E-Kerk - Gedagte vir Vandag

Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (8)
Jak 5:16b-18 – “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.”
“Die gebed van die gelowige het ʼn kragtige uitwerking.” Jakobus illustreer dan dit met die verhaal van Elia. Gróót dinge gebeur wanneer God se kinders bid. Nie omdat hulle gebede vanself iets beteken of self een of ander krag het nie. Maar omdat die Here met kragtige werkinge antwoord wanneer gelowige mense ernstig bid. Gebed is soos ’n sleutel wat die Here vir ons gee waarmee ons as’t ware iets van Sy geweldige krag oopsluit, sodat dit in hierdie wêreld begin werk.
Elia het inderdaad ernstig gebid, sê Jakobus. Hy het tot op die grond neergebuig met sy kop tussen sy knieë en gebid. Baie mense se gebede gaan gepaard met emosionele uitbarstings. God verhoor die gebed nie oor hoeveel trane gestort is nie. Hy verhoor die gebed op grond van die werk wat Jesus Christus as Verlosser vir die regverdige gedoen het.
Elia was ʼn legendariese persoon onder die Jode – iemand na wie daar deur die geskiedenis heen verwys is. Alhoewel Elia so bekend is en die Here so baie wonders deur hom gedoen het, was hy tog maar net ’n mens soos ons. Elia kon tot die hoogtes van geloof en toewyding uitstyg (1 Kon 18:36-38) en in die dieptes van moedeloosheid en depressie verval (1 Kon 19:4). Hy kon by tye dapper en onwankelbaar wees (1 Kon 18:17-19) en dan weer vir sy lewe vlug net op grond van ’n gerug (1 Kon 19:3). Hy kon onselfsugtig wees in sy besorgdheid oor ander (1 Kon 17:19-24) en dan weer vervul wees met selfbejammering (1 Kon 19:10).
Elia het nie ’n beter kans by God gehad as ons wanneer dit by gebed kom nie. Sy geloofslewe het ook maar op en af gegaan. Die mense wat in die Bybel uitstaan, was nie superwesens nie, maar mense soos ons. Hulle staan nie uit omdat hulle vanself iets besonders was nie, maar bloot omdat die Here dit goedgedink het om hulle op besondere maniere te gebruik. Dit gaan hier oor die gebede van gelowiges soos ons.
Jakobus skryf vir gewone lidmate van ’n gewone gemeente – hulle moet bid as hulle siek is; gewone ouderlinge wat vir lidmate wat siek is, moet gaan bid; lidmate met sondes wat hulle sondes moet bely en vir mekaar moet bid; die regverdiges is nie ’n handjievol super-vromes wat iewers in ’n klas van hulle eie leef en spesiale soort gebede bid nie, dit is gewone gemeentelede en gewone ouderlinge waarvan hy praat. Mense wat gedoop is en wat in die verbond opgeneem is. Mense wat opreg in die Here glo en wat probeer om te leef soos wat Hy wil hê dat hulle moet – mense soos ons.
Is dit dan nie hoe ons is nie? Dis tog die kardinale punt van die evangelie, van die blye boodskap wat die Bybel bring: dat ons regverdiges is – dat ons saak met God reg is – nie omdat ons eie lewens so skoon en so edel is nie, maar omdat die Here Jesus in ons plek, veral toe Hy aan die kruis gehang het, alles by die Vader reggemaak het wat ons met ons vuil en sondige lewens verbrou het.
Omdat ons in Jesus Christus al ons vertroue stel en omdat ons met Hom beklee voor die Vader as regverdiges mag verskyn, is daar vir ons geen rede om ooit te dink dat ons gebede minderwaardig sal wees nie. Dit is Christus wat jou waardig maak om met God in gebed te praat. Die uitwerking van jou gebed is immers ook nie van jou vermoë afhanklik nie maar van God se vermoë. En God is almagtig. Die vereiste vir ’n ernstige gebed is om God aan te roep omdat jy Hom en sy beloftes regtig ken en weet wat Hy wil bereik.
“Indien God jou lewensvriend is, sal jy baie gereeld met Hom wil praat” (William Barclay).
Gebed: Dankie Here dat enige gelowige in Jesus Christus met dieselfde vrymoedigheid en vertroue as Elia die gebed kan opneem en direkte toegang tot U mag hê. Mag die Heilige Gees aan elkeen van ons ’n ryk en vol gebedslewe gee – gebedslewe vol vreugde omdat ons sien hoe God Sy plan tot uitvoer bring terwyl ons maar net in Sy skaduwee staan en Hom vra om dit te doen. Amen.