top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


STROME LEWENDE WATER (1) – JESUS SE UITNODIGING


Joh. 7:37-39 – “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.”


Vergelyk ook Jes. 55:1 – “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet.”


Volgens die voorskrifte van Moses het die huttefees sewe dae geduur, maar die volk het later ’n agtste dag bygevoeg, wat as rusdag deurgebring en waarop voorgeskrewe offers gebring moes word (Lev. 23:34–44; Num. 29:12–39). Die “laaste dag” was dus die agtste dag van die verrigtinge, maar die “groot dag” waarna Johannes verwys, was die sewende dag waarop die fees ’n hoogtepunt bereik het. Die verrigtinge by die huttefees was ryk aan simboliek wat verwys het na die volk se trek deur die woestyn, die water uit die rots, die aankoms in die beloofde land en die opsien tot God vir seën op die oes. Die seremonie was as sodanig ook ’n bede tot God dat Hy in die komende jaar lewe, genoeg reën en vrugbaarheid mag gee.


Elke dag het die priester water met ’n goue kan uit die Siloamput geskep en dit aan die voorpunt van ’n seremoniële optog na die tempel gebring terwyl die feesgangers aanhoudend die woorde “met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding” (Jes. 12:3), loop en herhaal het. Onder feestelike trompetgeskal is dit een maal om die altaar gedra en daarna by die altaar uitgegooi terwyl die feesgangers sing, palmtakkies swaai en sitrusvrugte as teken van die oes, in die lug hou. Die sewende en “groot dag” is sewe maal om die altaar geloop om die val van Jerigo se mure in herinnering te roep en dan het almal uitgeroep: “Loof die Here , want Hy is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie” (Ps. 118:29).


Dit is waarskynlik op dié oomblik toe hierdie water-ritueel plaasvind, wat Jesus by Jesaja 55:1 aanhaak en uitróép: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” Jesus nooi daardie skare wat Sy bloed soek, die mense wat Hom misverstaan, wat Hom haat, wat Hom wil dood hê en uit liefde sê Hy: “Ek sal vir julle water gee, en as julle dit verniet kom drink, sal strome lewende water uit julle binneste vloei.” Hy verwyt nie deur te sê: “Die oordeel van die verderf gaan julle tref omdat julle my haat” nie. Hy sê: “Kom drink by My en strome lewende water sal uit julle vloei.” Net soos wat Hy later vir Júdas die brood en wyn gegee het – terwyl Hy weet dat Judas Hom gaan verraai – en vir hom sê: “My liggaam is vir jóú, my bloed is vir jóú!” Ek géé dit, verniet!


Die impak hiervan kan ‘n mens dadelik voel. Hulle is by die huttefees, waar water ‘n belangrike herinneringsrol speel. Daar is ook geglo dat daar in die laaste dae ‘n stroom water uit die tempelrots gaan kom wat deur die hele wêreld gaan vloei en lewe bring (Eseg. 47:1-9; Sag. 13:1). Terwyl die simboliek sterk in hulle fokus is, fokus Jesus hulle aandag op iets heelwat dieper: Hy kom beklemtoon dat dit wonderlik is dat God water vir mens en dier en oes voorsien, maar Hy het ‘n “ander water,” water wat nie net hulle fisiese dors sal les nie, maar ook hulle geestelike dors – die dors na die teenwoordigheid en krag van God self. En as iemand hierdie geestelike dors het, kom en drink by Hom! Jesus nooi jou uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”


Wie eers eenmaal daarvan gedrink het, se dors word nie geles nie, jy kom terug vir nog want die “lewende water van Jesus” bring oorvloedige geestelike lewe híér in hierdie tyd, en dit voer tot die ewige lewe in heerlikheid. Die “Lewende Water” bring herstel in strukture, dit bring genesing in verhoudings, dit bring uitsig waar hooploosheid geheers het. Dit bring genesing in huwelike, waar man en vrou dalk jare lank nie meer met mekaar gepraat het nie, sodat dooie huwelike skielik weer kan blom. Dáár waar die “Lewende Water” vloei, kom daar herstel in gesinne waar broers en susters in onmin gelewe het, sodat die gesinslewe weer vrug kan dra. Jesus nooi jou uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”


Dáár waar die “Lewende Water” beweeg, bring dit vernuwing in gemeentes en in gemeenskappe waar mense moeg geraak het vir die ou, bekende gesigte, sodat die mooi van ons saamlewe weer raakgesien kan word – sodat ons kan “leef met Christusharte“. Waar die “Lewende Water” vir Homself kanale maak om deur te vloei, dáár word die lewe nuut, dáár word droë grond deurvogtig en vrugbaar. Dáár verander gesindhede van mense en leef hulle met “Christusharte”! Dáár verander ‘n gewone lewe weer in ‘n mooi opwindende lewe! Jesus nooi jou uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”


“Die Gees van God deel eers liefde mee; dan inspireer Hy ons tot hoop; dan gee Hy aan ons vryheid” (Dwight Moody)


Gebed: Hemel Vader, maak my lewe ‘n fontein van lewende water wat opborrel en ewige lewe gee. Skep ‘n geestelike dinamika binne my om die ewige lewe wat U gee, nie net vir myself te hou en opgaar nie, maar dat ek hoop, vreugde en liefde aan mense om my, kan gee. Skep in my dieselfde gesindheid wat daar by Jesus was tydens Sy aardse verblyf. Skep vir my ‘n “Christus hart”. Ek neem U uitnodiging aan om die Lewende Water by U te kom drink. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page