top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE JODE KEN JESUS NIE – DIE NOODLOTTIGE WANBEGRIP


Joh. 8:21-24 – “Verder het Jesus vir hulle gesê: ‘Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.’ Die Jode het toe gesê: ‘Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: ‘Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?’ Toe sê Hy vir hulle: ‘Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.”


Vergelyk ook Eseg. 3:18 – “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.”


Dit is asof Johannes hier voortgaan om na Jesus se selfgetuienis, waar Hy verwys na Sy weggaan wat Hy begin het in 7:32-36, voortsit. Jesus verklaar aan die Jode by die tempel dat Hy weggaan. Dit het betrekking op Sy teruggaan na die Vader nadat Hy Sy werksaamhede op aarde voltooi het. Voorheen het Hy gesê die Jode sal Hom soek maar nie kry nie omdat hulle nie kan kom waar Hy dan is nie (7:33–34). Hy voeg nou daarby dat hulle in hulle sonde sal sterwe!


Die oproep tot inkeer wat in Jesus se woorde verskuil lê, word deur die ongelowige Jode met ’n smalende vraag beantwoord: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg?” Hulle probeer sin maak uit Jesus se woorde, maar kry dit nie reg nie. Hulle misverstaan Hom oor omtrent alles – sy voorspelling van sy “weggaan” word byvoorbeeld deur hulle as selfmoord geïnterpreteer. Jesus vertolk dit as ’n bewys van hulle wêreldsheid. Hulle geestelike oë is blind.


Jesus antwoord nie op die onvriendelike vraag van die Jode nie, ’n vraag wat trouens nie direk aan Hom gestel was nie, maar Hy wys daarop dat daar meer is as die dood om skeiding te maak tussen Hom en die Jode. Daar is ’n wesensverskil. In twee teenstellinge bring Hy dit onder woorde: “hulle is van hier onder, en Hy van daar bo; hulle behoort tot die wêreld, en Hy nie.” Daarmee dui Hy op die herkoms van die mense uit die stof van die aarde in teenstelling met die herkoms van Jesus uit die geestelike wêreld van die hemel. Hy dui ook op die wesensverskil. Die aard van die mense, en met name die ongelowige Jode, is dat hulle tot die wêreld behoort; hulle natuurlike tuiste is die wêreld van sonde en van verganklikheid. Maar Jesus is nie van dié wêreld nie; Hy het geen gemeenskap met die sonde nie, want Hy is uit die hemel en deel in die heiligheid van God. Dit is hierdie teenstelling wat meebring dat die Jode in hulle sonde sal sterf.


En nou is daar nog ’n rede daarvoor: hulle het die geleentheid gehad om in Jesus te glo en het dit nie gebruik nie. Daar is immers net een weg om bevry te word uit die wêreld met sy sonde en om die ewige dood te ontvlug, en dit is deur in Jesus te glo. Die inhoud van die geloof word aangedui as “dat Ek is wat Ek is”. Met hierdie “Ek is”, waarmee God Hom aan Moses bekend gemaak het (Eks. 3:14), openbaar Jesus Hom as God. Uiters betekenisvol is nou dat dit 'n Nuwe Testamentiese eggo is van die Ou Testamentiese openbaring van God se verbondsnaam, JaHWeH, wat vir die Jode wat na Jesus luister, welbekend behoort te wees. Voorheen het Jesus Hom as die Seun van God geopenbaar, maar met hierdie benaming stel Hy Hom aan die Vader gelyk en spreek Hy dit duidelik uit dat Hy self ook God is.


Hierdie waarheid omtrent Jesus moet geglo word deur almal wat van “hier onder” is en wat “tot hierdie wêreld behoort”, anders sterf hulle in hulle sondes. Die Jode wat Hom minag en neerhalend van Hom praat, ons van vandag, almal, sal in hulle denke ’n radikale verandering moet ondergaan. Hulle sal daartoe moet kom om Jesus te erken vir wat en wie Hy werklik is, anders bly hulle in hulle sonde en ontvang hulle die straf op die sonde.


Dit dui op die grootste ellende wat met ‘n mens kan gebeur. Om in die sonde te sterf, beteken om deur God verwerp te wees en die ewige dood in te gaan. In die lig hiervan is die soek na Jesus veel meer as net om Hom as Persoon te vind en in Sy teenwoordigheid te verkeer. Dit gaan om die soek ten einde bevryding van sonde te vind en op daardie manier die ewige dood te ontvlug. Maar dit kan vir dalk te laat word. Soek Hom terwyl Hy te vinde is anders sal jou geleentheid om Hom te kry, verby wees.


“The man who refuses to accept Jesus as Saviour and Lord has missed the target in life. He dies with life unrealized; and he therefore dies unfitted to enter into the higher life with God”

(William Barclay).


Gebed: Jesus, dankie dat ek U altyd by my het. Omdat U by my is sal ek nie struikel nie, sal ek nie in my sonde sterf nie, sal ek nie deur God verwerp word nie. O Here, ek behoort aan U. Sonder U is ek niks! ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, alles wat ek ontvang, kom van U af. U is verbysterend goed vir my. Ek wil U loof Here, want dit is U wat my tot regte insigte gebring het. By U vind ek net oorvloedige blydskap en ek voel veilig. Dankie Here, dat U my deel gemaak het van ons Vader se soewereine heilsplan, al verdien ek dit nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page