top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 27 Februarie 2024

Koos Espach


Paulus besoek vir Jakobus (2)

 

God se teenwoordigheid

 

Hand. 21:18-19 – “Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19 Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het.”

 

Die volgende dag is Paulus, vergesel van die verteenwoordigers van die gemeentes wat saam met hom Jerusalem toe gekom het, na die leiers van die Jerusalemgemeente om ‘n vergadering te hou. Jakobus, die broer van Jesus was ná die vervolging van die Christene in Jerusalem, die leier van dié eerste gemeente in Jerusalem. Hy het op ’n wyse en regverdige manier sy leierskap oor die Christelike gemeenskap uit die Jodedom uitgeoefen, en het die agting van die hele Christelike gemeenskap geniet, en ook dié van die gewone Jode in Jerusalem. Die ouderlinge wat ook by die ontmoeting teenwoordig was, was die oudstes en leiers van die gemeente.

 

Paulus neem die inisiatief en groet hulle, waarna hy uitvoerig verslag doen oor wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het. Hy beskou dit as God se eie werk en bied dit ook so aan – letterlik: ‘hy het ten volle en duidelik vertel, stuk vir stuk, wat God onder die heidene gedoen het deur sy (Paulus se) bediening: “Wat is Apollos dan? Wat is Paulus. Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het” (1 Kor. 3:5). Wat die Christene uit die Jodedom en die Jode ook al mag gedink het, een ding was seker, Paulus beklemtoon dat dit God is wat die bekeringswerk deur sy diensknegte onder die heidene beplan en uitvoer.

 

God doen groot dinge! Ek dink as ons ‘n opsomming moes maak van Paulus se verslag aan Jakobus en die ouderlinge van die ‘moedergemeente’ oor God se werk onder die heidene, sou dit dalk die aangewese beskrywing wees. Ons kon ongetwyfeld ook byvoeg dat God se heel grootste dade steeds is dat Hy sondaars red! Hy doen dit nie omdat ons so oulik is nie, Hy doen dit omdat Hy ons om Christus ontwil liefhet, ten spyte van ons geestelike pyne en kwale. Dit is dan ook hoe Christus Hom aan ons openbaar het: “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hom sal My Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar” (Joh. 14:21).

 

Die voorwaarde van hierdie openbaring van Jesus is in een woord saamgevat: liefde! “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet ...” Dit is die ontmoetingspunt tussen Goddelike en menslike liefde. Christus se liefde behoort só van ons hart besit te neem, dat ons nie anders kan as om gehoorsaam te wees nie. Wanneer Jesus in ‘n mens se hart aan die werk is, kan ons net soos Paulus in moeilike omstandighede volhard – ons noem dit vasbyt. Die voorwaarde natuurlik is dat ons altyd met Christus in ‘n verhouding bly, anders word ons geïsoleer van ons krag en heel moontlik ook van ons besieling. Om in ‘n verhouding met Christus te bly, maak dit moontlik dat ons saam met Paulus kan getuig: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil. 4:13).

 

Paulus se tevredenheid as dienaar van Christus, is dat hy geweet het Jesus beskik oor alle mag in hemel en op aarde, en daarom vir hom in énige situasie krag sal gee. Hieraan kan ek en jy en élkeen wat aan Christus behoort, ook aan vashou! Gelukkig is dié van ons vir wie dit nie bloot mooi gedagtes op papier is of dit hier lees nie, maar wat dit al prakties in ons eie lewens kon ervaar – die Koning van alle konings is ons Kragbron!

 

Wanneer ons lewe in die Here geanker is, vloei daar hemelse krag deur ons. Dit bring standvastigheid in ons geloof, standvastigheid in ons leefwyse en ook ‘n mate van kalmte en vrede. Daardie vrede wat God uit genade bewerkstellig tussen Hom en ons as sy kinders. Ek hoop nie ek klink voorbarig nie, maar ek glo met my hele hart dat God my uit genade sy kind noem en dat Hy nie heeltyd op my hakke loop om my terug te kry vir al die lelike dinge wat ek al aangevang het nie. En jy wat hier lees, kan ook so glo. Nie omdat ek so sê nie. God sê so. Hy gee vir elkeen ‘n tweede kans, al is dit die duisendste tweede kans!

 

Ek en jy kan dankbaar wees oor elke dag se genade. Ons kan tevrede wees met wat God in ons lewe doen. Sy teenwoordigheid maak ons vol blydskap. Sy teenwoordigheid bring arbeidsvreugde want Hy werk soos met Paulus, deur ons. Sy teenwoordigheid maak van ons sagter mense, iemand wat by ander gaan stilstaan, ja, selfs ‘n traan saam met hulle kan stort. Sy teenwoordigheid word bevestig deur sy krag wat deur ons vloei, daardie krag van die Gees wat ons moet toelaat om verkeerde dinge uit ons lewe weg te kap, terwyl ons oë standvastig in geloof, op Jesus Christus gevestig bly.

 

“Die Here se blydskap en teenwoordigheid in ons lewe werk soos ‘n kaggelvuur op ‘n winteraand – dit trek ander mense nader wat nog buite in die koue staan” (Stephan Joubert).

 

Gebed: Here, U teenwoordigheid verseker my van moedige en vreugdevolle arbeid. Vergewe dat ek soms huiwer om in ongeloof, nie my moue oprol en diensbaar raak nie. Help my om gedurig U teenwoordigheid te soek, sodat ek nie geïsoleerd raak nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page