E-Kerk - Gedagte vir Vandag

WEEK 1 – DIE EFFEK VAN RESPEK (2)
Fil. 2:5-11 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was .....”
Vergelyk ook 2 Kor. 5:17 – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.”
Wanneer Paulus oor Jesus gedink en praat het, het hy meestal die praktiese toepassing van Jesus se aardse lewe beklemtoon. Jesus moet nie net aanbid word vir alles wat en wie Hy is nie, Sy voorbeeld moet ‘n daaglikse norm word wat deur gelowiges toegepas word. Hierdie norm kom nie vanself nie en al probeer ons Jesus naboots deur Sy doen en late tot in die fynste besonderhede te bestudeer, is ons eintlik in ‘n doodloop straat. Ons het hulp nodig!
Jesus het harte van mense aangeraak en respek afgedwing deur Sy nederige benadering en Hy het dit toegepas tot Sy aardse dood toe. Sy liefde en voorbeeld was en is steeds eienskappe wat ons nie kan weerstaan nie. Wanneer ons soos Hy wil wees, moet ons bereid wees om nuut gemaak te word. Om “aan Christus te behoort” beteken meer as om verstandskennis te hê van Hom. Dit beteken om in ‘n verhouding met Hom te wees. Álles verander dan! My uitkyk, hoogmoed, onbedagsaamheid, ekkigheid, hardekwas-geit, alles verander want ek het ‘n nuwe natuur ontvang en ”dit alles is die werk van God.”
Paulus gaan verder deur vir ons die praktiese implikasie van Jesus se voorbeeld uit te spel: “Julle moet meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig en vergewe mekaar en bo dit alles moet julle mekaar liefhê” (Kol. 3:12-14). Ons vernuwing is nie net ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar ‘n proses wat tot aan die einde van ons lewe moet voortduur. Wanneer ons onsself aan God as “lewende offers” gee, “vernuwe Hy ons denke” en dan kan ons “onderskei wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1-2). Dan het ons ‘n hartsverandering ondergaan en kan ons met “Christusharte leef”. Dan kan ons optree soos nuwe mense wat deel van God se gesin is, mense met respek vir ander, mense wat onvoorwaardelike respek gee en nie respek terug verwag nie.
Hoe gaan ons dit alles regkry? Ons het hulp nodig! Die enigste manier waardeur Christus se gesindheid ook ons s’n kan word is wanneer die Heilige Gees dit in ons werk. Ons moet ons deur die Gees laat lei (Gal 5:16 en verder). Die Gees moet ons gedrag bepaal want ons swig só maklik voor sondige begeertes as gevolg van ons sondige natuur. Onder die Gees se leiding raak ons nie slawe van die sonde nie en dan begin ons mekaar met respek behandel. Die vrug van die Gees verander ons harte en laat toe dat ons sondige natuur met al sy slegte hartstogte en begeertes gekruisig word. Ons behoort dan aan Christus en dan daal ons nie tot ‘n moddervlak nie. Ons laat dan toe dat die “sap” vanuit die “wortels” opstyg deur die “stam” sodat ons goeie vrugte kan dra – goeie vrugte wat respek afdwing want ons leef met “Christusharte!”
“Liefde vir God is die wortel, liefde vir ons naaste is die vrugte van die boom van die lewe. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie” (W. Temple).
Gebed: Onse Vader wat in die hemel is, dit is droewig maar ons moet erken dat ons in ‘n wêreld leef waarin die gesindhede en gedrag van baie mense, veel te wense oorlaat. Dit is verstommend dat baie van hierdie mense, Christene is – U verteenwoordigers, geskep na U beeld – Christene wat prooi geword het van die “almal-doen-dit-tog” sindroom. Here, skenk ons die vergewende liefde en gesindheid van Jesus sodat ons die magte van die bose kan oorwin. Amen.