E-Kerk - Gedagte vir Vandag

"VOLG MY"
DIE EERSTE DISSIPELS (3) – VOLG MY!
Joh 1:43-46 – “Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: ‘Volg My!’ Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: ’Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.’ Maar Natanael sê vir hom: ‘Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?’ ‘Kom kyk,’ het Filippus hom geantwoord.”
Vergelyk ook Luk 4:16-17 – “Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.”
Die vyfde dag van die eerste week ten tye van Jesus se doop, besluit Hy dat Hy Galilea in die Noorde toe wil gaan. Daar waar Hy opgegroei het, wil Hy met Sy openbare werksaamhede begin. Intussen was daar reeds ‘n klein kring van volgelinge wat by Jesus aangesluit het. Jesus neem nou die inisiatief om nog ‘n volgeling te roep. Filippus word met twee woorde, “VOLG MY”, oorreed om alles te verlaat en Jesus te volg. Filippus was heel waarskynlik bekend aan Petrus en Andreas en was deel van ‘n reisgeselskap vanaf Betsaida om na die Doper se prediking te luister.
Volgens beskikbare gegewens blyk dit dat Filippus ‘n man was van gemiddelde bekwaamheid en verstand. Hy was iemand wat gou in verleentheid kon raak maar selfs iemand met geen besonderse begaafdhede word deur Jesus tot seën gebruik. Net soos Andreas kon Filippus nie die goeie nuus vir homself hou nie en gaan vertel hy vir sy goeie vriend Natanael dat hy Jesus gevind het.
Soos Andreas en Petrus tot die oortuiging gekom het dat Jesus die Messias is (v 41), kom Filippus tot dieselfde gevolgtrekking, maar hy doen dit nie net omdat hy met Jesus ’n gesprek gehad het nie, hy vind die bevestiging in die getuienis van die geskrifte van Moses en die profete. Hy is oortuig dat “Jesus van Nasaret, die seun van Josef”, die Een is na wie die uitsprake van die Skrifte heenwys.
Natanael ken self ook die Skrifte en weet dat nêrens gesê word dat die Messias uit Nasaret sou kom nie. Trouens, Nasaret word nie eens in die Skrifte genoem nie. Buitendien ken hy, wat van Kana naby Nasaret kom, die klein plekkie goed, en vir hom is dit menslik onmoontlik dat iets goeds daaruit sou kan kom. Met Skrifbewys en goeie argumente verwerp hy dus die nuus wat Filippus gebring het. Sonder om te argumenteer, het Filippus net een antwoord: “Kom kyk!” In die teenwoordigheid van Jesus verloor verstandelike besware hulle betekenis.
Jesus kom nog steeds na elke individu en nooi ons uit om Hom te volg. Elkeen met sy eie unieke identiteit, eie kragte, gawes en vermoëns, foute en mislukkings en selfs geskiedenis van sonde. Filippus was ‘n doodgewone mens – daar word net twee keer na hom verwys in die Evangelies – maar tog nooi Jesus hom om ‘n dissipel te wees. Filippus het egter van toeskouer na deelnemer verander in die bediening van Jesus en dadelik ander die “goeie nuus” gaan meedeel.
Jesus nooi hoofsaaklik nie belangrike mense uit om Hom te volg wat ander tot Christenskap in kan argumenteer nie. Inteendeel, om ander met argumente in geloof in Christus in te dwing, doen meer skade as goed. Die enigste manier om iemand na Christus te lei is om hom te konfronteer met Christus – “Kom kyk”, dit is die Man van die kruis! Daarvoor is meestal doodgewone mense, die Filippusse van hierdie wêreld, goed genoeg. Dit is juis diegene wat nooit die opskrifte haal nie wat Jesus hul alledaagsheid wil vul met ongekende betekenis, hoop en heerlikheid. Klink dit vir jou asof Jesus jou roep?
“Om die Goeie Nuus te hoor, is maar die begin. Die res van ons lewe is hoe ons daarop antwoord en reageer” (William Countryman)
Gebed: Here Jesus, seën ons doodgewone volgelinge. Kap die stukke van ons af wat nie soos U lyk nie. Vind my, roep my, gebruik my, al is ek stukkend en vergruis deur my sonde. Met U eenvoudige taal “Volg My” skryf ons so maklik met verskoning taal bo-oor U lewende woorde. Jesus, maak ons gehoorsaam aan U uitnodiging sodat ons kan luister en leef. Amen.