat na Hom daar op die berghang langs die See van Galilea geluister het terwyl Jesus die grootste preek van alle tye, gepreek het, was afkomstig van “Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan” (Matt. 4:25). Hulle het Jesus gevolg weens Sy wonderwerke en genesing van baie siekes. Hulle het waarskynlik nie veel méér geweet van Hom nie daarom was hulle “verbaas oor Sy onderrig.” Ons weet nie hoe lank die menigte daar op die berg na Jesus gesit en luister het nie maar wat ons wel weet is dat die Bergpreek nie net ‘n klomp mooi woorde of teorieë is nie.
Jesus se woorde is ook nie ‘n klomp losstaande waarhede nie maar vorm ‘n geheelbeeld oor Sy verwagtinge ten opsigte van ‘n heilige lewe. Dit is wat Jesus verwag van Sy dissipels om hierdie lewenswyse te leef en toe te pas, ‘n lewenswyse van ‘n nuutgemaakte Christen wat as kind van God, onderweg is na die wederkoms. Daar was nog nooit voorheen ‘n beter preek soos hierdie een nie en daar sal nooit weer ‘n beter een wees nie, want die Leraar was Jesus!
Die mens Jesus het nie gestudeer nie, maar tog het sy kennis selfs die Sanhedrin verbaas. Hulle het ʼn redenasie gehad dat net iemand wat op ʼn Rabbynse skool was, hom kon beroep op die gesag van sy leermeester. Daarteenoor het iemand wat nie op die Rabbynse skool was nie, sy “eie leer” voorgedra, en hulle het so 'n man dus as gesagloos en verwaand beskou. Hulle het geglo dat dit waardeloos was om na so iemand te luister. Hulle het dit op Jesus probeer toepas: Hy moet sê wie Sy leermeester is sodat hulle kan oordeel met hoeveel gesag Hy praat, anders moet Hy stilbly en loop. Jesus antwoord dat Sy leer juis rus op 'n erkende outoriteit: God die Vader. Die leer van Jesus kom van die Een wat Hom gestuur het. Sy hulpmiddels om aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het was lewende woorde, afkomstig van ‘n lewende God! Sy gesag is onbeperk.
Die skare was heel moontlik stil tydens Jesus se onderrig maar toe Jésus stil raak, was hulle “verbaas.” Hierdie Man van Nasaret lyk net soos een van hulle en praat selfs dieselfde taal as meeste van hulle. As die seun van ‘n timmerman het Hy geen geleerdheid of formele opleiding in die geestelike leringe gehad nie. (Tog het die meeste geleerdes deur die eeue by Hom kom leer.) Heel moontlik het hul verbasing daartoe gelei “dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: ‘Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer en dit kom met gesag! (Mark. 1:27). Hulle het nog nooit so iets gehoor nie!
Die oorsprong van hul verbasing was dat “Hy hulle geleer het soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” Hy dra nie eers die tradisionele klere van die skrifgeleerdes nie – “die gebedsband om die voorkop en die tossels aan hulle klere” (Matt. 23:5). Die verskil is, Jesus is nie maar net nog ‘n Joodse rabbi nie. Hy het aarde toe gekom om te kom word wat Hy nooit was nie maar gebly het wat Hy is – Hy het volwaardig mens kom word wat Hy nooit was nie, maar God gebly wat Hy is!
Hoe dikwels gebeur dit dat ons so naby aan die waarheid kom, maar tog so ver daarvandaan bly! Hierdie mense by die Loofhuttefees en ook daar op die berg tydens Jesus se Bergpreek (Matt. 5-7), staan voor die werklike Verlosser van die mense en Hy sê dit vir hulle, maar hulle wil Hom nie herken nie, en ook nie glo nie. Mense se sondige natuur wíl nie vir Jesus erken nie, want dit sal beteken dat mense moet erken dat Hy die Here is en dat hulle sondige dade, gevolge het. Dit is ook nie ʼn akademiese loopbaan wat ʼn mens beweeg om God se wil te ken en te doen nie, die geloof word deur die Heilige Gees in ʼn mens tot stand gebring.
“Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense” (1 Kor. 1:25).
Gebed: Here Jesus, ons het ook geluister na U woorde. Vir ons is dit nie geskrewe woorde op papier van 2000 jaar gelede nie maar nóú. Dankie dat ons nie soos die Jode van ouds ‘n menigte reëls moet gehoorsaam nie. U verwag van ons om van binne af buitentoe te verander en om heeltyd in nuwe verhoudings met ander mense en met God te staan. Dankie dat U vir ons die voorbeeld kom stel het hoe om daaraan gehoorsaam te wees, hoe om met “Christusharte”, te leef. Hervorm ons harde harte sodat ons verhoudings met ander elke dag gesien kan word in ons woorde, dade en gesindhede. Amen.