Gedagte vir Vandag
Donderdag, 5 September 2024
Koos Espach
Paulus in Rome (6)
Sienende blind en horende doof
Hand. 28:25-28 – “Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dit vir hulle gesê: ‘Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! 26 Hy het gesê: Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle: Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie; en kyk en kyk en tog niks sien nie. 27 Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak, sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie. 28 Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Hulle sal luister.”
Na Paulus se daglange gesprek met die Jode, het ‘n paar van hulle tot geloof gekom. Die res van hulle het egter geweier om die inhoud van Paulus se leerstellings te aanvaar. Die Jode van Rome kon nie onder mekaar tot ’n vergelyk kom om te aanvaar dat Jesus hulle verwagte Messias is wat God in die Ou Testament beloof het nie. Vir byna vyf en twintig jaar tydens sy sendingreise, het Paulus hierdie hardnekkige getwis onder die Jode ervaar, en nou weer hier in Rome. Toe hulle op die punt staan om te vertrek, het Paulus egter ‘n laaste skerp vermanende woord ingekry.
Bo die getwis van die Jode, roep Paulus hulle tot stilstand en hopelik ook tot stilte, om te luister wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja, vir hulle voorvaders gesê het, want dit is ook op hulle van toepassing. In Jesaja se tyd, ongeveer 630 jaar vC, was Israel al onbekwaam om te verstaan omdat die volk van die Here Hom nie wou ken en getrou bly nie (Jes. 5:13); hulle het deur afgodsdiens vasgewoel geraak in die bande van ongeregtigheid en het verstrik geraak in die kettings van sonde (Jes. 5:18). Die Here se waarskuwing in Jesaja 6:9-10 oor die verharding van Israel se ore, oë en hart word ook nou vervul deur die Jode in Rome se ongeloof teenoor die evangelie van Jesus.
Die skuld van hulle ongeloof en verharding van harte, rus op die Jode self. Al wat Paulus nou doen met die Jode in Rome wat Jesus Christus nie wil aanvaar as God se beloofde Messias nie, is om die profesie van Jesaja aan hulle voorvaders in 630 vC, in 59 nC toe te pas op hulle. Hierdie aanhaling uit Jesaja 6:9 ev, was bekend in die vroeë kerk. Jesus het dit gebruik (vgl. Luk. 8:10; Matt. 13:13-15; Mark. 4:12), dit is aangehaal deur Johannes (Joh. 12:39 ev) en Paulus het dit self gebruik in sy brief aan die Romeine (Rom. 11:8).
Tydens Jesus se aardse optredes, het Hy eers sy dissipels geleer wat die geheim van die koninkryk van die hemel, oftewel, koninkryk van God is, en waarom húlle dit verstaan, maar die skare en die Joodse godsdiensleiers nié. Jesus het veral gelykenisse om die “koninkryk” as tema te verduidelik en gebruik dit, waarin Hy aan die hand van bekende voorbeelde uit die alledaagse lewe, illustreer het hoe sy Vader se koninkryk daar uitsien.
Nadat Jesus die “gelykenis van die saaier” aan die skare voorgehou het, wou die dissipels by Hom weet waarom Hy gelykenisse gebruik as Hy met die mense praat? (Matt. 13:10). Sy vreemde antwoord was kernagtig wanneer Hy uit Jesaja 6:9 en verder aanhaal: “omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie ...” Om een of ander rede het Jesus se doodgewone verhale van destyds, tot vandag toe, vir baie mense onverstaanbaar gebly. Kortom, mense luister sonder om te hoor, kyk sonder om te sien – baie is horende doof, sienende blind en verhard hulle harte in ongeloof. En dis nie God se skuld nie, die volk én vandag se ongelowiges ontvang ook die gelykenisse, maar hulle onkunde toon dat dit as gevolg van die eie toedruk van hulle ore, toemaak van hulle oë, en harde harte wat nie wil verander nie, is.
Tot vandag toe is talle kerkmense geestelik blind en horende doof. Hulle luister gereeld na preke maar steur hulle nie veel aan wat Jesus sê nie. Hulle doofheid vir Sy lewensveranderde woorde maak dat hulle lewens yskoud bly. Een van die redes agter alle ongeloof en neutraliteit teenoor Jesus, die Seun van God, is die mens se geneigdheid om die eer van die méns, bó die eer van God, lief te hê. Die mens se mens-liefde! Katastrofies!
Dit was een van die vername redes van Israel se ongeloof en vandag nog die wortel van álle ongeloof. Dit mág nie met ons gebeur nie. Ek en jy moet ons ore spits wanneer Jesus aan die woord kom. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons oorweldig met die eenvoudige maar lewensveranderde woorde van Jesus, dit is ‘n kortpad na God se hart! Ons moet kerk toe gaan en luister na elke aardskuddende woord van ons Heiland, tótdat ons hoor. God se Woord openbaar die sonde of bring dit aan die lig, wat pynlik is om te hoor en te aanvaar, want tegelykertyd wond dit ons soos ‘n tweesnydende swaard (Heb. 4:12). Natuurlik is dit pynlik wanneer die Woord diep in ons lewe insny en ons ‘groot wonde’ opdoen. Gelukkig is daar troos – Jesus wat my en jou wonde sal verbind en sal dra tot voor God se genadetroon!
“Daar is niks erger as die misdadigheid van ongeloof om Jesus nie te wil vertrou nie – om te dink wié Jesus is, wát Hy gedoen het en vir wié Hy dit gedoen het, en steeds nie in Hom glo nie!” (Dr. Heugh – Skotland).
Gebed: Heilige Gees, ontwikkel my sintuie, skenk my geestelike sig en gehoor terwyl U saam met my wandel. Laat my Jesus se stem bo die lawaai van die wêreld se stemme hoor. Laat my koers hou in ‘n wêreld vol verwarrende omstandighede. Amen.
Comments