top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LOOP OP DIE SEE (3) – “KOM!” (Met verwysing ook na Matt. 14:22-33 en Mark. 6:45-52)


Joh. 6:20 – ”Maar Hy sê vir hulle: ‘Dit is Ek; moenie bang wees nie .....”


Vergelyk ook Matt. 14:28-33 – “Toe sê Petrus vir Hom: ‘Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.’ ’Kom!’ sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my.’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’ Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: ‘U is waarlik die Seun van God.”


Johannes en Markus maak geen melding van Petrus se loop op die water nie maar aangesien ons die vier Evangelies se verhaal gekombineer het, voeg ons graag hierdie baie bekende gedeelte, waaroor honderde preke reeds gemaak is, by. Matteus se verhaal stel egter nie Petrus in die kalklig nie maar Jesus, wat kleingelowiges se vrees en omstandighede kan verander, net deur Hom te vertrou.


Petrus het baie keer impulsief opgetree en miskien was hierdie geleentheid vir hom ideaal om, soos iemand gesê het: “Sy naam in die ‘Guinness Book of Records’ te verewig.” Petrus se reaksie word aangevuur deur sy hart – Jesus se teenwoordigheid en Sy gerusstellende stem laat hom reageer op Jesus se uitnodiging: “Kom!” Petrus skep moed, klim uit die boot en begin na Jesus toe, op die stormsee water, te stap. Hy kry dit reg om bo die bangheid en twyfel uit te styg en begin loop in die geloof omdat hy Jesus gesien en gehoor het. Maak nie saak hoeveel keer hy al in die verlede gefaal het met sy impulsiwiteit nie, sy hart is op die regte plek – op daardie oomblik, by Jesus.


Toe hy egter by Jesus kom, begewe sy moed hom en hy sink. Sy watertrappery en arms vir roeispane wat nie volkome wil werk nie, laat hom benoud uitroep: ”Here, red my.” Sy magspel verander na insinking en hy word ‘n drenkeling. Petrus neem sy oë weg van Jesus en begin eerder met sy voete roei. Toe dit moeiliker word steek hy sy ander slegte “roeispane” uit na Jesus en plaas sy vertroue weer op Jesus vir redding. Petrus se bravade “check my” word ‘n “red my!” En Jesus is daar om Petrus saam met Hom in die skuit te laat. Die storm bedaar en die dissipels erken: “U is waarlik die Seun van God.”


Petrus het seker lank daarna nog gedink aan sy waterlopery, of dalk hoe benoud hy was terwyl hy self moes “roei” en gesink het. Hy het immers Jesus vertrou en het probeer en was suksesvol, al was dit net vir ‘n paar treë. Petrus het daarna seker nog baie aan die feit gedink dat hy wel op water geloop het en nie aan die sink nie! Soms is dit vir ons nodig om in ons teistering en wanneer ons twyfel oor God se teenwoordigheid, net weer Sy stem te hoor – net te hoor dat Hy by ons is! Partykeer begewe ons moed ons ook, of sien ons spoke, gaan haal ons die bobbejaan agter die berg en herken ons nie vir Jesus in ons bangheid of benoudheid nie. Partykeer kyk ons so na die wind en die golwe en die donker dat ons bang en benoud raak. Maar dit is juis wanneer ons weer mekaar aan God moet herinner en wanneer Sy teenwoordigheid die bangheid verdryf en die bangheid plek maak vir Sy vrede en kalmte.


Jesus roep vir Petrus, “Kom!” Het ons nie ook soms ‘n bietjie aanmoediging nodig nie? Hoe reageer ons wanneer Jesus sê: “Klim uit jou ‘bootjie’, waag dit saam met My! Draai die ander wang; loop die ekstra kilometer; dóén die dinge wat Ek jou daar op die berg geleer het (Die Bergpredikasie, Matt. 5 tot 7). “Kom! Vertrou My en sien hoe jy die onmoontlike doen deur op water te loop.” Ons is egter so bang vir die sink dat ons dit nooit waag om te loop nie! Ons is so bang ons misluk, ons is so bang ons kry dit nie reg nie. Natuurlik gaan ons soms sink! As jy dink jy gaan nooit in hierdie lewe of in jou geloofslewe of in jou geloofsvertroue sink nie, leef jy in ’n droomwêreld. Ons is mense wat bang en benoud kan raak, ons twyfel dikwels, daarom sink ons dikwels. Maar ..... ons glo in die Lewensredder wat op water kan loop; Hy sal ons elke keer uittrek!!! Ons moet net bereid wees om ons kleingeloof en bangheid te bely met “Here, red my!” Ons sal dan nie praat oor die sink nie, maar die paar treë se loop. Ons kan want God kan!


“Ons geloof hier op aarde is dikwels niks meer nie as twyfel wat tot troos gebring is, deur God self” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek het al dikwels by die punt gekom waar ek moeg is vir al die roei, water uitskep, winde wat my verrinneweer. Ek wil so graag my voete waag op die water en U vertrou met hierdie bangheid en al die worsteling. Telkens vind ek maar weer die onrustige gevoel dat ek alleen hierdie poging ervaar en dan neem ek al die versugtinge weer op myself. Dankie dat U elke keer, weer en weer en weer sê “Kom!” Dankie dat U Gees my die selfvertroue en geloofsvertroue gee om uit te styg bo my eie vermoëns. Saam met Dawid kan ek sê: “Met my God spring ek oor ’n muur en loop ek ’n oormag storm!” As Geesvervulde kind kan ek die Goliatte van die wêreld in die oë kyk want U staan langs my. Amen.


Recent Posts