E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”
Vergelyk ook 1 Pet 4:14 – “Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ‘n bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op julle bly.”
Hierdie vervolging waarna Jesus verwys is nie vervolging en belediging van mense a.g.v. sekulêre humanistiese redes, of Christene wat verkeerd optree nie, of selfs Christene wat die evangelie versprei op ‘n aanstootlike manier nie. “As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ‘n moordenaar is of ‘n dief of ‘n misdadiger of ‘n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik (1 Pet 4:15-16).
Die vervolging en belediging waarna Jesus verwys is spesifiek Christene wat probeer om regverdig te lewe, wedergebore harte wat in diens van die Here staan. Dissipels wat afhanklik is van God, sagmoedig is en wat die waarheid van die evangelie suiwer verkondig. Die Christus wat ons volg word verwerp en gehaat deur die wêreld, wat in konflik is met die verkondiging van die evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus!
Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ons ons lewe vir Hom moet gee. “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh 15:18-19).
Hy sal vir die res sorg. Hy sal die regte vrugte op die regte tyd voortbring. Wees Godsdienstig en Godvrugtig. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil 1:29)
Gebed: Here, dankie dat ons weet dat U by ons is wanneer ons beledigings moet verduur omdat ons dissipels van U wil wees. Soms voel ons platgeslaan en wil moedeloosheid, beheer van ons neem. Dit is dán wanneer U ons weer op ons knieë bring, die beste plek om te wees om met U te kan praat en na U te luister. Help ons om passievol aan U vas te klou.
Amen.