top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VALS PROFETE (3)


Matt 7:15-20 – “Pas op vir die vals profete..... V 20 – “So sal julle die vals profete aan hul vrugte ken.”


Vergelyk ook Deut 4:2 – “Moenie iets byvoeg by wat ek (Moses) julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.”


Hoe lyk die vrugte van vals profete? Eerstens probeer hy nie om die “nou poort” opsetlik wyer te maak nie. Hy het ‘n baie subtiele manier om Bybelversies aan te haal en dan met moderne sogenaamde wetenskaplike of humanistiese bewyse, die interpretasie daarvan te verduidelik bv. die maagdelike geboorte van Jesus, sekulêre sielkundige oplossings vir huweliksprobleme instede van Bybelse voorskrifte, ens. Hy plaas die wysheid van die wêreld op ‘n troon in plaas van God se wysheid en verkondig dit as moderne Christen-kultuur. Moses se opdrag in Deut 4:2 (hierbo) was dus net vir die Israeliete bedoel en nie vir hedendaagse mense nie – Die God van die 21ste eeu is nie dieselfde God van destyds nie. Die eindresultaat is ‘n verafgoding aan die “geloof” van die profeet instede van die waarheid van God se Woord. Die ware profeet ontvang God se Woord soos dit is, aanvaar dit as die waarheid en verkondig dit aan God se kinders – “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie” (Spr 3:5).


Nog ‘n vrug van die vals profeet is die een wat getuig dat hy “geestelike openbarings” direk van God ontvang het. God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus. Met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy volgelinge oor en hulle glo dit! Hy is dan ook in staat gestel om antwoorde oor al hul geestelike vrae te verskaf, want “God het dit aan hom openbaar!” Die gevolg is dat die bydraes in die kollekte bordjies tydens daardie “preek,” die finansiële koffers van “sy kerk” ‘n aansienlike hupstoot gee. Paulus daarenteen verduidelik dat “ons maar gedeeltelik ken en God se wil gedeeltelik verkondig, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees” (1 Kor 13:9-10). Die vals profeet draai mense weg van die Bybelse waarheid af na ‘n sogenaamde “geestelike” wêreld van fantasie – “ ‘n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf” (Deut 18:20)! Skrikwekkend!


Daar kan boeke vol geskryf word en daar is seker al boeke vol geskryf van vals profete en hul ewe vals leringe, maar ons volstaan nou daarmee. Paulus vermaan ons dat die kerk (ons), ‘n verantwoordelikheid het om vals profete te stop om hul dwaalleringe te versprei – “Hulle monde moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dit net om skaamteloos geld te maak” (Titus 1:11). Die Hebreërskrywer herinner ons ook aan die volgende – “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie” (Heb 13:8-9).


Ons sluit die bespreking af oor “Vals Profete” met Paulus se opdrag uit Rom 16:17 – “Ek druk julle dit op die hart, broers (en susters): Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hul mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.”


Gebed: Hemelse Vader, weerhou ons reisigers op die “smal weg” van hulle wat die waarheid van U Woord verkrag. Hulle bedrieg baie mense maar dankie tog Here, hulle kan U nie bedrieg nie. Verskerp ons persepsie oor die Waarheid van U Woord en stel ons asseblief in staat om daardie verkeerde dinge wat skadelik is vir ons siel, te identifiseer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page