top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Nov 15, 2016
  • 3 min read

Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (7)


Jak 5:13 en 16b – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.


Vergelyk ook Jak 5:16b (1953 vertaling) – “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.”


Om regverdig te wees verwys ook na ons lewenswandel. Daarmee word egter nie bedoel dat ‘n mens volmaak moet wees nie, want dan het niemand ooit gekwalifiseer nie. Dit verwys na iemand wat opreg voor die aangesig van God probeer lewe. Deur die kragtige werk van die Heilige Gees soek hy die onreg en sonde in sy eie lewe om dit voor God te bely. Hy streef daarna om in elke faset van sy lewe God te verheerlik deur gehoorsaam te lewe.


‘n Regverdige mens kan dus nie ‘n sondelose mens wees nie, want dan sou geen mens tot God kon bid nie. Regverdige mense nader God in gebed slegs op grond van die waardigheid en volmaaktheid van Christus en Sy werk. As ‘n regverdige mens se gebed dan net kragtig is omdat hy met Christus en Sy werk beklee is, volg dit dat die gebed kragtig is in sy uitwerking net omdat God almagtig is.


Ons gebede het nie ‘n inherente krag van sy eie nie. Jakobus wil beklemtoon dat gebed van ‘n regverdige nie maar net ‘n wens is wat jy uitspreek nie. Wanneer ons bid, praat ons met die almagtige Skepper van hemel en aarde, die God wat ons liefhet en ons deur Sy Gees en Woord in Sy teenwoordigheid inroep om Sy genade te ontvang. Dit is juis hier waar ons soms struikel in ons gebedslewe. Ons nader tot God in gebed terwyl ons in die geloof styf vashou aan ons Verlosser, en ons bid opreg en vurig. Maar die Here verhoor nie ons gebed dadelik nie of Hy verhoor dit heeltemal anders as wat ons gevra het.


God wag met die verhoor van die gebed, want Hy wil hê ons moet nederig en vurig bid of om‘n ander rede wat ons nie verstaan nie. God is nie daar om ons tydelike behoeftes, versoeke en soms selfsugtige begeertes in ‘n oogwink te hanteer nie. Hy is ook nie daar om in ‘n japtrap die land en selfs die wêreld se probleme te laat verdwyn nie. Maar die antwoord op ons gebed word nooit teruggehou omdat ons gebed nie goed genoeg is nie. Soms antwoord God glad nie die gebed soos ons gevra het nie. Hy weet immers baie beter as ons wat ons werklik nodig het. Hy weet wat ons nodig het sodat sy plan met die wêreld tot uitvoer kan kom.


Indien jy dalk wonder oor God se liefde en of Hy werklik na ons gebede luister, kyk na die kruis van Golgota. Ons sien menigte kere en ervaar eers later, hoekom God nie ons gebed verhoor het nie of anders verhoor het as wat ons gevra het. Die Here het nie ons gebede nodig om Sy werk te doen nie. Hy is almagtig en voer Sy werk uit soos Hy dit beplan het. Maar op Sy pad met die skepping roep Hy ons sondaars om deel te wees van Sy werk. Hy wil hê ons moet op grond van Sy beloftes en genade Hom vra om Sy wil en doel uit te voer. Hy wil ons in Sy skaduwee hê sodat ons kan sien hoe Hy Sy doel bereik en ons saam met Hom die vreugde mag beleef dat alles gebeur net soos Hy dit wil hê. Dáárom het die “gebed van ‘n gelowige (regverdige) ‘n kragtige uitwerking” – sonder towerformules.


“Die mooiste les wat ek oor gebed geleer het , is om God toe te laat om vir my te kies wat ek regtig nodig het” (Dwight Moody).


Gebed: Dankie Gees van God dat U ons bystaan in ons swakheid. Wanneer ons nie weet wat en hoe ons behoort te bid nie, pleit U vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En God wat ons harte deurgrond, weet wat U bedoeling is want U pleit volgens die wil van God vir ons gelowiges (Rom 8:26). Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page