E-Kerk - Gedagte vir Vandag
JESUS EN NIKODEMUS (8) – DIE LIEFDE VAN GOD (2)
Joh 3:16 –“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Vergelyk ook Jes 9:5 – “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (’53)
Dit is tradisie in baie Christen gesinne en selfs heidene se huise, om op ou-Kersaand geskenke uit te deel. Vanaand gaan heel waarskynlik ook nie anders wees nie en miljoene kindertjies se hartjies gaan juig van blydskap en hul gesiggies straal van vreugde oor hul geskenke. Dit is die hoogtepunt van die jaar en baie families kom rondom die fraai versierde Kersboom byeen, almal is gelukkig en die bekommernisse word eers eenkant toe geskuif. Dit is ‘n demonstrasie van liefde vir dié vir wie ons omgee. God het ook omgegee en ons die grootste geskenk óóit gegee. Hy het almal “so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het.” Hierdie Geskenk het selfs ‘n belofte by: “dié wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie maar die ewige lewe hê.”
Asemrowend mooi! “God het die wêreld lief.” Graag praat ons oor God se liefde. Luister gretig na preke oor die liefde. Ons belydenis “God is liefde” laat waarlik ons harte juig. Tog bestaan die gevaar dat ons God se liefde as vanselfsprekend aanvaar. Dat ons nie meer opgewonde raak oor die feit dat God ons liefhet nie. Dat die oorbekende troos- en hartswoorde van Johannes 3:16 nie meer enige reaksie wek of effek het nie. Dat die Here se intieme liefdesverklaring by baie verbygaan. Ons hoor dit, ons weet dit, maar dit sink nie in nie! En die gevolg? Kort voor lank word jou hart louwarm en begin jy jou eerste liefde verlaat!
As Jesus dus vir Nikodemus sê: “God het die wêreld so liefgehad”, verkondig Hy die beste nuus wat die wêreld ooit kon hoor. Dis asof die wêreld eerder begeer om so ver as moontlik van God af te leef, maar God gryp in. Hy sê as’t ware: “STOP! Ek het jou lief. Julle wil ver van My af wegkom, maar Ek sal dit nie toelaat nie. Ek sal my Seun stuur om te ly en te sterf, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê ... WANT – Ek het die wêreld so lief!” Dink daaroor. Die wêreld was sonder God en sonder hoop, maar Hy het die wêreld lief.
Wanneer dit jou hard tref en jy dit nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie, dan wil jy dit uitjubel en uitsing: God het die wêreld lief en ek is deel daarvan! Hy het my nie oorgegee aan my sonde en die ewige dood nie, nee, Hy het my lief! Hy het dit aan my bewys. Elke jaar wanneer jy Jesus se geboorte op Kersdag vier, ontdek opnuut Sy teenwoordigheid – Immanuel, God met ons. Indien jy nie een van die geskenke ontvang wat onder die kersboom was nie, onthou dat dit nie jou verjaarsdag was nie en buitendien het God jou die grootste Geskenk ooit gegee......
“Al word Christus duisend maal in Bethlehem gebore, maar nie in jou nie, bly jy verlore” (Angelus).
Gebed: Wonderbare Raadsman, dankie dat ons weer die Christusfees kan vier. Vul ons met die vrede wat net U as Vredevors kan gee. Laat die vertroosting van U, Heilige Gees, die deel wees van almal wat met onrus en ongeloof in hulle harte worstel. Vergewe almal, genadige Vader, wat hierdie vreugdevolle feesdag vir hulle eie kortsigtige plesier gebruik en nie tot die eer en verheerliking van u Naam nie. Amen.