top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 28 Februarie 2024

Koos Espach


Paulus besoek vir Jakobus (3)

 

Lofsingende geloof

 

Hand. 21:20a – “Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys ...”

 

Paulus het tydens die ontmoeting met Jakobus en die ouderlinge van die ‘moedergemeente’, die deeglike verslag van sy sendingwerk onder die nie-Jode afgehandel. Die ander rede vir sy besoek aan die Jerusalemgemeente, was om saam met die verteenwoordigers van die verskillende gemeentes wat as gevolg van sy sendingwerk ontstaan het, ‘n groot bedrag geld aan hulle Joodse broers en susters in die Here te oorhandig, om hulle uit hul verknorsing te help. Ongelukkig vertel Lukas nie of die Jerusalemgemeente hierdie kollekte aanvaar het nie.

 

Lukas vertel wel dat daar blydskap was onder Jakobus en die ouderlinge van die Jerusalemgemeente by die aanhoor van Paulus se realistiese verslag. Sy toehoorders kon nie anders as om God te prys vir wat hulle gehoor het nie, want hulle het die wonderbaarlike sukses van Paulus se werk aan God toegeskryf.

 

Iemand het gesê, baie edele dade wat groot opoffering en onselfsugtigheid aan die dag lê, word deur mense verrig. Sommige van hierdie dade laat ‘n mens verstom staan, veral dade van liefde, want, die daad van die liefde kom immers van Jesus wat dit saamgevat het in die ‘grootste gebod’ van liefde teenoor God en ons naaste. Daarom is die edelste daad vir ons as mense, om die lof van ons Almagtige Vader te verkondig en om God te prys.

 

Lofprysing sal altyd deel wees van aanbidding want ons is in God se teenwoordigheid. Dit is ‘n gesindheid wat ons elke dag moet openbaar, nie net op Sondae tydens eredienste nie. Lofprysing is ‘n verhouding met God, ‘n verwagting dat Hy ons sal wil leer, dat Hy graag wil doen wat Hy belowe het, dat Hy in alles die oneindige God sal wees. Ons moet Hom net toelaat om die almagtige God te wees, “elke dag ons verwagting in Hom stel” (Ps. 25:5).

 

Die Psalmdigters besing die lof van God in sestig van die Psalms. Toe Jesus aarde toe gekom het, het ‘n nuwe klomp lofliedere na die hemel opgestyg. Ons sien dit in die engele se loflied, asook Maria en Simeon (Luk. 2:28) en Sagaria (Luk. 1:67 e.v.). Dan sien ons ook in Openbaring die lofliedere weerklink verder, viervoudig word dit uitgejubel: “Prys die Here” (Op. 19:1-6). Wanneer ek en jy van God se genade bewus raak, kan ons maar ook daaroor sing.

 

Daar is ‘n bron van onbeskryflike krag en geestelike versterking in danksegging en lofprysing aan ons Almagtige God. Ware lofprysing is ‘n gesindheid wat ons denke en ons harte verhef tot God – die Gewer van alle goeie gawes. In hierdie verskeurde en donker wêreld waarin ons leef, is dit nodig om sommer elke uur van elke dag ons Here te loof.

 

Ons kan inval by Jesus se aardse moeder Maria, se loflied (Luk. 1:46 e.v.), en saam met haar bly wees oor die feit dat die Here Hom oor geringes soos ons ontferm. Ons is klein en sondig, maar tog buig ons Almagtige Vader in liefde na ons neer en strek sy hand na ons uit. Saam met die Psalmdigter van Psalm 113 kan ons as dienaars van die Here, sy Naam prys; sy Naam loof vir nou en vir altyd. Van waar die son opkom, tot waar dit ondergaan, moet sy Naam geprys word.

 

“Lof aan God is die enigste van ons aktiwiteite hier op aarde wat onveranderd in die hemel voortgesit kan word – en dit bring ons oneindige vreugde”, skryf CS Lewis. Dit is daardie soort vreugde wat nie gekoppel is aan uiterlike omstandighede nie, vreugde wat gemaak het dat Paulus en Silas lofliedere in die tronk kon sing, dat Dawid te midde van groot swaarkry vir die Here lofpsalms kon skryf. En daardie vreugde kan myne en joune ook wees! Sonder God, is daar geen werklike vreugde nie. Kom ons loof Hom dat Hy gereeld by elkeen van ons huise ‘n draai kom maak. Kom ons gebruik elke minuut om God te loof omdat Hy sy Seun om my en jou, én ons dierbares se ontwil, aarde toe gestuur het, sodat ons in sy vreugde kan deel. Loof Hom vir sy Gees wat permanent by ons is!

 

“Lof aan God is soos ‘n ploeg wat diep in die grond van die mensehart indelf. Dit plaas die saad van God se heerlikheid diep in ons daaglikse lewe” (CM Hanson).

 

Gebed: Here, uit my hart uit wil ek sing tot eer van U Naam, wil ek U prys. Dankie dat ek mag bly wees. Dankie vir so baie dinge wat my bly maak. Dankie dat ek lof aan U kan bring, maak nie saak hoe sleg my omstandighede is nie. Dankie dat U die Bron van blydskap is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page