top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (11) – GELOOF EN OORDEEL


Joh 3:17-18 – “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.


Vergelyk ook Heb 11:1 – “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”


Johannes sê hier nie dat God die ongelowige mens veroordeel en die gelowige vryspreek nie, maar hy verklaar hoe die oordeel werk. Deur die koms van die Seun word die mens voor ’n beslissing gestel. Hy kry die geleentheid om te glo of om te verwerp. Op grond van die mens se keuse kom daar skeiding.


Wat is geloof? Die Hebreërskrywer het ‘n poging aangewend om geloof te definieer in Hebreërs 11:1; Oswald Chambers het in die 19de eeu al gesê: “Geloof kan nie gedefinieer word nie, dit is ‘n geskenk van God self, waarvan ek net kan sê dat dit my die vermoë gee om God agter alles te sien, en wat my vul met die verwondering van ‘n kind”; Martin Luther se weergawe: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie, wat jy wel sien”. Daar is ook al duisende boeke oor geloof geskryf deur die eeue – soveel boeke, soveel menings! Jesus stel dit eenvoudig in die Boek van die lewe: As jy nie in Hom glo nie sal jy die gevolge van die oordeel moet dra. Jy hoef nie eers te wag tot die oordeelsdag om dit te hoor nie. As jy “nie in Jesus glo nie, is jy reeds veroordeel omdat jy nie in die enigste Seun van God glo nie.”


Ons weet dus in Wie ons moet glo, maar wat is geloof? Geloof is nie 'n lekker gevoel nie of 'n werk wat ek moet doen nie. Geloof is om die geskenk van God se genade met leë hande te ontvang. Ek kan niks tot my verlossing bydra nie. Dit werk nie so dat hoe meer ek glo, hoe meer sal Christus vir my aan die kruis sterf nie. Geloof is nie net om te weet dat Christus vir jou aan die kruis gesterf het nie. Geloof is om Hom met jou hele lewe te vertrou. Geloof is om ‘n persoonlike verhouding met die Here te hê.


Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie glo in Jesus Christus nie? Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie seker is van jou verlossing in Jesus Christus nie? Nee!! Jesus sê vir ons dat ons geloofsekerheid kan hê en in duidelike taal beklemtoon Hy dit in Johannes 3:16: “...sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Hier staan nie “miskien die ewige lewe sal hê as julle eers nog 'n hele klomp dinge op aarde gedoen het nie.” Nee, alle mense wat dit glo, is reeds besig om vir ewig te lewe. Ek gaan nie hemel toe omdat ek so 'n goeie Christen is nie. Ek gaan hemel toe omdat ek die beloftes van die Woord persoonlik aanvaar het.


Ek het nie geloofsekerheid omdat ek gereeld kerk toe gaan en my bydraes gee; of omdat ek voel dat God by my is; of omdat ek my Bybel lees. Dit is nie die redes nie. Die Woord van God sê dat 'n mens geloofsekerheid het, omdat jy in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser glo en ‘n persoonlike verhouding met Hom het. Daar is egter sommige mense wat geloofsekerheid het, maar nog steeds bang is vir die oordeelsdag. Wat sê Jesus hier as troos: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie”. Vir dié wat in Christus is, is daar geen veroordeling nie. Ons wat in Christus glo kan uitsien na die oordeelsdag, want die oordeel oor sondes is reeds deur Christus gedra. Die oordeel gaan of ons in Christus glo. Sy kruis staan bo-oor ons sondes geskryf!


Mense wat waarlik in Jesus Christus glo kan nie anders as om vir Hom dankie te sê met hulle lewens nie. Ons lewe nie in gehoorsaamheid aan Hom om daardeur op te klim na die hemel nie. Ons doen dit omdat Hy dit alreeds vir ons alles moontlik gemaak het. Mense wat nie dankie sê met hulle lewens nie, verstaan nog nie wat Christus alreeds vir hulle gedoen het nie. Daarom moet ek groei in die geloof. Ek moet meer tyd spandeer saam met God – gesels oor God, saam Bybel lees, saam bid, saam geestelike byeenkomste bywoon.


In hierdie Kersfeestyd is dit ideaal om oor Jesus Christus te gesels. Veral in die vakansietyd het mense meer tyd om na te dink oor geloof. Dit is ’n tyd wanneer ouers meer tyd het om saam met hulle kinders te spandeer. Gebruik hierdie tyd om ook oor geloof in Jesus Christus te gesels. God se wens is dat elkeen van ons sal kan antwoord op Sy genade - dat ons ‘n persoonlike verhouding met Jesus sal hê en deur die Heilige Gees sal groei in daardie verhouding. “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”


“Geloof wat net bely maar nie ook geleef word nie, help niks” (Charles Spurgeon).


Gebed: Here, Paulus sê vir ons dat niemand teleurgestel sal word as ons in Jesus Christus glo nie. Dit is wonderlik om te luister na dié wat die goeie boodskap van die Woord bring, te luister na hulle wat deur U gestuur word om te preek. Wanneer hulle preek hoor ons van U en dit bring ons tot geloof in U sodat ons U kan aanroep (Rom 10:11-15). Dankie Gees van God dat U ons in die waarheid lei sodat ons ons geloof in Jesus Christus kan lééf en dóén, al maak ons foute. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page