top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 23 November 2023

Koos Espach


VII. Paulus se Derde Sendingreis

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (7)


God dwing niemand nie


Hand. 19:9b-10 – “Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10 Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het.”


Paulus se prediking maak geen indruk meer aan ‘n klein hardkoppige minderheid Jode, wat steeds weier om te glo nie. Hulle verwerp die Weg, Waarheid en die Lewe. (Heel moontlik verwys Paulus na hierdie mense wanneer hy sê dat hy in Efese teen wilde diere moes veg (1 Kor. 15:32). Paulus het besluit om nie langer God se pêrels vir die varke te gooi nie, en het hom toe begin losmaak van die Jode. Hy het die volgelinge van Jesus in die sinagoge, saam met hom geneem en begin met daaglikse besprekings in die “saal van Tirannus.” Wie Tirannus was, is onbekend.


Paulus verskuif sy vergaderplek. Vir twee jaar lank het sy skeiding met die sinagoge vrugte afgewerp en was sy prediking geseën. Baie meer mense het nou die geleentheid gehad om na hom te kom luister. Die sinagoge was meer net vir die Jode en Jodegenote. Die saal van Tirannus was vir almal oop. Nou kon al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke wat Efese besoek het, die woord van die Here hoor.


Iemand het gesê as ‘n mens nie gehelp wil word nie, moet dan nie jou pogings in daardie mens se keel afdruk nie, soos wat dit hier weer met Paulus gebeur het. Oral waar hy die evangelie gebring het, het hy teenstand ondervind. Dit is dikwels onmoontlik om met mense wat nie reggehelp wil word nie, te gesels oor die evangelie – oor Jesus Christus. Sommige maak hulle ontoeganklik, selfs ondeurdringbaar vir die evangelie. Vir baie mense is dit baie makliker om die verkeerde leringe te aanvaar as om te wil hoor “Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe …” (Joh. 14:6). As iemand nie hulp wil aanvaar nie, kom jy op ‘n punt waar jy as Jesusvolgeling, eerder weggaan as om voort te gaan.


Jesus het op ‘n keer tydens sy bekende bergpreek langs die See van Galilea gesê: “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap” (Matt. 7:6). Jesus bedoel met hierdie beeldspraak dat daar ‘n nugtere onderskeiding is ter wille van die evangelie van God se koninkryk, ‘n onderskeiding wat heilig en kosbaar is soos pêrels. Die implikasie van Jesus se woorde was eintlik dat die balk en die splinter albei uitgehaal moet word – eers die balk uit jou oog en dan die splinter uit jou naaste se oog.


Dis onwerklik om te dink daar is vandag nog steeds mense wat nog nie van hulleself afgesterf het ten bate van Christus nie, mense wat nie met die Woord van God te doen wil hê nie. As jy so persoon se splinter wou verwyder – “dit wat heilig is …, is die kans goed dat hulle wêrelds sal reageer. Hulle sal dit vat as ‘n persoonlike aanval, “hulle sal omspring en jou verskeur.” Sulke mense vererg hulle vir, kom ons noem dit maar ‘n genadedaad. Hulle wil nie luister na die evangelie nie. Hulle wil nie hoor van God se genade en redding nie. Hulle verkies om eerder in die donker van die sonde voort te ploeter.


Jesus het egter aangehou om te stap na sondaars met stukkende lewens wat na Sy stem wil luister (Op. 3:20). Ons behoort dan Sy voorbeeld te volg en nie vinnig te wil oordeel nie, daar is altyd nog genade en nog ‘n kans. Maar terselfdertyd waarsku Jesus ons hier dat ons nie slegte mense moet probeer help wat geen respek vir God het nie. Dit is tydmors om met hulle oor God te praat, hulle sal God se heiligheid soos ‘n trop varke “met hulle pote vertrap.”


Ons moet m.a.w. kan oordeel wanneer ons moet onderskei of ons tussen die varke is, en wanneer ons met hemelse pêrels te doen het. Hier moet ons baie sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees. Ek en jy tel mos onder die gelukkiges wat die groot impak van die Gees se krag in ons lewe ervaar. Die Gees is immers op ‘n baie spesiale wyse aanwesig by almal wat in Jesus Christus glo. Bid dat die Heilige Gees ons die gawe van onderskeiding mag gee. Bid vir wysheid. Bid vir die regte tyd om te praat en wanneer om te swyg. Vra dat God ons sal wys met wie ons moet praat en wie nie. Bid dat Hy ons harte en woorde van vermaning sal sag hou, sodat sy Naam geëer sal word.


“God dwing niemand nie, want die liefde kan nie dwing nie. Diens aan God is derhalwe ‘n saak van volkome vryheid” (Hans Denk).


Gebed: Heilige Gees, skenk my die gawe van onderskeiding, gee my wysheid om te praat op die regte tyd, en wanneer om eerder te swyg. Wys my met wie ek oor die evangelie kan praat en met wie nie. Omgord my met U krag sodat ek U waardige getuie kan wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page