E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (1)
Jak 5:13 – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.”
Vergelyk ook Ps 34:7 – “Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered.”
Jakobus keer nou weer terug na gebed. In die begin van sy brief het hy die gemeente opgeroep om gelowig te bid sodat hulle gehelp kan word in hul moeilike omstandighede. Later in sy brief waarsku hy hulle teen verkeerde gebede. Nou, ter afsluiting van sy brief, beklemtoon hy die reddende belangrikheid van gebed. Hy bemoedig eintlik sy lesers deur te wys dat die korrekte optrede in swaarkry of blydskap, sal wees om te bid. Slegs deur hul swaarkry of blydskap na God te neem in smeking of lofliedere, kan hulle verhinder om hulle onderling in afguns en konflik te dompel en dalk ‘n skeuring veroorsaak.
Wanneer ons emosionele toestand op ‘n laagtepunt is omdat ons “swaar kry”, moet ons bid! Gebed is dus die aangewese weg wanneer ’n gelowige deur watter omstandighede ookal onder groot druk geplaas word, na God daarmee gaan in die gebed, met vrymoedigheid en sonder om te twyfel ons behoeftes aan God bekend te maak. Dit moet nie die oorsaak word daarvan dat ons begin twyfel aan die goedheid van God sodat die geloof skipbreuk ly en ons dan begin dwaal nie. Daar moet eerder by God aangeklop word om hulp – vir duidelikheid oor die situasie, en as dit nie deur God verander word nie – vir die geduld en volharding om dit te verdra.
In die teenoorgestelde situasie, as alles goed gaan en iemand alle rede het om “opgeruimd” te wees is dit ook nodig om te besin oor wat die korrekte reaksie teenoor God sal wees. In ons vreugde word God dan geloof en geprys. ’n Mens kan soms dinge as vanselfsprekend aanvaar en die goeie gawes geniet sonder ’n gedagte aan die Gewer en die lewe met eie vreugde en plesier wil dien. Daarom is dié voorskrif van Jakobus juis om ons blymoedigheid doelbewus te kanaliseer in “lofliedere”, wat terselfdertyd opregte vreugde uitdruk en erkentlikheid betoon teenoor Hom van wie alle goeie gawes afkomstig is (1:17).
Soms pak ‘n beklemming ons beet en kan ons maar net in magteloosheid toekyk, veral as ons sien hoe siekes of gestremdes of depressiewes of ander getraumatiseerdes, wie se nood ons op geen manier kan wegvat nie, of as daar in ons eie lewe probleme kom waaraan ons niks kan doen nie. Ons voel waarskynlik so wanneer ons vergeet dat ons kan bid en wanneer ons vergeet dat die Here kragtig kan werk en sal werk wanneer Sy kinders ernstig tot Hom bid.
Die Here sê vir ons deur Jakobus dat ons op geen manier meer sal bereik as wanneer ons ons knieë buig, ons hande vou en ons oë toemaak om te bid nie. Is dit nie tog iets wonderliks nie? Wanneer ons op ons swakste lyk – soos wat ’n mens in ’n biddende houding lyk – dán is ons die sterkste wat ons ooit kan wees …
In die wisselende omstandighede van ons lewe is die korrekte en “veilige” optrede, om met ons nood, maar ook met ons lewensblyheid, in afhanklikheid na God te gaan – in dié vorm wat die heersende situasie vereis.
“In gebed leer God ons om te lewe soos ons bid” (Dallas Willard).
Gebed: Here, ek hef my hande op na U in verwondering. Saam met Job roep ons uit: Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder! By U is moed in ruil vir my angs, vrede in ruil vir my hartseer, krag in ruil vir my swakheid, blydskap in ruil vir my hartseer en bowe alles: U is dáár in ruil vir myself! Dankie Here, hoe WONDERBAAR is U Naam! Amen.