top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

"Die mens in studs"


WEEK 4 – RESPEK VIR RANDFIGURE (4) (Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)


Luk. 4:16-30 – “Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”


Vergelyk ook Jak. 1:22-25 – “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”


Ons gemeente is tans besig met die vierde week van die reeks wat handel oor RESPEK. Deel van die reeks sluit in ‘n “RESPEK-CREDO” wat ons verskeie kere al saam met ons leraars gelees het. Ek plaas graag die Credo vir ons E-Kerk lesers: *Ons glo in God Drie-enig, totaal anders, heilig en rein, en Hy is alle lof, eer en aanbidding waardig. *Ons glo dat God elke mens geskep het na sy beeld; daarom is elke mens waardevol. *Ons bely dat Jesus waarlik mens kom word het om mense uit die mag van sonde te bevry. *Ons glo dat ons in Christus ‘n nuwe identiteit het – Koningskind – uitverkies en geliefd. *Ons erken dat ons geroep is om, net soos ons Here, almal wat na sy beeld geskape is, met deernis nederig te dien. *Ons glo in die Heilige Gees, ons Trooster, wat ons leer om soos ons Leermeester te leef. *Ons bely dat ons hoogste roeping is om liefde sonder onderskeid aan alle mense te betoon: in ons huise, kerke, strate, stede en land. *Ons glo in genade, ons beoefen geduld, ons dien en ons vergewe. *Ons verklaar dat liefde altyd sal wen. *En hierop antwoord ons almal: AMEN, OOK VIR MY.


‘n Credo met pragtige woorde maar wat beteken dit as dit nie toegepas word nie? Jakobus sê ons “moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie.” Ons kyk in die Bybel en na die Credo, moet tot iets verder lei – aksie, gehoorsaamheid. Dit help nie as ons daaglikse Bybellees en net die boekmerk verder en verder aanskuif nie! Jy moet hóór wat jy daar lees. Jy word nie ewe skielik 'n ánder mens wanneer jy op jou knieë gaan of wanneer jy die Bybel oopmaak of ‘n reeks oor respek voltooi het nie. Ons moet as't ware die alledaagse lewe en verhoudings met mense toepas – alle mense, selfs die boemelaar, die gevangene, die “carwatch”, die persoon met al die tatoeëring en “studs”, want Jesus sê so en ons erken dit deur die Credo: “Ons erken dat ons geroep is om, net soos ons Here, almal wat na sy beeld geskape is, met deernis nederig te dien”.


As gelowiges moet ons ons nie blind staar op die kennis van die woord nie en dit nie dóén nie, dan “bedrieg ons onsself.” Om die woord net te hoor is nie genoeg om ons saak met die Here te bevorder nie. Om Sondag na Sondag te luister na die woord en fantastiese reekse wat handel oor diensbaarheid te voltooi, en dit dan nie toepas in ons daaglikse gang van die lewe nie, baat niks. Die woord moet nie op die kerkbank agtergelaat word nie maar van die “kerkplek” na die “werkplek” toe geneem word. Wat Jakobus onderstreep is dat die inhoud van God se wil nie vir ons rekening is nie, maar dat ons dit moet leef en vestig anders is ons besig met selfbedrog. Geloof sonder dade is nutteloos!


Ons moet geboë na die Woord kom. Gebuig voor die Here met ‘n ootmoedige en ontvanklike gees en gesindheid en besef van ons eie onvermoë. As gelowiges behoort ons dag vir dag en in alle omstandighede, op die regte manier aan God se woord onsself te toets. Sy woord is soos ‘n spieël waarin ons kyk en nie net ons bekende self raak te sien nie. Dit is om met onderskeidingsvermoë te kyk en genoeg detail te sien en dit te onthou. Dit is om ons vooroordele raak te sien, daarvan ontslae te raak en met liefde, vir God en ons medemens, die randfigure, raak te sien. Dit is om die seënuitspraak van “gelukkig wees in wat ons doen” dan te kan ervaar.


“Wie Jesus se voorbeeld wil volg, moet besef dat diens aan God en diens aan die nederigste medemens vir Hom een en dieselfde ding is” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Here, daar word gewoonlik baie vrae gevra omtrent U woord. Sommige mense redekawel selfs daaroor. Menigte glo dit is net ‘n storieboek maar ek weet dit is lewende woorde want dit kom van U af, my lewende Almagtige God. Here, ek wil U woord dóén. Ek wil nie net ‘n leerder van die evangelie wees nie maar ‘n dissipel – dissipel wat nie net hoor en glo nie maar doen en uitleef. Dankie dat ek in staat gestel word deur U wat my krag gee want alleen sal ek dit nóóit regkry nie. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page