E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Matt 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Vergelyk ook Jak 4:1-2 – “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie omdat julle nie bid nie.”
Vredemaak begin eerstens by onsself. Om ‘n vredemaker te wees moet ons seker wees van ons eie heiliging. Jakobus waarsku met geestelike inspirasie juis teenoor ‘n gelowige gemeenskap wat in vrede met mekaar behoort te leef, maar eintlik daaglikse konflik situasies moet hanteer.
Jakobus wil die bron van rusie onder gelowiges beklemtoon deur te wonder wat die oorsaak is van konflik, en dan beantwoord hy feitlik onmiddellik self sy vraag. Die stryd met selfsugtige begeertes - dit is inderdaad waar alles wat duiwels is, begin – die diepste dryfveer wat ons tot ekstreme optrede aanvuur, diep binne onsself.
Paulus bevestig ook dat “ons sondige lewensbestaan sondige begeertes in ons liggaam wakker maak wat vrugte dra in diens van die dood” (Rom 7:5). Mense wat deur hul eie oë na die wêreld kyk, sien gewoonlik net hulself raak en daarom is dit net hul eie behoeftes wat tel. Dan word vrede die slagoffer en word mense wat in die pad staan van hierdie begeertes, met naywer uit die pad gestoot.
Sulke mense gee aan hulself, met ‘n bose ondertong, mooi name soos: “Ek kom op vir wat reg is,” of “Ek is so gemaak en so laat staan,” en “Niemand trap op my nie.” Wat egter gebeur is dat innerlike vrede, onder toegedraaide watte verplaas word deur ‘n groeiende monster. Net die Gees van God kan hierdie monster keer!!
Gebed: Hemel Vader, saam met Job wil ons onsself onderwerp aan U, dan weet ons dat ons vrede sal hê. Voor ons na vrede kan verlang moet ons dus eers U vind. In plaas van om die dood te ontvang as loon, hoor ons U woorde: “My vrede gee Ek aan julle!” Dankie Heer vir U genade.
Amen.