top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:10a – “Laat U koninkryk kom;”


Vergelyk ook Luk 4:43 – “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”


In Jesus hét die koninkryk reeds naby gekom: “Van toe af het Jesus begin preek en gesê: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ (Matt 4:17). Jesus verwys na hierdie koninkryk, nie minder as 112 keer in die Evangelies. Die verwagting van die Jode vir hierdie koninkryk het reeds in die dae van die aartsvaders - Abraham, Isak en Jakob – bestaan (Luk 13:28), tydens Jesus se aardse optrede (Luk 4:43) en in die toekoms (Matt 6:10a). Hoe is dit moontlik dat hierdie koninkryk tegelykertyd deel was van die verlede, die hede en die toekoms? Waarvan praat hierdie Man van Nasaret?


Jesus leer uitdruklik dat dit nie ‘n aardse, politieke koninkryk wat met magsvertoon regeer word nie. Dit is ‘n koninkryk wat met liefde regeer word. Ons Vader is Koning – Koning van liefde – in die verlede, hede en toekoms. Om burger van hierdie koninkryk te word, moet mens ‘n verandering van hart en lewe ondergaan, m.a.w. bekering! Deur die geloof in Jesus Christus word ons mede-erfgename van die heerlikheid van hierdie Koninkryk.


Natuurlik besit ons nog nie die koninkryk in sy volmaaktheid nie, maar daarom bid ons: “Laat U koninkryk kom;” “Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer, hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees” (Antw 123 van Heidelbergse Kategismus)


Dit is gevaarlik om te bid “Laat U koninkryk kom”, want ons eie koninkryk word in gevaar gestel. Dit help nie ons vra ons Vader om Sy koninkryk te laat kom terwyl ons oë na die hemel gerig is en ons diep gewortelde drang van ons sondige natuur nog self wil regeer nie. Ons sal slaaf bly van die ék-maak-so en ék-sê-so en ék-laat-my-nie-voorsê, koninkryk van ons harte. “Die Here se koninkryk is daar waar Hy as Koning erken en gehoorsaam word. Daar waar die Grondwet van die Koning die grondslag van ons lewe word” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Ons Vader, laat U koninkryk kom. ‘n Koninkryk in slegte tye wanneer chaos, wanorde en die donkerte ons wil oorval. ‘n Koninkryk anderkant die gebeure van byvoorbeeld Sharpeville 1976 en 9/11. ‘n Koninkryk wat die huidige menseryk korrupte wêreld, moord, verkragting, mensehandel, hongersnood, werkloosheid, swak ekonomiese toestande en al die ander satanbeheerde dinge, verpletter. Dankie dat ons kan vashou aan U, ons Vader en hard kan uitroep: Laat U koninkryk kom “sodat U alles en in almal is.” (Kol 3:11). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page