top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 9 April 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (7)

 

Dood vir die sonde maar lewend vir God

 

Hand. 22:15-16 – “Jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. 16 En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.”

 

Paulus vertel vir die Jode hoe God ‘n hoogaangeskrewe Jood, Ananias, gebruik het om vir hom ‘n voorsmaak te gee van wat God in gedagte het. Paulus se visie as getuie was aanvanklik net vir die Jode, God s’n vir alle mense. Paulus sou oor taal en kultuurgrense uitreik met die beste nuus wat enigiemand nog ooit gehoor het. Paulus sou getuig “vir ons (wat in Jesus Christus glo) is daar net één God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net één Here: Jesus Christus, deur wie alles is (geskep is en bestaan) en ons deur Hom as kinders van God lewe” (1 Kor. 8:6). Paulus kon ervaar hoe God mense se lewens omkeer en nuut maak, al was hulle selfs nie Jode nie.

 

Omdat Paulus Hom gesien en gehoor het, was hy nou seker Jesus het uit die dood opgestaan en dat Hy aan die regterhand van God regeer oor die lewe van alles wat geskep is. Hierdie sekerheid van hoor en sien, het Paulus bekeer! Daarna moes hy op aandrang van Ananias hom laat doop het. Sy doop moes die uiterlike en sigbare teken wees van sy innerlike en geestelike reiniging van sonde deur die genade van God. Dit beteken natuurlik nie dat Paulus ooit afgesny was van God nie. Hy is immers nageslag van die God van Abraham, Isak en Jakob.

 

Paulus het die opdrag van die Here aanvaar om hom te laat doop as teken van sy verbintenis aan Jesus. Om ons te laat doop beteken dat God my en jou as sy kinders aangeneem het omdat ons deur geloof aan Jesus verbind is. Dit beteken dat God ons deur die doop in sy verbond inlyf! Om Jesus se “Naam aan te roep” beteken om Hom, wat vir ons sondeskuld gesterwe het en vir ons verlossing van die mag van sonde opgestaan het, te vra om ons te reinig van sonde. Die Naam van Jesus behels immers sy Persoon, sy reputasie, al sy woorde en werke, dat Hy God is wat mens geword het om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh. 1:1, 14). Om sy Naam aan te roep beteken om in Hom te glo en onsself aan Hom toe te vertrou.

 

Paulus ervaar die betekenis van die doop as verbintenis aan Christus al hoe meer tydens sy sendingreise, soos dit onder andere in sy brief aan die gemeente in Rome blyk: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei” (Rom. 6:3-4).

 

“Saam met Hom,” is die sleutelwoorde wat Paulus hier gebruik, maar wat beteken dit? Is dit 'n soort van ‘n simboliese verbintenis? Dit is moeilik om dit met ons menseverstand te begryp. Met Christus se dood en Sy opstanding, tree ons na vore in 'n nuwe gewaad, as nuwe mense, beklee met Christus. Ons is nuut, en lewe nou nuut. Ons is dood vir die sonde maar lewend vir God! Lees dit weer. Ons kan elke dag begin om vir onsself te sê: “Ek is ‘n nuwe mens, die ou mens is saam met Christus gekruisig. Ek is dood vir die sonde maar lewend vir God! Ek is “saam met Hom.”

 

Of ons kan aanhou wonder of ons “saam met Hom” is: “Dankie Paulus, dit klink alles goed en kan die waarheid wees, maar ek sien dit dan nie in my eie lewe nie! Ek het al so dikwels die ou mens saam met die sonde probeer begrawe, maar hy staan elke keer maar weer op. Ek het hom in ‘n graf gesit, en toegegooi, maar telkens beur hy weer boontoe, hy wil net nie dood bly nie.” Ons mense is verantwoordelik vir ons eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” (Jak. 1:14). 

 

Die goeie nuus is dat God ons nie sommerso in die begraafplaas van sonde laat verrot nie, Hy het sy Seun gestuur om Sy houtkruis hier tussen ons sondaars op te slaan, sodat “almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is.” Ons is in Christus se dood, ingedoop. Die doop is die uiterlike handeling waarmee ons ingelyf word in Christus se dood; dit is ‘n teken en ‘n seël van die reiniging van ons sondes deur Christus se dood. Paulus verseker ons dat “(ons) moet dus altyd onthou dat ook (óns) vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat (ons) een is met Christus Jesus” (Rom. 6:11). Deur die doop is ons in Christus verenig. Wat ‘n verligting! Nou kan daar ‘n wonderlike vrede op ons neerdaal, ons is nuwe mense wat vir God kan lewe! Al wat van ons sonde oorgebly het, is ons sonde se graf daar by Golgota.

 

“Christus is nie net ‘n goeie pad na die hemel toe nie; Hy is die enigste pad” (Karl Barth).

 

Gebed: Here Jesus, ek loof U dat U vir my die ewige lewe moontlik gemaak het. Ek dank U vir die feit dat U my posisie voor God verander het en dat ek nou kan lewe. Dankie Here dat U my dan vertroos met die feit dat ek “altyd moet onthou dat ek ook vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat ek een is met U.” Amen.

 

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page