top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (3)


Luk 18:9-10a en 14 – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: ’Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar.......” V 14 – “Ek sê vir julle: ‘Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”


Vergelyk ook Ef 2:8-10 – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”


Twee mense gaan dieselfde ding doen. Hulle gaan op dieselfde uur van die dag na dieselfde plek. Beide tree die tempel-voorhof binne en beide doen 'n gebed. Daarna gaan albei weer huiswaarts. En tog, wat hulle gedoen het, was nie dieselfde nie. Inteendeel, dit is so verskillend soos waarheid en leuen.


Die Here Jesus lig ‘n betekenisvolle stukkie detail uit. Hoewel die Fariseër God aanspreek, praat hy eintlik met homself. Sy gebed mag indrukwekkend klink, maar by die hemel kom dit nie uit nie – dis ‘n blufspel. Die tollenaar se lyftaal sê alles. Sy voete bly op ‘n afstand staan – respek vir God en ‘n geringskatting van homself, soos Moses by die brandende bos. Sy oë kyk in skaamte grond toe. Hy bid soos Esra: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog.” (Esra 9:6). Sy hande slaan wanhopig op sy bors as hy sy sonde uitkreun – sy mond uiter woorde van diep berou en verootmoediging: ‘O God, wees my sondaar genadig.’


Maar genade verdoof niks – dit vlek oop, dit ontmasker, dit lê bloot al wat ʼn skande en ʼn skaamte is wat jy om die dood nie wil hê ander moet jou storie ken nie, veral nie kerkmense nie. Genade proe die ene kruis, lyk na bloed en ruik na die dood. Dit sit die ligte af op jou prestasies en jou trots en zoem in op jou verleentheid. Genade maak seer, dit is pyn. Genade byt, dit steek dwars in die krop. Genade is nie die gemaklike “default” opsie nie, dis nie die maklike uitweg nie, dis nie geloof se gemaksone nie.


Genade sê jy is nie goed genoeg nie, jy het so drooggemaak dat jy nie meer self daar kan uitkom nie. Genade laat jou besef jy sal elders ʼn regmaker moet loop soek. Jy het iemand anders naas jouself nodig. Jy gaan moet, net om weer met jouself te kan saamleef, eers op Iemand anders moet reken. Jy leer jy is afhanklik. Genade sit stukkende mense aanmekaar, jy moet egter eers stukkend wees voor genade soos medisyne voel, voor die regmaker “inskop”.


Die oomblik dat jy desperaat genoeg is om regtig vir genade te begin bid, is dit omdat niks anders meer help nie. Jy is so diep in die moeilikheid dat jou eie rekord nie meer punte tel nie, en niemand wil jou meer bystaan of probeer help nie. Want teen dié tyd vervies die mense hulle al vir jou en jou sonde, gril hulle vir jou, is hulle vir jou so kwaad hulle wil jou óf reg timmer óf jou wegsmyt.


Die Fariseër word nie veroordeel omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatmaak. Die tollenaar word nie regverdig verklaar omdat hy ‘n sondaar is nie, maar omdat hy in sy self-wanhoop die Here om genade aanroep.


“Genade maak die lewe nie makliker nie. Genade maak die lewe moontlik” (Onbekend)


Gebed: Here, U het ons geleer dat genade eintlik nie “fair” is nie. Dit is nie net die goeie ouens of die mense van wie ons hou, wat dit ontvang nie, of selfs net ek nie. Dankie dat U ‘n vrygewige God is en genade nie net beperk tot seker mense nie, maar dat “dit ‘n gawe van U” is – ‘n guns wat aan ons gegee word na die mate wat ons dit nodig het. Dankie dat U nie moed opgee met ons nie en dat U genade onbeskryflik groot is. Amen.



 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page