E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Week 4 – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie (3)
Matt 18:21-35 – Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”
Vergelyk ook Matt 6:14-15 – “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie."
Daar is min dinge wat kosbaarder is om te ontvang as vergifnis. Daar behoort nie ‘n dag verby te gaan dat ons nie nodig het om God te vra om ons skuld teen Hom en ons naaste, te vergewe nie. Dit is God se aard om te vergewe soos Hy reeds aan Moses meegedeel het, duisende jare vantevore (Eks 34:6-7). Daarom is dit ook nie 'n vraag of 'n mens presies sewe maal moet vergewe nie. As ons Sy dissipels wil wees moet ons ook kan vergewe om vergewe te word. As iemand om vergifnis vra, mag dit hom nie ontsê word nie, al sou dit “sewentig maal sewe keer” gebeur. Met hierdie getal word nie 'n perk aan die vergifnis gestel nie, maar eerder dat dit juis om die gesindheid gaan en daarom is vergifnis onbeperk, aanhoudend en onophoudelik.
In Jesus se storie het die onbarmhartige amptenaar onberekenbare groot skuld van miljoene rand aangegaan en daar moet betaal word. In sy omstandighede is die enigste beslissing wat verwag kan word van die koning, ‘n volstrekte uitwerping, vernietiging en ondergang vir altyd. Met daardie vooruitsig kan daar slegs by hom, doodsangs en verwilderde radeloosheid wees wat dwing tot 'n smeekbede om genade. Sy hopelose en onmoontlike belofte dat hy “alles sal terugbetaal” (v 26b), het 'n angskreet om begenadiging geword. Die onbegryplike gevolg: “Die koning het hom jammer gekry , hom laat gaan en sy skuld afgeskryf” (v 27). Onbeperkte genade!
Buite ontmoet hy 'n medeamptenaar wat hom ongeveer agt rand skuld. ‘n Bedraggie wat werklik as niks gereken kan word nie in vergelyking met die miljoene wat aan homself kwytgeskeld is. Dan doen hy ‘n daad van onmenslikheid. Hy, die een wat die vergifnis tot “sewentig maal sewe keer” ondervind het, gaan voort om die lewensreël van ‘n oog vir ‘n oog, van sy ou lewe op sy naaste toe te pas . Van toegeeflikheid is daar geen sprake nie en van vergewensgesindheid nog minder. Sy ore is doof vir die smeking om genade en die hart is ongevoelig vir die nood van 'n ander.
Vergifnis is nie ‘n vaardigheid of ‘n oorerflike eienskap nie, vergifnis is ‘n keuse! Jesus het afgekyk op mense wat Hom meedoënloos en spottend aan ‘n kruis vasgespyker het en tog, in Sy sterwensuur, met Sy laaste bietjie krag, vir hulle gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34). Hoe kan ons dan weier om mense wat teenoor ons oortree, te vergewe?
Die vergifnis van God stel die mens onder die verpligting om teenoor sy medemens met vergifnis op te tree. ‘n Ontvanger van barmhartigheid word verplig tot barmhartigheid. Wie hierdie verpligting nie as 'n wet van ons Koning begryp en onvoorwaardelik en onophoudelik gehoorsaam nie, stel hom daarmee onder die oordeel van die hemelse Regter. Om hierdie goddelike waarheid onuitwisbaar op die gemoed in te prent, verklaar Jesus: “Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie" (Matt 6:15).
“Wie self Christus gevind het, moet vir sy medemens 'n Christus word” (Martin Luther)
Gebed: Here, U het my vergewe en tog sukkel ek om dieselfde aan ander te doen. Ek weet Paulus het op ‘n keer gesê dat ek geduldig moet wees met ander en hulle moet vergewe soos wat U vergewe het (Kol 3:13), maar ek kry dit nie altyd reg nie. As U my op die oomblik moes vergewe soos ek ander vergewe, is ek bevrees dat ek vir altyd ‘n volstrekte uitwerping, vernietiging en ondergang, sal ondervind. Dankie Here dat U egter in genade my “jammer gekry het, laat gaan het en my skuld afgeskryf het.” Help my Here, om te vergewe omdat ek vergewe is. Amen.