E-Kerk - Gedagte vir Vandag
WEEK 7 – KOM ONS VIER WAARDIGHEID (3) – ONS BEHANDEL ALMAL MET MENSWAARDIGHEID
Ps. 8:4-7 – “As ek u hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van U hande, U het alles aan hom onderwerp.”
Vergelyk ook Jak. 3:9 – “Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.”
God het aan elke mens, aan alle mense, waarde gegee. Ons almal geniet hierdie Godgegewe menswaardigheid want Hy het ons “net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en ons met aansien en eer gekroon.” Omdat ons menswaardig is in God se oë, het ons die reg op erkenning, respek en beskerming. Ons is meer as net ‘n liggaam wat deur God versorg word, ons is mense wat na ons medemens moet omsien.
Die bekende filosoof Victor Frankl is ten tye van die Tweede Wêreldoorlog in ‘n Duitse konsentrasiekamp aangehou, waar hy by tye onmenslike lyding moes verduur – liggaamlik sowel as geestelik. Sy ouers, vrou en broer het voor sy oë gesterf. Hy is gemartel en van alle menswaardigheid gestroop. Hy het egter nie geknak nie en een dag, nakend en alleen in ‘n baie klein vertrek, besluit hy dat die Nazis nie sy wil om te lewe, kan stroop nie. Hy skryf: “The salvation of Man is through love and in love. I understood how a man who has nothing left in this world still may know bliss, be it only for a brief moment, in the contemplation of his beloved. In a position of utter desolation, when Man cannot express himself in positive action, when his only achievement may consist in enduring his sufferings in the right way – an honorable way – in such a position man can, through loving contemplation of the image he carries of his beloved, achieve fulfillment. Moenie vra watter sin die lewe het nie, vra liewer watter sin jy aan die lewe kan gee.
Die menseslagting van elke oorlog is ‘n verhaal wat elkeen van ons baie diep raak. Ons verstaan wat hier gebeur, ons smag elkeen na erkenning, na menswaardigheid, na ‘n iemand wees. Ons elkeen ken die ervaring, miskien nie in die graad van gevangenes in konsentrasiekampe, van verneder word, behandel word asof jy niemand is, asof jy ‘n ding is. Ons herken iets van onsself en van ons wêreld in die verhaal van Victor Frankl.
In die brief van Jakobus gaan dit juis oor mense wat mekaar nie menswaardig behandel nie. Gelowiges is in konflik met mekaar, beledig mekaar, verskeur mekaar met woorde, vermoor mekaar met die tong! Dit blyk asof liefdeloosheid en minagting aan die orde van die dag is. Waarom nie? Waarom kan ons nie mekaar kwaad aandoen, beledig, vals beskuldig, besteel en aanrand nie? Baie mense doen dit dan! Jakobus beklemtoon dat dit nie so behoort te wees nie. Ons kan nie “met dieselfde tong waarmee ons die Here en die Vader loof, die mense wat as beeld van God gemaak is, vloek nie” (Jak. 3:9). Christene behoort nie so op tree dat hulle ander se waardigheid aantas nie. Ons is elkeen draers van God se beeld. As beeldraers van God is elke mens, ongeag wie hy is, wat hy doen, hoeveel hy besit of nie besit nie, ongeag of hy man of vrou is, dit werd om waardig behandel te word.
Jakobus gaan verder deur te skryf dat beelddraers van God “nie die armes verneder nie” (2:1-13) en hulle “met leë beloftes in die nood laat bly nie” (2:14-26). Omdat ons beeldraers is van God moet ons “nie kwaad bring oor mense deur hoe en wat ons praat nie” (3:1-12); ons “moenie leef asof ons ander niks gun nie” (4:1-10); ons moenie ander “veroordeel nie” (4:11-12) of “onreg pleeg of laat geskied nie” (5:1-6); ons moet “geduldig wees” (5:7-11) en die “waarheid praat” (5:12), daarom “help ons mekaar as iemand swaarkry of siek is” (5:13-20), want as beeldraers van God is elke mens dit werd.
Die struikeling van die tong kan maklik weggeredeneer word as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Jakobus dink egter dit is veel erger. God het ons geheilig vir Sy diens. Hy het alle gelowiges in Christus afgesonder as Sy kinders (Joh. 1:12b). Ons is nie beter as ander nie. Dikwels verinneweer ons tong nie net ons eie lewe nie, maar ook ander mense s’n. Almal het ‘n reg op menslike behandeling. Waarom? Omdat ons almal beeldraers van God die Skepper is. Ons is mense, gevorm na God se beeld, voorwerpe van God se liefde. Wat ervaar mense in ons teenwoordigheid? Dat hulle ‘n niemand is, betekenisloos en waardeloos, of medemense wat ook geskape is na die beeld van God?
“Kom laat ons jubel (met die tong) tot eer van die Here, laat ons juig (met die tong) oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof (deur ons tonge), laat ons Hom toejuig (met ons tonge) met lofsange” (Ps 95:1-2).
Gebed: Here, ek bely dat my tong soms ‘n manier het om sy eie pad te loop en onnadenkend praat ek dan so maklik, sonder om te besef watter skade my woorde aanrig. In plaas daarvan dat mense U in my sien, sien hulle net die groot vuur wat die bos aan die brand steek. Help my Here, om met my tong eerder ‘n lewende getuie vir U te wees en hulle met dieselfde menswaardigheid behandel wat U my mee behandel. Help my om met my tong woorde van dank uit te spreek soveel kere soos wat daar voëls in die lug is. Amen.