top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 28 Oktober 2024

Koos Espach


Die regverdige oordeel van God (3)

 

Christen-kindskap is geen kompetisie nie

 

Rom. 2:2-3 – “Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. 3 Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?” (2)

 

Vergun my om vandag weer by Paulus aan te sluit wat weet dat dit dwaas vir mense is wat self die dinge doen waaroor hulle ander veroordeel, om hulle te verbeel hulle is beter. “Ons weet” slegs as ’n mens blind vir jou eie sonde is, kan jy ander veroordeel en meen dat jy aan “God se oordeel sal ontkom.” Paulus het hierby waarskynlik aan die Jode gedink, wat van mening kon wees dat hulle as die volk van God van die oordeel bewaar sou bly, ondanks hulle sonde. Maar geld dit nie ook vir ons nie? En ek sluit myself hierby in.

 

Dit is vir my so maklik om te sien hoe ander se lewe ongeorganiseerd is, hoe agtelosig hulle is, hoe selde hulle bietjie ekstra moeite doen, hoe maklik hulle kan oordeel. Ek kan myself nie weerhou van “bekommernis” oor ander se probleme en foute nie. Wanneer ek egter myself krities evalueer, myself eerlik ondersoek, kom ek agter hoe blind ek is vir my eie sondes, kom ek agter dat dit niks anders was as ‘n oordeel van selfsugtige motiewe nie.

 

Jakobus sluit in sy brief by Paulus aan en was waarskynlik bekommerd dat snobisme die vroeë kerk infiltreer. “My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2 Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, 3 en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: ‘Kom sit u hier gemaklik,’ maar vir die arm man sê julle: ‘Gaan staan jy daar anderkant’ of: ‘Kom sit hier by my voete,’ 4 het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?” (Jak. 2:1-4).

 

Hy beskryf dan ook hier die verskil in behandeling wat die ryke teenoor die arme ontvang, en dit nogal in die “samekoms” – die kerk – waar hulle almal Christene saam, die God van liefde gaan aanbid het. Jakobus veroordeel dit dat daar diegene is wat deur genade tot geloof in Jesus Christus gekom het maar terselfdertyd mense meermale “op-sigwaarde-aanneem.”

 

Slegs die flenterjas, en moontlik die verweerde bedelaarshande sonder ringe, is raakgesien en dit het vir hulle één boodskap oorgedra: dié mens is arm en gering en verdien geen vriendelikheid of agting nie. En die woord van Jesus is vergete: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:40b). Geld dit nie dalk vir vandag se kerk ook nie? “Het ons dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?”

 

Ons wat in dieselfde erediens gaan bely dat ons in Jesus Christus glo, wat opgevaar het na die hemel; … van waar Hy sal kom om te oordeel …; Ons wat in die aanbidding, Jesus in sy heerlikheid aan die regterhand van die Vader aanskou, nadat Hy op aarde daardie heerlikheid afgelê en die “gestalte van ’n slaaf (dienskneg) aangeneem het (Fil. 2:7). Wat sien ons nou in die twee aspirant-aanbidders van Jakobus? Kan ons geestelik oordeel en ’n godsdienstige maatstaf neerlê, hier waar dit immers om geloof en godsdiens gaan? Of meet ons hulle aan hoe hulle geklee is?

 

As die geloofsaandag werklik op God gevestig is, val al die onderskeid ten opsigte van menslike glorie gewoon weg en word armes en rykes, geringes en aansienlikes, magteloses en magtiges gelykgestel deur God. Dit is ’n blywende maatstaf waaraan ons lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of ons werklik vrygemaak is en of ons begryp het wat daardie vryheid behels: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10). Goddank, Hy het my en jou gemaak wat ons nooit self kan wees of kan word nie. Ons behoort nie meer aan onsself nie, en “iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens” (2 Kor. 5:17). En kindskap, is geen kompetisie nie.

 

“Aanbidding is suiwer of minderwaardig na gelang van die aanbidder se verhewe of geringe gedagtes omtrent God” (A.W. Tozer).

 

Gebed: Jesus Christus my Here, laat my asseblief altyd besef dat my geloof in U, die aard en kwaliteit van my verhouding teenoor ander bepaal. Ons is almal die eiendom van geloof van die Here in die hemel. My voorkeure mag nie toelaat dat mense na gelang van my oordeel, afgekeur word nie. Dankie dat ek van begin tot einde U handewerk is – daarom is kindskap geen kompetisie nie en my mede Christen-boeties en sussies is nie mededingers nie. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page