top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Jun 13, 2016
  • 3 min read

DIE EER VAN GOD (2)


Matt 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”


Vergelyk ook Matt 10:14-15 – “As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis uit of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”


Om aan te sluit by Saterdag se Dagstukkie, is dit egter nie maklik om te besluit wie die “honde en die varke” is waarna Jesus verwys nie. Jesus gee wel later ‘n ander perspektief oor dieselfde saak in Matt 10:14-15 en gee ‘n direkte riglyn dat mense wat nie wil luister na die boodskap van God se koninkryk nie, onder die oordeel van God verkeer en daar nie verder tyd gemors moet word om hulle anders probeer in te stel nie. Paulus en Barnabas het hierdie beginsel toegepas nadat die Jode Paulus se woorde teëgespreek het in Antiogië (Pisidië) (Hand 13:45-51).


Dit is egter makliker gesê as gedaan. Hoe weet mens dat jou pogings om die evangelie oor te dra, gestaak moet word? Wat as jou beslissing verkeerd is en ‘n siel gaan verlore as gevolg van jou verkeerde besluit? Die Hebreërskrywer sê: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Heb 3:13). Daar moet dus ten volle gebruik gemaak word van elke beskikbare geleentheid om mekaar te vermaan sodat die bedrog van die sonde ons harte nie verhard nie. Daar moet “elke dag” of gedurig vermaan word teen die misleiding van die oudste strateeg, satan. Die tyd van so ‘n vermaning kan dalk vir ewig verbygaan. Elke dag kan daardie dag straks die laaste “vandag” van God se genade wees.


Eerstens gaan dit nie oor God se boodskappers nie maar oor God wat ons stuur! Dit gaan nie oor ons persoonlike voorkeure en oordeel oor ander nie. Ons integriteit en geloofwaardigheid moet van só aard wees dat ons optrede nie ‘n struikelblok vorm vir mense om die genade van God te aanvaar en te ervaar nie.


Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees ”vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef nie almal te ken nie – God ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by hulle eis. God sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns staatmaak.


“It is always possible to show men Christ; and the weakness of the church lies not in lack of Christian arguments, but in lack of Christian lives.” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, daar is baie keer dinge wat ons ontstel en ons hartseer maak, veral wanneer mense onbetrokke staan teenoor U. Soms is dit goeie mense wat nie die luukse van U liefde wíl ken nie. Laat ons dan egter nie moeg word om die lig van U vreugde en vrede oor te dra aan hulle wat aan die skadukant van die wêreld wil lewe. Mag die lig van die liefde waarmee U ons oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ons in U Naam was. Amen.


 
 
 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page