E-Kerk - Gedagte vir Vandag
WEEK 5 – RESPEK VIR MY NABY-MENSE (3) – RESPEK VIR DIE HUWELIK
Matt. 19:4-6 – “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”
Vergelyk ook Matt. 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
Reeds aan die begin van die reeks oor “RESPEK” het ons waargeneem dat ons na die beeld van God geskape is. God dink só baie van die mens dat Hy hom met Sy beeld vertrou. Die mens het egter as gevolg van die sonde, uit pas geraak met God se bedoeling vir die lewe van die mens en dit geld vir die huwelik ook. Respek vir mekaar as huweliksmaats, begin om aan die hand van die Bybel, God se beeld te verteenwoordig deur na mekaar se harte te luister. Jesus verklaar dat die huwelik deur God ingestel is. God maak die reëls, nie mense nie. Dit was God wat hierdie verbinding tussen één man en één vrou moontlik gemaak het (Gen 2:18). Dit was God wat Eva na Adam gebring het (Gen 2:22). Maak nie saak hoe mense redeneer om God se instelling af te maak as ‘n eenvoudige romantiese uitvindsel, of metode van sosiale beheer nie. Dit kan nie na willekeur afgemaak word as “outyds” of redenasies van “dit werk nie meer so in die nuwe millennium nie.” Dit is redenasies TEEN GOD SE WIL en teenstrydig met respek vir die huwelik!
Die huwelik is ook ingestel tussen een man en een vrou “en hulle twee sal een wees.” Poligamie, homoseksualiteit of enigiets anders wat teen God se instelling van één man en één vrou, indruis, is die gevolg van sonde. Die huwelik is en bly ‘n heilige instelling van God en daarom is egskeiding slegs in uitsonderlike gevalle toelaatbaar maar nie noodwendig noodsaaklik nie. Huwelike waar mense nie by mekaar aanpas nie of waar die liefde “gesterf” het, het nog nie misluk nie – die mens het misluk - respek vir die huwelik het misluk - respek vir God se instelling het misluk! Die liefde van 1 Kor. 13 is nie meer van toepassing by huweliksmaats nie en dan word God verkwalik omdat Hy kwansuis die breuk bewerkstellig het – “Here, hoekom het U nie tussenbeide getree toe U gesien het dat ons huwelik aan’t verbrokkel is nie?” Dit is nie God se skuld nie. God huil saam met duisende geskeides wat die pyn van egskeiding moet verwerk.
Soms slaan ruwe storms teen ons huweliksbootjies vas en voel dit asof alles uitmekaar gaan breek. Ons Christene ken mos die Man wat op water kan loop en enige storm kan stil maak! Moenie dat die son oor jou “storm,” oor jou woede, ondergaan nie. “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel ‘n vatkans gee nie” (Ef. 4:26). Om kwaad bed toe te gaan beteken satan het sy sin gekry. Dit beteken nie om te wag totdat die “storm” eers uitwoed voordat jy gaan slaap nie, na vier dae begin mens nogal vaak raak. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kol. 3:13).
Die huwelik is onverbreekbaar en ons moet dit respekteer – “Wat God saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie” (Mark. 10:9). Egskeiding behalwe oor owerspel, los nie die probleem op nie. Die probleem lê nie in die huwelik nie maar in die egpaar van die huwelik en ‘n mens kan homself nooit ontvlug nie, behalwe natuurlik deur die dood. Ons howe is vandag oorvol a.g.v. egskeidingswette wat elasties, vergunnend en maklik geword het. Die slegte daarvan is dat almal daaronder ly – mans, vrouens, kinders, familie en selfs vriende.
Niemand gaan deur die trauma van ‘n egskeiding sonder dat daar diep letsels gelaat is nie. “God haat egskeiding. God sê egskeiding is niks anders as geweld nie” (Mal 2:16). Richard Foster het die volgende bygevoeg: “It is true that in the absolute will of God his creative intent is for marriage to be a permanent ‘one flesh’ reality that should never be severed.” Die ou mense het altyd gesê: “In die huwelik is daar na omtrent ‘n maand, redes vir egskeiding. Die geheim is om te soek en aan te hou soek na redes om getroud te bly.” Dit is belangrik om nie net die regte maat te kies om mee te trou nie, maar om die regte maat ook te wees. Het ons nog respek vir die huwelik? Is ons nog in staat om daardie basiese oorgawe aan God te maak voordat enige “ja maar” aangevoer word? Of soek ons maar die eerste beste mensgemaakte “oplossing” wanneer dinge verkeerd loop in die huwelik?
“Die huwelik halveer probleme, verdubbel vreugde en verdriedubbel die uitgawes”
(Engelse spreekwoord)
Gebed: Here, as U die huis nie bou nie, swoeg ek wat daaraan bou tevergeefs. Daarom draai ek na U toe en pleit dat my lewe tog nie tevergeefs moet wees nie. Ek bely dat ek baie van my dae ombring deur eie planne te maak, maar op die einde van die dag is dit planne wat tevergeefs was. Help my om nie op my eie kragteloosheid staat te maak op die herstelpoging wanneer onenigheid in my huwelik plaasvind nie, maar dat ek vashou aan U as my reddingsboei. Dankie dat U nooit ophou om aan my huis en huwelik te bou nie. Vul dié wat nogtans skei en wat reeds geskei is, met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde wat altyd trou bly. Amen.