top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 15 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (18)


Die Heilige Gees sal by julle bly (3)


Totale en volkome oorwinning


Joh. 14:30-31 – “Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld, die Satan, is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”


Jesus wil verseker dat die dissipels in die toekoms standvastig sal bly in die geloof want daar sou binnekort dinge gebeur wat hulle geloof werklik sal beproef. Die kruis was die finale stryd teen die “owerste van die wêreld”, maar Jesus was nie meer bang daarvoor nie, want Hy het geweet dat satan geen mag oor Hom het nie. Jesus het die kruis en Sy dood vrywillig tegemoet gegaan, nie as ‘n verslaande nie, maar as Oorwinnaar.


Jesus verklaar dat Hy die lyding en dood tegemoetgaan as ’n daad van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Vader, en dus ook as ’n bewys van Sy liefde vir die Vader. Die kruisiging beteken nie dat die owerste van die wêreld die oorhand gekry het oor die Seun van God nie, maar dit is ’n bewys, ’n teken, vir die hele wêreld om Jesus se onbetwisbare liefde vir God te sien! Dit bevestig dat Jesus se kruisiging, die uitvoering is van die wil van die Vader. Hoe vreemd dit ook al klink, was die wil van die Vader die openbaring van Sy liefde vir die wêreld: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het ... (Joh. 3:16).


Ná hierdie woorde staan hulle op om die tafel in die Bovertrek te verlaat. Aangesien die gesprek daarna nog voortgaan, was dit waarskynlik terwyl Jesus en die dissipels langsaam op pad was na die Olyfberg en die Tuin van Getsemane, en so in die loop sou Jesus die gesprek voortgesit het.


Een van die tragedies in die wêreld is dat mense geneig is om aan satan meer krediet te gee as wat hom toekom. Nêrens in die Bybel word ons gelowiges banggemaak met die duiwel nie, net gemaan om waaksaam te wees. Die duiwel is ‘n werklikheid en hy is gevaarlik maar hy weet dat sy tyd min is: “Hy kom met groot woede en met die wete dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Hy en sy trawante werp dus alles in die stryd om in sy kort tydjie, vir hom ook dissipels bymekaar te maak. Ons is, as verteenwoordigers van God, geroep om oor Sy skepping te regeer en heerskappy te voer (Gen. 1:26-27), en satan sal dit áltyd teenstaan en ons aanval. Ons moet egter weet dat ons die stryd voer vanuit Jesus se oorwinning aan die kruis (Rom. 8:37-39).


Ons gelowiges wat aan die heerskappy van Jesus onderwerp is en volgens die wil van die Here leef, hoef nie bang te wees vir satan nie. Ons kan egter nie die stryd teen hom alleen stry nie. Ons het mekaar se ondersteuning, hulp, liefde, bemoediging en voorbidding nodig. As lede van dieselfde liggaam (Ef. 4:25b), is ons almal van die een Gees deurdrenk (1 Kor. 12:13), daarom moet ons as gelowiges, as gemeentes, as individue in die gemeenskap weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld rondom ons wees (Matt. 5:13-14). As gelowiges moet ons geloof dóén – kerk toe gaan (Ps. 26:12), Bybel bestudeer en saam bid (Matt. 18:19), saam sing (Ps. 104:33), saam werk (Ef. 4:16), saam dra (Gal. 6:2), saam bou (Neh. 5:16), saam stry (Rom. 15:30), om ons oorwinning te waarborg (Rom. 8:37). Met die hulp van die Here kan ons ‘n gesamentlike krag wees teen al die verdeeldheid, hartseer en pyn wat satan veroorsaak. Hoe lyk dit, is jy deel van die span in stryd teen die bose?


“Ek verwonder my altyd aan die hoeveelheid tyd en aandag wat Christene daaraan afstaan om die duiwel te beveg. As hulle dieselfde hoeveelheid tyd en energie wou afstaan om hulself met God se werk besig te hou, sou die duiwel in sy spore inmekaarsak van blote verveling omdat niemand hulle aan hom steur nie”

(Helen Keller).


Gebed: Dankie Here dat ek weet dat satan en sy trawante van my af sal wegvlug as ek waarlik myself aan U onderwerp (Jak. 4:7). Ek hoef nie toe te laat dat satan met my mors, bangmaak of intimideer nie. U wat by my is, wat in my woon, is onvergelykbaar groter as satan en daarom is ek meer as ‘n oorwinnaar in U (Rom. 8:37)! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page