top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 30 Januarie 2025

Koos Espach


Die voorbeeld van Abraham (6)


Vader van vele   

 

Rom. 4:9-10 – “Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: ‘Omdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10 Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was. Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was.”

 

Paulus se volgende vertrekpunt, onderstreep hy met ‘n vraag wat hy self dadelik beantwoord. Paulus sluit aan by die Psalmdigter se geseënd-verklaring wat gister in verse 7 en 8 aangehaal is. Hy vra of slegs diegene wat besny is, “geseënd is en wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word?” Is dit net die besnedenes wat “geseënd is en vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”  Die Jode het nie hieroor getwyfel nie. Aangesien hulle God se volk was, was die besnydenis ‘n soort van voorkeur by hulle om God se vrywaring te ontvang. Die seën sou dus net vir hulle geld!

 

Paulus, ook ‘n Jood, neem lynreg hierteenoor standpunt in en ontken dat sy mede-Jood voorgekeur word. Daar was immers ‘n tyd dat ook hý, sy vertroue voor God gestel het op die ‘bate’ van sy afkoms uit Israel en die goeie werke wat hy as Fariseër verrig het. God vergewe nie net Jode se sondes nie of seën nie net die besnedenes nie. Die besnydenis is nie ‘n voorwaarde vir die vryspraak nie, dit is net ‘n teken en seël van die vrywaring wat uit geloof verkry is en wat God uit genade geskenk het.

 

Paulus ruk die spreekwoordelike mat onder die voete van die Jode uit deur onweerlegbaar te bewys dat God Abraham éérs vrygespreek het, daarna is hy besny. Volgens hulle eie amptelike berekening, het God se verbondsluiting met Abraham al nege en twintig jaar vóór die instelling van die  besnydenis plaasgevind! Wat was dan die betekenis van die besnydenis? “Dit is ‘n seël wat bewys dat God hom (Abraham) vrygespreek het omdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was” (v. 11). Die besnydenis was dus ‘n teken van sy vryspraak en nie die rede daarvoor nie! Paulus maak dan die gevolgtrekking dat dit God se bedoeling was dat Abraham nie net die vader van die besnedenes was nie, maar die vader van álmal wat “glo, soos hy geglo het,” toe Abraham nog onbesnede was.

 

By implikasie beteken dit dat slegs die Jode wat in ‘n gelóófsverhouding met God staan, ware afstammelinge van Abraham is. Abraham se vaderskap kan dus nie beperk word tot sy vleeslike nasate nie, maar sluit die gelowiges van álle nasies in – ‘n menigte soos God aan Abraham belowe het – ‘n menigte soos die sterre aan die hemel en die sand van die see.

 

Paulus beklemtoon dat geloof die onontbeerlike voorwaarde is vir die regte verhouding tot God, nie die besnydenis nie. Die weg na God toe is nié lidmaatskap van ‘n spesifieke nasie, of enige groep wat hulleself kasty of merke op hulle maak as bewys dat hulle aan God behoort nie, maar op die geloof van Abraham wat ook buite die kring van vleeslike nasate en die besnydenis kan voorkom. Paulus keer die hele Joodse skema onderstebo – ons moet nie eers ‘n Jood word en ons laat besny om gered te word nie, ons moet in God glo en vertrou soos Abraham toe hy nog onbesnede was. Die geloof is die beslissende faktor, nie die besnydenis of tekens nie. Dit is geensins gereken op mense se verdienste nie, maar deur God se genade.

  

God se genade is ouer en groter as elke sonde. Menigte mense maak egter beswaar daarteen met ‘n: “Dit is darem te goed om waar te wees.” Hierdie beswaar is verreweg die algemeenste beswaar teen God se vrye genade. God sal jóú miskien vergewe, maar nie vir my nie want ek het meer sonde as jy. Ek het al te veel kere oortree om net op die wal van sonde te staan, ek is in die middel van die see van sonde! Die vraag is egter, het iemand méér skuld voor God as 'n ander? Gaan skuld net oor dit wat ons verkeerd doen, of ook oor die feit dat ons in sonde ontvang en gebore word? In wese is ons dus almal sondaars, en nie net sondaars word wanneer ons iets verkeerd doen nie.

 

Daar is niemand voor God op hierdie aarde wat nie méér skuld by God opgehoop het as wat hy of sy kan betaal nie. Ons hoef ook nie in ons skuld te bly nie: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:16). Gelukkig is daar troos vir ons: Jesus. Hy kom tree vir ons in wanneer ons stukkend voor die hemelse poorte opdaag en dra ons tot voor God se genadetroon. Wat ‘n wonderlike voorreg om vir Jesus te hê!

 

“Deur God se genade is ons losgeruk uit Adam, die wortel van alle kwaad, en ingeënt op Christus, die wortel van alle goedheid” (William Tyndale).

 

Gebed: Here, dankie dat U die oneindige lang pad aangedurf het vanaf God-wees na mens-wees om elke sondaar hier op aarde te kom soek en te bevry van die sondelas. Nou kan ek met vrymoedigheid sing: “Jesus ek eer U, opgestane Heer, omdat U oorwin het, sal ek triomfeer! Hoe was ek gebonde, hoe was ek verkneg. U bevry tot lewe, baan vir my die weg. Nou het ek ‘n toekoms, ‘n lewe by U Heer” (Lied 417). Dankie dat U bo-oor my rekening in die hemelse lêer: “VERGEWE DEUR GENADE”, geskryf het. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page