Gedagte vir Vandag
Donderdag, 12 September 2024
Paulus in Rome (11)
Ons laaste woorde
Hand. 28:31 – “Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (3)
Paulus het ’n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom besoek het. Lukas vertel egter nie alles wat in Rome gebeur het nie. Hy sê in ons teksvers dat Paulus in daardie tyd die koninkryk van God verkondig het en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer het. Dit het hy met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering gedoen. Dit wil dus voorkom asof Lukas se bedoeling nie in die eerste plek was om die lotgevalle van Paulus te beskrywe nie, maar hoe dit met die evangelie gegaan het. Wanneer die evangelie “sonder enige verhindering” in Rome verkondig word, is die doel bereik en kan Lukas die skrywer, sy boek Handelinge afsluit.
Die vraag is wat ná die twee jaar gebeur het. Verskillende redenasies word aan die hand gegee. Moontlik bied die woorde “sonder enige verhindering” die sleutel tot die ontsluiting van die hele vraagstuk oor wat ná die twee jaar met Paulus gebeur het. Blykbaar het die Joodse beskuldigers nooit opgedaag nie, veral omdat hulle geweet het dat hulle beskuldigings nie keiser Nero sou beïndruk nie. Die getuienis wat ons in Handelinge teen Paulus hoor, kon moeilik gebruik geword het om die apostel ter dood te veroordeel.
‘n Ander standpunt wil dit hê dat Paulus ná twee jaar vrygelaat is, na Klein-Asië en Spanje gegaan het, en in daardie tyd die eerste brief aan Timoteus en die brief aan Titus geskryf het. Hy is toe vir ‘n tweede keer gevange geneem en skryf uit die gevangenis vir oulaas aan sy ‘geliefde seun’ en gee sy laaste opdragte aan Timoteus oor sy bediening as leier van die gemeente (2 Tim. 1:1-5). Paulus besef sy einde is naby. Kort voor sy dood in 64 nC skryf hy: 6 “Wat my betref ..., die tyd van my dood is voor die deur. 7 Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. 8 Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God” (2 Tim. 4:6-8).
Paulus besef dat die uurglas van sy lewe aan die leegloop is en hy deel van sy ‘afskeidswoorde’ op papier aan Timoteus en aan ons. Hartseer, maar feite. Wat sou ons laaste woorde wees as ek en jy geweet het dat ons sterwe op hande is? Paulus skryf sy lewe was soos dié van ‘n atleet wat ‘n wedloop moes aflê. Die goeie nuus is dat hy dit enduit gedoen het – ja, elke dag hard ‘geoefen’ het en voluit bly hardloop het in die geloof. Geen hindernis kon hom keer nie. Sy geloof in Christus Jesus het hom laat vasbyt. Dit vereis die stamina van ‘n marathon-atleet en die deursettingsvermoë van ‘n Everest-klimmer. Stephan Joubert sê mense wat gereeld voorbladnuus in die hemel wil wees, volhard deur dik en dun op God se pad. Geen opdraande maak hulle benoud of bang nie.
Soos Paulus, kan ek en jy ook weet die beste plek op aarde is digby God. Daar is ongelukkig nie kortpaaie na God se hart nie. Omdat Paulus sy eie planne opsy gesit het ten gunste van die Allerhoogste se planne, kon hy feitlik regoor die aarde tot in Rome volhard op die regte pad. Hy het sy oog heeltyd op die wenpaal gehou. Dis sy geestelike les aan ons om dit ook toe te pas. Want, daar aan die einde by die wenpaal, aan die einde van ons lewe, staan Jesus en wag. Paulus se dood, ons dood, is dus nie ‘n verskrikking of ‘n donker tonnel na die doderyk nie. Dit is die wenpaal by Jesus, ons Ewige Lig!
Die beste nuus is dat Jesus nie net daar by die wenpaal vir ons wag nie, Hy staan daar met die oorwinnaarskroon – die ewige lewe. Paulus sê ook vir ons dat daar meer as een wenner in God se span is. Elkeen wat glo in Jesus Christus en volgens God se reëls in die wedloop van die lewe hier op aarde deelneem, is ‘n wenner. Ons het aan die einde van die boek Handelinge in die Bybel gekom, maar Handelinge is nog nie vir ons afgesluit nie. Handelinge het ons geleer dat ons op ons lewenspad, nie altyd voorspoed moet verwag nie. Die lewe is nie altyd ‘n lied nie, maar soms ‘n stryd. Dankie tog, ons is nooit alleen in ons stryd nie, vra maar vir Paulus.
Paulus wil ons verseker, nee, God wil ons verseker, Paulus het dit net beleef en bevestig. In hierdie wêreld waar mense so gou op moedverloor se vlakte gaan sit, kan ons as gelowiges ons koppe optel, want ons het ‘n plek in die hemelse atletiekspan! En die beste nuus van alles is, ons hoef nie bang te wees ons gaan verloor nie, ons hoef ook nie bang te wees vir die dood nie, ons is op pad wenpaal toe. Jesus self wag daar vir ons met die ewige lewe as geskenk. Elkeen wat die geloofswedloop voltooi, gaan beslis die wennerskroon ontvang. Wat ‘n vooruitsig!
“As God wil hê ons moet iets vir die koninkryk aanpak, gee Hy ons ook die krag om dit met sukses af te handel” (Peter Marshall).
Gebed: Dankie Here dat ek deel kan wees van U span, ‘n span met ‘n ewige bestemming. Amen.
Comments