top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

Vergelyk ook Fil 4:8 – “Verder broers (en susters), alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle jul gedagtes rig.”


Met ‘n rein hart kan ons onmoontlik aan sonde bly vasklou. “As daar sonde in ons hart is, sal die Here nie na ons luister nie” (Ps 66:18). Om vas te klou aan sondes en dit selfs vertroetel met verkleinwoordjies van sondetjies, belemmer ons verhouding met God. Ons moet eerder ons gedagtes rig op alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is.


Ons as Christen gelowiges weet dat ons aan Christus behoort. Deur geloof kan ons onsself dood verklaar teen die sonde en lewend tot God. Dit is nie ‘n verbeeldingsfantasie nie maar ‘n Goddelike realiteit. Die leë kruis en graf van Jesus is ook ons oorwinning oor die sonde. Jesus het geen onderskeid gemaak tussen die Jode en ons nie. Hy het ons harte ook deur die geloof gereinig (Hand 15:9) God het aan ons die Heilige Gees gegee om ons te help met hierdie daaglikse reiniging van die hart. Die Gees maak ons lewend tot God, verenig ons met God en beheer ons deur Sy deurdingende Woord.


Dit beteken nie ons kan nou maar net terugsit en die Gees alleen laat met Sy pogings om ons op die regte pad te hou nie. Ons moet aanhoudend bid dat Jesus ons moet bystaan om teen ons sondige natuur en versoekings te stry.


Geloof in Christus kan berge versit – berge van trots, haat, onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, rusies, naywer, woede, verdeeldheid, dronkenskap, uitspattigheid en alle dergelike dinge (Gal 5:19). As gelowige het ons ‘n verantwoordelikheid dat almal die vrug van die Gees aan die boom van ons lewe, raaksien (Gal 6:1-10).


Jesus het kom word wat ons is, om ons te maak wat Hy is. Sy opstanding was nie maar net ‘n legendariese storie nie. Indien dit so was, sou dit gewoon soos wat enige held was – dood, weg, miskien ‘n herinnering agtergelaat. Maar Jesus lééf en skenk ons ‘n lewe, magtig met Krag!


Gebed: Here, skenk ons ‘n rein hart. Gee dat die saad wat ons saai ‘n goeie oes sal lewer. Verander ons wanneer ons verkeerd lewe en wanneer ons reg is, maklik om mee saam te leef.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page