Gedagte vir Vandag
Woensdag, 14 Augustus 2024
Koos Espach
Die skipbreuk (1)
Laat U wil geskied
Hand. 27:39:41 – “Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het ‘n baai met ‘n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. 40 Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. 41 Maar die skip het op ‘n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan.”
Toe dit begin dag word het hulle die land gesien waarvan hulle deur die nag gehoor het hoe die branders daarop breek. Hulle het egter nie die land herken nie, want hulle gewone roete het nie by die eiland Malta aangedoen nie. Hulle het gewaar dat daar ’n baai was met ’n strand en wou die skip daarop laat strand. Die matrose kap die toue af om die sleepankers in die see te los, en maak die bande los wat die twee roere aan die agterkant van die skip aan mekaar gebind het. Hulle hys die voorseil sodat die wind die skip vinniger kan dryf om verder uit die see op land in te kom en hulle tot ’n mate, die skip op die strand af kan stuur.
Die wind het die skip egter op ’n klipbank laat strand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe van die skip wat reeds al so swaar gekry het, is in stukke geslaan deur die geweld van die golwe wat van weerskante teen die skip afgestorm het en die skip het middeldeur gebreek. Die matrose se planne het nie een geslaag nie. Wat is die kans dat almal die land veilig sou haal? Seker nie baie goed nie!
Soms, as ons oor ons planne vir die toekoms praat, voeg ons die woorde DV (Deo volente), “as die Here wil”, daarby. Soms word dit sagter uitgedruk met woorde soos: “as ons gespaar bly” of “as dit goed gaan”. Hierdie uitdrukking(s) wil te kenne gee dat daar ’n voorwaarde en voorbehoud aan ons lewens voorafgaan, só asof elke mens volledig oor sy eie lewe beskik. Maar dis ’n groot misvatting om só te dink. Vir seker, ons persoonlike verantwoordelikheid as mense word vir geen oomblik deur die Here opgehef nie (Ps. 119:109), maar ten diepste rus ons lewe altyd in groter hande (Ps. 31:16) – en daarom is dit belangrik dat ons altyd die DV by al ons beplannings byvoeg of ten minste by dink.
Hierdie gedagte word veral in die brief van Jakobus, die broer van Jesus, sterk beklemtoon: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn” (Jak. 4:13-14). Hulle kyk na hulleself in die spieël en sien ‘n trotse beeld van selfbeskikking met die voorstelling dat wat ookal beplan word, so te sê reeds uitgevoer is. Die wanneer en waarheen en tydperk van sommer vir ‘n “jaar lank”, is reeds selfversekerd vasgemaak. Bowenal “sal hulle sake doen en geld maak” en ewe spoggerig word ‘n hele jaar van hulle lewe ge-oormerk daarvoor. Alles gaan glad en volgens plan verloop!
Jakobus bederf egter hul “grootpratery” en bring hulle hard terug na die realiteit van die lewe. Hy maak dit baie duidelik dat die mens nie in beheer van sy eie lewe is nie. Hy herinner hulle, en ons, daaraan dat “hulle nie eers weet hoe hulle lewe môre sal wees nie.” Geen mens kan met sekerheid weet wat die volgende dag inhou nie en nog minder hoe dit benut gaan word. “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie” (Spr. 27:1). Dit is om “’n damp” op dieselfde spieël waarin ons kyk, te blaas sodat die wasem op die spieël verskyn, “dit verskyn ‘n oomblik en verdwyn sommer weer.” Die realiteit van die lewe is dat die verganklikheid van ons aardse bestaan, ‘n werklikheid is.
Jakobus klink erg pessimisties maar dit is nie sy bedoeling nie. Wat hy probeer tuisbring is dat ons onkundig is oor die aard van ons brose bestaan. Dit is natuurlik nie verkeerd om vooruit te beplan nie. Om passief deur die lewe te gaan is ook verkeerd. Dit is wel verkeerd wanneer dit ‘n saak van eie willekeur is. Hy wil vir ons die korrekte gesindheid voorskryf dat ons erkenning aan God se beskikking moet gee wanneer daar enige toekomsplanne gemaak word. God se heilsweg in hierdie geval vind oortuiging in “as die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen” (Jak. 4:15). Dit is méér toepaslik in die volledige beplanning van ons lewe.
Ons moet egter waak dat “as die Here wil” of die gebruiklike “DV”, nie ‘n sinnetjie word wat uit gewoonte of bygeloof gebruik word nie. Ons moet onthou dat die gebruik daarvan, juis ons afhanklikheid aan God openbaar. In teenstelling daarmee moet ons dan aanvaar wanneer ons beplanning van “môre” nie realiseer nie, dit die wil van die Here is. Dan moet ons met die “wil van die Here” vrede maak. Die uitvoering van ons voornemens vir die toekoms, is geheel afhanklik van die wil van God. Die Here sal ons teleurstellings in bestellings verander – “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop” (Spr. 16:9).
“Gebruik jou tyd nóú want elke oomblik is ‘n wonderwerk wat nie weer gaan gebeur nie” (Herb Montgomery).
Gebed: Hemel Vader, ek maak planne vir die toekoms asof ek vir ewig op aarde gaan lewe. Vergewe my asseblief Here, wanneer ek U nie erken in my toekomsplanne nie. Sluit my asseblief in U Raadsplan in sodat dit beskik oor my volle lewe. Amen.
Comments