top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 1 Maart 2024

Koos Espach


Paulus besoek vir Jakobus (5)

 

Ter wille van vrede

 

Hand. 21:22-24 – “Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is. 23 Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat ‘n gelofte afgelê het. 24 Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.”

 

Paulus se ‘evangelie’ het ingedruis teen die Jode se jarelange seremoniële wette wat hulle van geslag tot geslag gekoester het. Die wet van Moses was hulle alfa en omega, (besnydenis, godsdienstige feesdae, tradisies ens.), terwyl Christus, Paulus se Alfa en Omega was. Paulus se splinternuwe denke oor God het hom met die tradisies van die Jerusalemgemeente laat bots. Die verwyt dat hy aan die Joodse Christene in die buiteland leer om nie meer volgens die wet te lewe en dat besnydenis ook nie meer nodig is nie, laat Jakobus en die ouderlinge van die ‘moedergemeente’ in Jerusalem ’n retoriese vraag vra wat eintlik ’n inleiding is op hulle plan wat hulle aan Paulus voorlê.

 

Die leierskorps onder leiding van Jakobus het ‘n oplossing gehad wat Paulus sy goeie naam by die mense van Jerusalem en by hulle gemeentelede weer in ere sou herstel. Hulle het voorgestel hy moet in die openbaar bewys dat hy nie die wet verwerp het nie, deur die ‘nasireërgelofte’ (vgl. Num. 6) van vier gemeentelede by die tempel gaan betaal.

 

Alles ter wille van die vrede. En Paulus het vredesonthalwe ingestem. Of het hy hier ‘n kompromie getref? Ja en nee volgens die skrifverklaarders. Ja, want Paulus het lankal met alle Joodse tradisies gebreek, soos hyself in Kolossense 2 en Galasiërs 4 skryf. Nee, want hy het herhaaldelik in sy briewe gesê dat Christene ander se belange hoër as jou eie moet ag. In 1 Kor. 9 sê hy dat hy vir die Jode soos ‘n Jood geword het, en vir die Grieke soos ‘n Griek, net om hulle almal vir Christus te wen. Paulus het dus nie hier sy beginsels oorboord gegooi nie. Inteendeel, sy groot doel was om vir mense te leer wat dit beteken om in Jesus te glo.

 

Christus was die belangrikste, dié Christus wat Jesaja reeds eeue gelede geprofeteer het wie as Vredevors, se heerskappy sal uitbrei, en vir altyd vrede en voorspoed sal bring (Jes. 9:6). Dié Vredevors wie ná sy opstanding, sy vrede aan ons nagelaat het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27).

 

Jesus se erflating van vrede is van ’n ander gehalte as die vrede wat die wêreld gee. Jesus sê immers self so! Wanneer ons as  kinders van God se saak met Hom reg is, verdryf Jesus se vrede in die mees ontwrigte omstandighede, alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ’n afwesigheid van stryd, oorlog of ook onenigheid, ‘n vrede wat kortstondig en onseker is; gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie. Maar Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie. As gelowiges kry ons ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk want as kind van God kyk ons deur die oë van God. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir ons nie maar eerder hoe ons verhouding met God daar uitsien.

 

In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond en ‘n Suid-Afrika waar ‘n mens se lewe feitlik niks werd is nie, lyk dit naïef om te praat van vrede. Is dit nog ‘n reg om selfs net aan vrede te dink, of is dit dalk net ‘n ydele droom? Nee, al sou wie ook al hierdie vredesideaal wil verwoes, en al sou die gerammel van oorlogstuig dit wou bevestig, is die vrede wat Christus skenk onbetwisbaar en beslis ‘n werklikheid. Die vrede wat Jesus vir ons gegee het, is sy nalatenskap in Sy testament. Niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want Sy testament is bindend!

 

Iemand het gesê die geheim van Jesus se vrede is nie om te kan doen wat ons graag wil nie, maar om met graagte te doen wat ons móét doen! Maak nogal sin. Beteken dit nie maar dat ons in die lewe soveel moet insit as wat ons kan, eerder as om daaruit te neem soveel as wat ons kan nie? Ons kan by Paulus byvoorbeeld leer hoe om ruimte te gee vir ander se standpunte, sonder om ons beginsels te verloën. Mag die vrede waarvan die engele oor Betlehemsvelde gesing het, nie maar net ‘n ydele droom of dalk ‘n onbereikbare ideaal wees nie, maar laat ons deur ons geloof in Christus, ons Vredevors, daarvan ‘n heerlike werklikheid maak.

 

“Die vrede wat die wêreld gee, is die vrede van ontvlugting. Dit is tydelike vrede wat in raadsale en verdrae “gekoop” word om konfrontasie te vermy. Die vrede wat Jesus gee, is nie vrede van ontvlugting nie, maar van oorwinning. Dit is ‘n vrede wat geen konflik of probleem ons kan ontneem nie” (William Barclay).

 

Gebed: Genadige Hemelse Vader, ek aanbid U as die God van vrede. Here Jesus, ek buig voor U as die Vredevors. Heilige Gees, dankie dat U ons lei tot vrede en versoening. Te midde van al die chaos, verwarring, moord, korrupsie en al die slegte dinge in die wêreld en veral in ons land, draai ons na U toe met die bede: Here, gee asseblief vrede in ons tyd! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page