Gedagte vir Vandag
23 Februarie 2021
Koos Espach
Jerusalem vandag, vanaf die Olyfberg
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (55)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (1).
(Matt. 21:1–22:46)
Die intog van Jesus in Jerusalem (1)
(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)
Groot wees deur klein te wees!
Matt. 21:1-5 – “Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: ‘Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n donkie kry wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.’ Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: ‘Sê vir Sion: Kyk, jou koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
Die Sondag voor Jesus se kruisiging, nader Jesus, sy dissipels en “die groot menigte” (v. 29) Jerusalem vanaf Jerigo aan die oostekant en bereik nou Betfage. Hierdie dorpie aan die Olyfberg (waarvan die presiese ligging nie seker is nie) is tegnies as ’n voorstad van Jerusalem beskou. Tussen die Olyfberg en Jerusalem was die Kedronvallei.
Lukas skryf vir ons dat Jesus voor Sy dissipels en skare uit geloop het (Luk. 19:18) nadat hulle Jerigo verlaat het. Dit was Sy laaste skof van Sy reis. Ek dink Hy wou juis met hierdie “haastigheid”, Jerusalem bereik om te verseker dat Sy aardse opdragte ten volle en volkome afgehandel is voor Sy kruisiging, dáár waar Hy vir ons sondes gaan sterf. Dáár waar Hy aan die wêreld wil wys dat “elkeen wat onder ons die eerste wil wees, moet ons slaaf wees” (20:27). Hy wil eerste daar wees sodat Hy as slaaf vir ons erfsonde van Adam, met die dood aan ‘n vloekhout moet betaal en met die wete dat alles wat Hy op aarde moes afhandel, met Sy laaste asem kon uitroep: “Dit is volbring” (Joh. 19:30). Die gevolge hiervan, sou egter nooit ophou nie!
Dit is dáár waar Hy in Sy grootheid as die Leeu van Juda, “die Lam van God word wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Daar waar Hy “die eerste mens Adam, wat ‘n lewende wese geword het vervang met die laaste Adam wat ‘n lewemakende Gees gaan word” (1 Kor. 15:45). Die natuurlike Adam se beeld wat eerste was, verskyn in alle mense, maar Jesus se geestelike beeld het daarna gekom, en dit is Sý beeld wat volkome sal verskyn in almal wat in Hom glo (1 Kor. 15:48-49). Dit is dié beeld van Jesus, wat ons gelowiges as beelddraers (Gen. 1:26) moet uitdra in die wêreld as diensknegte van God se koninkryk.
Op die Olyfberg aangekom, tref Jesus voorbereidings om as Messias die stad binne te gaan. Hy sou kom van die berg vanwaar die Jode die Messias verwag het (Sag. 14:4); as die verwagte Seun van Dawid sou Hy Hom openbaar, maar tog op so ’n wyse dat dit sou blyk dat sy koningskap ’n geestelike een is en nie ’n staatkundige nie.
Met Sy voorkennis en goddelike wysheid, stuur Jesus twee dissipels vooruit na Betfage met presiese aanwysings om te vind wat Hy nodig het. Hulle sal “’n Donkie kry wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar”, wat hulle moes gaan haal, “haar los maak en hulle vir Hom bring.” Op enige navrae in verband met hulle handelinge, moes hulle antwoord dat die “Here die dier nodig het en gou weer terug sal besorg.” Jesus kon seker daardie laaste gedeelte van Sy reis ook te voet afgelê het, maar Matteus voeg die Messiaanse profesie van Sagaria 9:9 en Jesaja 62:11 saam om aan die Jode te bewys dat Jesus as die Messias, tydens Sy intog in Jerusalem, die waarheid vervul: “Sê vir Sion: Kyk, jou koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
“’n Jong donkie waarop nog niemand gery het nie” (Mark. 11:2b), sou die gewillige rydier wees van die Seun van God. Al wou Jesus net die vul gehad het, is dit natuurlik dat altwee moes kom want 'n vulletjie laat hom nie sommer sonder die merrie weglei nie. Die vul kan makliker hanteer word as die merrie by is. Die ander drie Evangelieskrywers meld net een donkie. In plaas daarvan om uit te pluis hoekom Matteus verwys na twee donkies, moet ons eerder daarop fokus dat Jesus kies om Jerusalem op ‘n donkie binne te ry. (Vergun my ‘n persoonlike opmerking: ‘n “Donkie waarop nog niemand gery het nie”, is nog nie ingebreek nie en wíld. ‘n Wilde donkie laat niemand op sy rug klim sonder om hom af te gooi nie! Dit is egter ironies dat die Vredevors wat in nederigheid op ‘n vredesending was, selfs ‘n wilde donkie tot vredevolle nederigheid kon stem.)
Jesus is wel die Koning wat sou kom, maar anders as die heersers van Sy dag, ry Hy nie op ’n oorlogsperd nie. Perde was oorlogsdiere, simbole van mag, maar Jesus se rydier is ’n donkie, die dier waarop ’n gesant van vrede ry. Hy kom dus as die Bringer van vrede, die vrede van God vir die wêreld van sonde, en Hy doen dit in nederigheid en tog in koninklike heerlikheid. “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (v. 28).
In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond, lyk dit eintlik naïef om te praat van vrede. Volgens die doemprofete is ons in Suid-Afrika reeds óór die afgrond, binne in die modder! Ons lewe in ‘n wêreld vol angs, vol haat; probleme o.a. soos korrupsie, werkloosheid, onbekwame regering en onrus. Bowenal maak Covid dit ook nie makliker nie. Dit blyk ‘n wêreld te wees waar vrede ons bly ontwyk en waar onregverdigheid aan die orde van die dag is. Het ons nog die reg om vrede te verwag, het dit nie maar net ‘n onbereikbare ideaal, ‘n onbereikbare droom geword nie? Nee, al sou verskeie faktore dit wou bevestig, is die vrede wat Christus skenk ‘n onbetwisbare werklikheid vir elkeen wat God liefhet – “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Luk. 1:78-79).
Jesus se vrede is die stabiliserende faktor in hierdie ontwrigte wêreld. Die pad na hierdie vrede lê nie in die verandering van ons omstandighede nie, maar in die herskepping van ons gedagtes. Wanneer ek en jy die Heilige Gees sal toelaat om in ons lewe werksaam te raak, kán ons die diepe en blywende hemelse vrede ervaar. Die Heilige Gees sal ons weliswaar nie probeer help om die beproewings, gevare en probleme te ontvlug nie, maar ons verseker van ‘n kosbare skat wat belangriker is as die gees van die tyd waarin ons leef.
Iemand het gesê dat die geheim van vrede is nie om te doen wat jy graag wil nie, maar om met graagte te doen wat jy móét doen. Is dit nie wat Jesus vir ons wil wys met Sy nederigheid om eerder agter in die ry te staan, of om op ‘n donkie te ry? Dit is dan moontlik om te vergeet van onsself en ons stilweg oorgee aan die liefde van die Here om diensbaar te wees. Ons krag lê immers in stilwees en vertroue in ons “Regverdige oorwinnaar. Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
“As ons nie Jesus se innerlike het nie, sal uiterlike gemak en weelde net so min vir ons doen soos ‘n goue skoen vir ‘n rumatiekvoet” (John Bunyan – 17de eeu).
Gebed: Jesus, Prins van Vrede, draai my na U toe met die bede: “Here, gee vrede in ons tyd.” Die wêreld om my is oorvol onrus, geweld, korrupsie, dood, en ag, állerlei faktore wat my naïef maak omtrent wat werklike vrede behels. Here, ek bid vir vrede in my hart en lewe, daardie vrede wat van Uself kom, die innerlike vrede wat niemand van my kan wegneem nie, al gee die aarde pad. Dankie dat ek met blye versekering kan getuig: U is vir my ‘n toevlug en beskerming, maar ek wil vra, dat ek die kalmte van U volmaakte vrede nie net in myself sal dra nie, maar dit ook deurgee na die mense met wie ek in aanraking kom. Ek vra dit in u Naam, ons Vredevors. Amen.
Comments