E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE GENESING OP DIE SABBATDAG BY BETESDA (2) – DIE SABBATDAG
Joh. 5:9b-10 – “Dit was ‘n sabbatdag. Die Jode sê toe vir die man wat genees is: ‘Dit is ‘n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.”
Vergelyk ook Kol. 2:14 en 16 – “God het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.”
Jesus gee aan die hulpelose en hooplose man by die Betesdabad ‘n nuwe kans. Daar was egter een probleem: dit het op die sabbatdag gebeur. Dit het beteken dat Jesus se gesondmaking asook die man se optrede toe hy sy beddegoed gedra het, met die Joodse sabbatsreëls gebots het.
Dit is sabbat in die heilige stad Jerusalem op‘n heilige tyd tydens ʼn heilige fees. Die geneesde man loop hom vas in die gevreesde antagoniste, die tempelpolisie, wat hom dadelik vaspen en aankla dat hy die heilige sabbat oortree en dat dit onwettig is – tegnies gesproke verdien hy die dood. Die geneesde man sê toe vir hulle dat iemand hom genees het en hom beveel het om sy goed op te tel en te loop, en dit is presies wat hy gedoen het. Hy is net so verbaas soos hulle!
Nadat die Jode uitgevind het dat Jesus verantwoordelik was vir die oortreding van die sabbatsreëls en tradisies, konfronteer hulle Hom – gevolglik was dit soos ’n oorlogsverklaring deur die Fariseërs. Hier word die eerste klagte op die klagstaat teen Jesus geformuleer – daardie klagstaat wat uiteindelik tot Sy kruisdood sou lei. Jesus se argument is dat hulle die punt mis. Hulle fokus op die reëls wat gebreek is, maar mis die feit dat die skeppings-God herskeppend, helend en genesend rondom hulle aan die werk is. Terloops, al vier die Evangelies getuig van Jesus wat dikwels wondertekens op die sabbat gedoen het. Sy dissipels het ook op die sabbat koring versamel sodat hulle iets het om te eet (Mark. 2:23).
Jesus het die Joodse sabbatswet kom breek, maar hy het die ware bedoeling daarvan weer kom herstel. Jesus se strydgesprek met die godsdienstige leiers was nie om Sy eie eer te laat toeneem nie, maar om God se waarheid in die openbaar te laat seëvier. Die Jode was so gefokus op die doen van die wet dat hulle dikwels die doen daarvan bo die liefde en die omgee van mense gestel het. Hulle sou dus eerder by die letter van die sabbatswet bly en iemand wat die sabbat oortree het vermoor, as wat hulle sou toelaat dat ‘n persoon wat siek is genees kan word. In kort sê Jesus dus vir die Fariseërs dat die Sabbat bedoel is om ’n seën te wees en nie ’n las nie.
Jesus het die Jode kom wys waar die hart van God is en waar hulle harte nie meer was nie. Jesus het kom wys dat die Sabbat minstens ‘n dag is van diens en van verhoudings. Dit is ‘n dag waarop God en mense in die fokus is en nie dooie reëls nie. Jesus het kom wys Hy is Here oor die Sabbat en dat elke dag eintlik ‘n Sabbat is – ‘n dag wanneer God verheerlik word en goeie dade teenoor ons naaste, gedoen word. Jesus het dit nie teen die sabbat gehad nie, Jesus het dit teen die verkeerde verstaan van God se bedoeling daarmee gehad. Hy het dus nie gekom om die wette af te skaal of tot niet te maak nie, maar juis sodat dit tot hulle volle betekenis kan terugkeer (Matt. 5:17).
Vir die eerste Christene was elke dag ‘n dag van Godverheerliking en naastediens. Die sabbat was nie meer net een dag nie maar elke dag van die week. Indien ons dus vandag nuwe reëls opstel van dingetjies wat ons mag en nie mag doen nie, mis ons die punt en vergeet ons die radikale optrede van Jesus – die Seun van God wat met sy optrede nie die wet kom ophef het nie, maar kom wys het dat die spelreëls verander het – inteendeel, die ganse spel van die ganse lewe het verander. Mag ons herinner word dat Jesus ons kom wys het dat elke dag ‘n sabbat is en dat die sabbat wesenlik ‘n dag van Godverheerliking en naastediens is.
Ons moet God elke dag aanbid, nie net Saterdag of Sondag nie. Ons as Christengelowiges gebruik wel Sondag as ‘n spesiale dag. Dit wys heen na Christus se opstandingsdag en ons as gelowiges is almal in afwagting op die wederkoms van Christus. Ons kerkbywoning dien dus o.a. as aanmoediging en bemoediging vir mekaar om te volhard op hierdie pad van heiligmaking, sodat ons die koms van Christus met opgewonde afwagting tegemoet kan gaan. Om God Drie-enig te aanbid is van kardinale belang vir elke gelowige – dit is en behoort ons primêre fokus te wees. Om Sondag deur te bring as ’n spesiale dag, toegewy aan God, hou ongetwyfeld geestelike groei vir elkeen in. God se Woord is die primêre wyse van genade en geestelike groei in en deur ons lewens en daarom behoort elke preek, vir elke lidmaat, ’n besondere Woord van die Here in te hou wat goed en nodig is vir ons geestelike welsyn. "Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan” (Heb. 10:25).
Ons ontvang baie spesiale seën van God, want God het ’n wonderlike belofte aan ons gemaak indien ons Sy Rusdag sal gedenk: “As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê (Jes.58:13-14).
“Die rus van die sabbat word nie verkry deur in ‘n bed te lê en slaap, of in die tuin in die natuur rond te dwaal nie. Elke mens in verhouding tot sy arbeid van die week, het besondere inspirasie en opheffing nodig wat verkry word deur openbare aanbidding van die lewende God in ‘n kerkgemeenskap waar die ware Woord verkondig word” (Henry Ward Beecher).
Gebed: Here, daar was ‘n tyd toe ons voorouers en ouers in die geloof by U krag gevra het om volgens U wette te leef. Dit was vir hulle ‘n voorreg om op Sondag in die kerk byeen te kom. Maar Here, daar is so baie wat U deesdae “vervelig” vind en eerder die samekomste verruil vir ander aktiwiteite. Ons bid vir almal wat onverskillig geraak het in hulle geloof en wegbly van die samekomste van die gemeente af. Weerhou ons daarvan om meer te dink van onsself as aan U; meer ingestel is op gemak en voorkeur as op suiwer woordverkondiging; aanbidding meer ‘n saak van gerief as gewete word; eerder ‘n kwessie van behoeftebevrediging word as diens en ons eerder ons Sondag aanwend vir iets anders as om met die bywoning van die erediens, ons geloof in en liefde vir Jesus Christus betoon. Skenk ons ‘n nuwe hart o Heer,’n Christushart. Amen.