Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 17 Mei 2022

Koos Espach


Die genesing van die verlamde man (1)


Hoekom ek ... hoekom nie ek nie?


Hand. 3:1-3 – “Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. Net toe word daar ‘n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra.”


Lukas sluit nou aan by “die apostels wat baie wonders en tekens gedoen het” (2:43) en vertel van hoe die krag van Christus en die Gees op ’n konkrete wyse in die gemeente gewerk het. Petrus en Johannes het na die tempel opgegaan teen drie-uur die middag om te gaan bid. Die vrome Jode het drie vasgestelde ure van gebed gehad: Teen nege-uur, die tyd van die môre-offer; die tweede teen twaalf-uur en die derde teen drie-uur die middag, die tyd van die Tamid-offer wat gegaan het vir die instandhouding van die vlam wat altyd in die tempel gebrand het. Dit was dan ook die tyd wanneer mense geld by hulle sou gehad het vir die offer.


Terwyl die apostels op pad is tempel toe, het sy mense ‘n verlamde man neergesit by Mooipoort, ’n poort van die tempel waardeur baie mense daagliks die tempel binnegegaan het, sodat hy medelye kon opwek en om aalmoese kon vra. Sy mense kon hom nie in die tempel inneem waar mense veronderstel was om genees te word nie, want siekes was as onrein beskou. Die plek waar hy genesing kan kry, is m.a.w. vir hom van sy geboorte af, verbode terrein. Aangesien die toegang tot die tempel nie bereikbaar is nie, sit hulle hom buite die tempel neer. Vir ’n bedelaar was ’n plek by hierdie poort baie lonend, omdat elkeen wat aan die erediens wou deelneem, daardeur moes gaan. Toe die verlamde man vir Petrus en Johannes sien, het hy sy hand uitgesteek om “iets van hulle te vra.”


Siekte is een van die moeilikste dinge in ons gevalle wêreld, veral ook iets soos hierdie verlamde man in die verhaal se gestremdheid. Die kroniese langtermyn lyding – wat baie meer mense as net die sieke of die gestremde raak, is ontsaglik en onbegryplik. Daar is min dinge wat ‘n mens so gou op moedverloor se vlakte plaas, ‘n mens selfs in depressie in beweeg, as siekte. Wie se sonde het hierdie teenspoed veroorsaak?


Ons wil altyd 'n verduideliking hê wanneer dit kom by siekte, lyding, rampe en dood. “Waarom? Hoe kon dit? Wat is die verklaring hiervoor? Hoekom ek? (Hoekom nie ek nie, wat maak my beter as die volgende persoon?) Wat het ek gedoen om dit te verdien?” Mense antwoord dan vinnig: “God straf ons; God praat weer hard met ons. Ons moet ons net voor God verootmoedig, net ons sonde bely, dan sal dit weer beter gaan. Ons moet terugdraai na God toe dan sal Hy ...!”


God laat Hom nie manipuleer nie. Ons vermoede is gewoonlik dat siekte en lyding 'n soort straf is vir een of ander sonde of oortreding. Dis menslik om so te redeneer, maar God sit nie heeldag en nag en kyk waar die mens verkeerd doen sodat Hy hom met ‘n rottang (siekte) kan bykom nie. Dit is nie hoe ons God “operate” nie. Ons gelowiges kan nie en gaan nie siekte en dood teen die rekening van ons God van liefde, debiteer nie. Mense wat buite God se beheer leef, is die groot verwoesters en chaos-skeppers. Die teenvoeter hiervoor is natuurlik om hulle in trurat in te bid! Leef só dat ander God se vrede en geregtigheid deur my en jou waar kan neem. Wys vir die wêreld dat God sy toorn en straf reeds ten volle uitgewoed het op die Here Jesus aan die kruis.


Jesus, ons Middelaar het die sonderekening van ons ten volle betaal – “dit is volbring,” dit is afgehandel! Geen mens behoort eintlik te vra: “Verdien ek nou regtig om so swaar te kry, nie?” God skuld ons niks nie. Ons kan nie van God omdat-antwoorde op ons waarom-vrae verwag nie. God is Almagtig en soewerein – Hy doen wat Hy wil. Hy géé nie antwoorde nie omdat Hy sélf die antwoord is. Die boodskap van hierdie verhaal is eintlik eenvoudig: Kom na Jesus toe net soos ek en jy is – in ons leegheid, bekommernis, swakheid, hulpeloosheid, onkunde, mislukking, skuldgevoelens en nood. Hy wag dat ons Hom, soos hierdie verlamde bedelaar, iets in afhanklikheid sal vra sodat Hy ons Sy onvoorwaardelike liefde en genade kan aanbied.


“We cannot make a man a Christian, but we can do everything possible to bring him into Christ's presence” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here, dat ek U kan vertrou wanneer ek krisisse beleef, dat ek Jesus deur U Gees in my kan beleef! Wanneer ek op my swakste is, is die kanse groter dat U wonderwerke sal verrig as wanneer ek op die kruin van die suksesgolf ry. Dankie dat ek my teleurstellings, probleme, siekte, lyding en swaarkry na U toe kan bring en U juis dan daar is om U Goddelikheid deur U werke te bewys. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon