E-Kerk - Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- Apr 22, 2016
- 2 min read

EEDSWERING – ‘n CHRISTEN PRAAT DIE WAARHEID
Matt 5:33-37 – “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, .......... (vs 37) – Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’.
Vergelyk ook Jak 5:12 – “My broers (en susters), dit is baie belangrik dat julle nie ‘n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle ‘ja’ sê, moet dit ‘ja’ wees; as julle ‘nee’ sê, moet dit ‘nee’ wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.
Dit blyk asof Matt 5:33-37 en Jak 5:12 ‘n kopie van mekaar is. Jakobus gee aan die Christengemeenskap ‘n opdrag om af te sien van eedswering as ‘n wyse waarop die geloofwaardigheid van ons woord (uitsprake en beloftes) gesteun en bevestig moet word. Beide Jesus en Jakobus sê dat ons nie ‘n eed moet aflê nie. Wanneer ons God as getuie inroep, moet ons saak 100% reg wees – anders bring ons Sy Naam in gedrang.
As kinders van God erken ons dat Hy oor ons hele lewensbestaan, heerskappy voer en daarom kan ons geloofskinders se ‘ja’, ‘ja’ wees en ons ’nee’, ‘nee’. Wanneer ons nie die waarheid praat nie, speel ons in die hand van die bose. “Omdat ek ‘n Christen is, kan jy my te alle tye op my woord neem”, is woorde wat as onkreukbare wyse van ons, op alle terreine, gebruik moet word. Oral waar ons vrae moet beantwoord of informasie moet verskaf en dit met ons handtekening bevestig word, oral waar ons ons bevind – by familie, in die huwelik, die owerheid, die kerk, wanneer ons kwaad word, moed verloor – ORAL – moet ons ons waardigheid as God se kinders behou. Dit sal dan nie nodig wees om God op ‘n lighartige wyse in te roep om vir die waarheid in te staan nie.
Sommige het die kuns van halwe waarhede so vervolmaak dat wanneer hulle die dag die waarheid praat, word hulle nie geglo nie. Dit is onchristelik om stories aan te dik of miskien het dit net nie dieselfde betekenis, as die waarheid voorgehou word nie (die vis wat weggekom het). ‘n Klein leuentjie word vertelstories en word afgemaak as ‘n wit leuentjie. Dit is nie nodig om eie prestasies aan te blaas om só persoonlike eer in te oes nie. Die waarheid het nie leuens nodig om aandag te trek nie.
Elke woord wat ons as gelowiges in Christus uiter, is in die teenwoordigheid van God. Daarom moet ons ‘ja’, ‘ja’ wees en ons ’nee’, ‘nee’.
Gebed: Here, ons tree soms op soos swakkelinge. Ons praat dikwels, teen ons gewete, saam met ander oor dinge wat ons nie wil praat nie maar om ‘in’ te wees, praat ons saam terwyl ons voel ons wil eintlik verskil. Bring ons by die waarheid Here, Laat ons ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en ons ‘nee’, ‘nee’.
Amen
Kommentare