top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Vergelyk ook Jak 1:19 – “My liewe broers (en susters), dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.”


‘n Vredemaker is iemand wat sy tong in beheer hou. Dit is beter om reg te luister as om baie te praat. Nie net goeie luisteraars teenoor ander mense nie maar luister na wat God sê. Jakobus reken dat daar byvoorbaat probleme gaan wees maar vir die gelowige wat oorwinnend wil lewe, nie verstopte ore moet hê nie.


Ons hoor die Woord maar steur ons nie daaraan nie. Om te kan doen wat die Woord sê, moet ons kan hóór wat die Woord sê. Die Woord van God kan net vrug dra as dit in vrugbare grond val. Daarom moet ons gewillig wees om mooi te luister en álles te hoor. As ons nie alles hoor nie, praat ons te vinnig en word gou kwaad. Ons val God dan in die rede met verkeerde dade. God se Woord is weg voor dit kon wortel skiet en word dan deur “onkruid” verstik.


Wanneer ons dan eers sorg dat die grond van ons hart skoon geskoffel word, verdwyn die vuilheid en daar word plek gemaak vir ‘n nuwe “inplanting” wat met vrede gepaard gaan.

“Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.” (Spr 12:18) en “ ’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning soet en geneeskragtig vir die mens” (Spr 16:23-24).


Dit is soms beter om stil te bly as om sommer net te praat. Dit is een van ‘n vredemaker se goeie eienskappe.


Gebed: Getroue God, dankie vir die vrede wat U ons gee, vrede van oorwinning. Die vrede wat die wêreld gee is net tydelike ontvlugting wat soms gepaard gaan met seermaak-taal. Dankie Here dat U ons leer om te vergewe wanneer teen ons kwaad gespreek word. Dankie dat ons ook weet dat vredemakers se antwoord vir vergifnis onbeperk is, en nie 70 x 7 wat gelyk is aan 490 nie.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page