top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 29 Februarie 2024

Koos Espach


Paulus besoek vir Jakobus (4)

 

Vryspraak alleen deur Jesus, die opgestane Christus

 

Hand. 21:20b-21 – “(Hulle) het vir Paulus gesê: ‘Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. 21 Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.”

 

Gister vertel Lukas vir ons hoe hartlik hulle ontvang is in Jerusalem en die blydskap wat daar geheers het oor God se werk deur Paulus. Maar ... hierdie ongelukkige woord moet ook hier neergeskryf word ... die Jerusalemgemeente se leiers het direk daarna, eerder hulle kommer uitgespreek oor die gerugte wat oor Paulus se ‘liberale’ bediening onder die Jode en heidene die ronde gedoen het. En hulle beskuldig Paulus daarvan dat hy vir die gelowiges op sy sendingreise vertel het hulle hoef nie meer die Moseswette onderhou en hulle seuns besny nie.

 

Dit kan mos nie wees nie broer Paulus? Die gemeente was tog só trots oor die ‘duisende Jode’ in Jerusalem wat gelowig geword het – maar nie van hulle ou weë afgesien het nie. Dit is duidelik dat hierdie gerugte oor Paulus vals was, want nêrens in Handelinge of sy briewe is daar ’n aanduiding dat hy Joodse gelowiges aangemoedig het om hulle voorvaderlike gebruike te laat staan nie. Trouens, hy het hulle self onderhou. Hy het wel daarop aangedring dat hierdie gebruike nie van toepassing gemaak moet word op die gelowiges uit die heidene nie, dat die gebruike nie vir hulle saligheid nodig was nie.

 

Daar bestaan ook geen rede om te dink dat Paulus iemand verbied het om die besnydenis te beoefen nie, solank die besnydenis as sodanig, nie beskou is vir die verkryging van die saligheid nie. Hy het wel die Jode se verwagting dat hulle op grond van nakoming van die wet geregverdig kon word, afgewys. Dit kan slegs verkry word deur in die opgestane Jesus Christus te glo. In werklikheid, het die ‘duisende Jode’ in Jerusalem, (wat eintlik nie duisende was nie), geweier om hierdie vryheid in Christus te aanvaar.

 

In sy brief aan die Christen gemeente in Rome, ervaar ons Paulus se vurige verlange dat sy Joodse broers (en susters), gered word deur geloof in Christus: “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2 want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3 Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4 Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word” (Rom. 10:1-4). Israel het die wet nagejaag wat hy gemeen het sal help om die vryspraak te verdien. Hierdie wet kon hulle ongelukkig nie onderhou nie, soos niemand vandag, die wet kan onderhou nie.

 

Vandag weet ons dat God sondes vergewe as ons dit bely (1 Joh. 1:9). Ons weet van God se vryspraak, maar is nie altyd seker hoe om aandag te gee aan die metode van God se vryspraak nie. Ons wil ons eie metodes volg om vergifnis van sonde te verkry – reg te lewe of immers, probeer om reg te lewe; lidmaat van ‘n kerk wees of immers, darem op die “kerk se boeke” te wees; maandeliks ‘n bydrae te gee indien die begroting dit toelaat; lees darem nou en dan Bybel en bid gereeld want ons is van kleins af geleer om dit te doen en ja, ons is darem gedoop ook.

 

So volg baie van ons net soos die Jode in Paulus se tyd, ons eie kop en verwag dit is genoeg om outomaties vryspraak te ontvang. Die vertroue en geloof in wat Jesus Christus, ons Here gedoen het, is slegs ‘n visioen en nie ‘n waaragtige feit nie. Geloof is die dankbare vertroue op God se guns en beloftes. Maar dié weg wou Israel nie gaan nie. Hulle wou die weg deur wetsonderhouding en deur eie prestasie, die guns van God en Sy vryspraak verdien.

 

Ons kan nie bekostig om die kernaspek as Jesusvolgeling, van die hand te wys nie. Die meeste mense het geweier om Paulus se boodskap te aanvaar. Tog was daar altyd dié wat geglo het. Hulle het Christus aangeneem as hulle lewende Verlosser en Hom aanbid as die volmaakte openbaring van God. Hulle geloof het verder gereik as hulle verstand!

 

En ons? Styg ons geloof in die opgestane Jesus Christus ook bo enige menslike denke, of twyfel ons oor die opgestane Jesus Christus? God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. Christene verbly hulle in die kennis dat Christus opgestaan het en vir ewig leef – en ek en jy, daarom ook leef. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl want ons weet: “Jesus is die opstanding en die lewe. Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in Hom glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie” (Joh. 11:25-26). Glo jy dit?

 

“Met Jesus se opstanding vier ons die toekoms van die wêreld. Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het” (David Martyn Lloyd-Jones).

 

Gebed: Dankie Vader, dat uit U genade ook oor my lewe uitgeroep is: “Jesus is die opstanding en die lewe.” Opgestane Here, baie dankie vir die heerlike versekering dat dié wat in U glo, nooit sal sterwe nie. Dit sluit vir my en elkeen wat in U glo, ‘n nuwe toekoms oop. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page