top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Sep 22, 2016
  • 4 min read

Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (4)


Luk 18:11-13 – “Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’ Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my sondaar genadig.”


Vergelyk ook Luk 14:11 – “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”


Met hierdie gelykenis het Jesus 'n mededeling gedoen wat in ‘n Jood se oor seker verbysterend geklink het. Jesus bring in Sy storie twee mense kerk toe – ‘n Fariseër en ‘n tollenaar. Dit is eintlik vreemd dat 'n tollenaar hierheen kom, hier waar hy openlik 'n voorwerp van veragting is. Alleen 'n groot nood in die hart moes hom hierheen gedryf het. Die tollenaar staan by almal bekend as 'n verstoteling uit die samelewing. Hy staan in diens van die heidense Romeine wat verdrukkers is van sy volk. Geld is die enigste saak waaraan hy dink. Hy is 'n geharde materialis wat weinig waarde heg aan geestelike dinge. Hy is 'n gehate kapitalis wat net vir homself lewe, en geen middele van oneerlikheid of bedrog of afpersing ontsien om sy doel te bereik nie. Hy is 'n sondaar en hoort in die geselskap van die sondaars. Niemand sien hom ooit op straat bid soos die Fariseër nie.


As ‘n mens nou die twee moet beoordeel wat gelyktydig in die tempel staan en bid, sal die fatsoenlike Fariseër as die godsdienstige man wat weet hóé om te bid, die louere kry. Maar Jesus keer sake volstrek anders om. Hy let nie op die uiterlike van die persoon of sy self-opgeboude reputasie nie, maar op die innerlike gesteldheid van die hart. Die ware godsdiens is immers in die eerste plek 'n saak van die hart. Daarom let Jesus ook op die aard en inhoud van die gebed omdat dit 'n spieël is van die hart. Die Fariseër is ten volle selfversekerd. Hy is ook tuis in die tempel. Daar neem hy sy plek in en spreek sy gebed uit: “Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie”.


Hierdie Fariseër beskou hom beter, nie net as "ander mense" nie, maar as "die ander mense". Sy gelyke is daar nie. Die gelukwensing van homself as godsdienstige mens, ken geen perke nie. En hy verkeer werklik onder die indruk dat God dit alles goed vind. Maar God oordeel anders. Dáár staan ook die tollenaar. Hy het vandag na die tempel gekom om dieselfde te doen as die Fariseër – om te kom bid. Maar hy doen dit anders. Op 'n eerbiedige afstand staan hy, bewus van sy eie onwaardigheid en van die heiligheid van die tempel. Hy waag dit nie eers om selfs sy oë op te hef nie.


Waarop sal hy hom voor God kan beroem? Hy bid eintlik om versoening, om genadige uitwissing van sy sonde en dit terwyl hy niks kon aanbied as 'n prestasie of verdienste van sy kant af, nie. Hy het in die diepte van sy verlorenheid in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Hy reken vas daarop dat die Here in genade sal handel en hom van sy las van ongeregtighede sal bevry. Dit is juis wat gebeur. "Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is” (v 14a).


Vir die Jood was dit ongehoord dat iemand geregverdig kon word sonder dat hy van sy kant iets doen om vir die kwaad te vergoed, of ten minste 'n offer te bring. En nou word 'n tollenaar, van alle mense, geregverdig verklaar alleenlik op grond van sy noodroep om genade. Juis dit wil Jesus aan die hoogmoediges en liefdeloses bekend maak: Voor die aangesig van God word die berouvolle skaamtegevoel oor onsself verander tot die glorie van 'n nuwe dag en 'n nuwe lewe. Maar die hoogmoediges en liefdeloses moet ook weet dat wie soos 'n prins na die Here toe kom, soos 'n bedelaar weggaan, en wie soos 'n bedelaar voor Hom staan, soos 'n prins daar weggaan. "Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word" (v 14b).


“Net die duiwel sien die hoogmoed wat in jou hart groei omdat jy tog só góéd is!” (C.S. Lewis).


Gebed: Ons Vader, dankie dat U na ons versugtinge luister wanneer ons in afhanklikheid en nederigheid voor U buig. Dankie Jesus dat U vir ons die weg oopgemaak het na ons Vader toe. O Gees van God, dankie dat U by ons bly en ‘n inspirasie is vir ons gedagtes wanneer ons met ons Vader wil praat. Wees met ons in die stiltes van ons woorde en dankie dat U ons stamelende woordjies in hemeltaal verander. Maak ons nederig in God se misterieuse geselskap. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page