top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 23 Februarie 2024

Koos Espach


Paulus se reis na Jerusalem (7)

 

Genade verander alles

 

Hand. 21:15-16 – “Na ‘n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek. 16 Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds ‘n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan.”

 

Paulus het reeds uitgespel om in Jesus se voetspore te loop, is nie ‘n lewe van triomf op triomf in klere wat glinster en juwele wat skitter nie. Om Jesus te volg, is om kruis op te neem, al kos dit sy dood. Sy metgeselle toon dat hulle sy voornemens aanvaar het, en tref voorbereidings om met perde die laaste ongeveer 104km na Jerusalem, Paulus te vergesel. Hulle het by Mnason, ‘n gelowige wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, oornag. Dit sou immers veilig wees daar.

 

Dit was vir Paulus belangrik dat gelowiges vir mekaar omgee en mekaar bystaan. “Elkeen moes na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar” (1 Kor. 16:2), sodat hy dit later kon versamel of afgevaardigdes stuur om dit te gaan haal. Sy missie was om die geldelike hulp wat hy op sy sendingreise bymekaar gemaak het, vir die arm gelowiges in Jerusalem te neem (Rom. 15:26). Daar was tye in sy lewe dat dit met hom so swaar gegaan het dat hy gevoel het asof die doodsvonnis oor hom uitgeroep is (2 Kor. 1:9). Paulus het egter in baie moeilike omstandighede volhard, aangehou waar ander lankal handdoek sou ingooi, want God was elke keer dáár om hom te bemoedig en te troos (2 Kor. 1:3). Die nuutgestigde ‘gemeentes van gelowiges’, kon nie ander pad kyk as sommige mense te min lewensmiddele het terwyl ander in hulle oorvloed verstik nie.

 

Ons leef in ‘n tyd waar baie mense hulle werk verloor, baie wat sukkel om werk te kry en baie wat eenvoudig net nie kán werk nie as gevolg van verskeie redes. Armoede en swaarkry is daagliks rondom ons en alles lyk donker en mismoedig. Om te kan ondersteun, "iets opsy sit”, beteken dat ek en jy oor die nodige middele beskik om te kan help. Maar dan ook, as ons self niks het nie of miskien net genoeg het om onsself en ons gesinne regop te hou, hoe kan ons ánder help om regop te bly?

 

Bybelse barmhartigheid bestaan nie uit ‘n gevoel of ‘n houding nie, dit is gedagtes wat in medelydende aksies verander – iets moet gedoen word! Dit help niks om net te vertel hoe jy omgee en hoe barmhartigheid toegepas moet word, en dit verander nie in fisiese aksie nie. Charles Spurgeon het gesê: “Barmhartigheid beteken nie net om mediese hulp, kos en skuiling te gee aan mense wat dit nie het nie, gee aan hulle ook die woorde van die Waarheid. Mense het die evangelie meer nodig as enigiets anders.” Om sonder Jesus die ewigheid in te gaan is om met lyding, pyn, angs, en sonder hoop, vir ewig te sterf!

 

Die wêreld waarin ons leef is een van desperaatheid, tragies, bejammerenswaardig en baie donker. Daar is nie ‘n tweede kans nie. Omdraai is dalk te laat terwyl mense se siele in gevaar verkeer. Geen kospakkie, kledingstuk of bakkie sop kan uitgedeel word sonder die Woord van God wat lewend is nie. Barmhartigheid is omgee met ons hele hart, om ‘n verskil te maak, om betrokke te raak en nie net betrokkenheid te praat nie. Stephan Joubert sê ons moet God se genade na die mense toe neem, maar ook onthou dis ‘n lang en moeilike pad.

 

Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diégene op ons voorkeurlysie nie. Om barmhartigheid te bewys beteken niks as die tydelike verligting van basiese behoeftes nie gepaard gaan met dit wat ewigheidswaarde het nie. Dit laat ons met die vraag of genade die moeite werd is? Beslis! Dis al wat daar is. Dis die verskil tussen lewe en dood – dis die oorsteek van die ewige dood na die lewe by God. En dis verniet. Dis onverdiend. Dis ‘n geskenk direk uit die hemel. Genade is nie die belangrikste hoop vir hierdie stukkende wêreld nie, dis die enigste hoop!

 

Hoe kry ek en jy van hierdie genade in die hande? Daar is net een manier: Gaan bedel by God. Dis net ‘n gebed ver. Dis net ‘n Woord ver: Glo in Jesus Christus! Kan ons dit deel met ander? Ja, dis al wat ons gelowiges kan aanbied vir ‘n sterwende wêreld. Slegs genade – Sola Gratia! God se genade is die grootste geneesmiddel. Dit maak sondaars lewend. Dit bied aan sondaars en selfs gelowiges wat gestruikel het, ‘n tweede kans. Genade verander alles! Meer nog, dit laat ons opkyk na God toe. Met dankbaarheid weet ons dat ons God van genade steeds in beheer is van hierdie stukkende wêreld. Ons kan maar net by Hom ‘n stukkie genadebrood gaan bedel, ons sal meer kry as waarvan ons ooit kon droom. Méér as genoeg, ook om te deel met ander!  

 

“Genade is ‘n verantwoordelikheid: Niemand kan doodgewoon voortgaan met ‘n onveranderde lewe nadat jy met God versoen is nie. Die deur na God is oop vir sondaars – lééf dus jou heiligheid en maak ander deel daarvan” (William Barcklay).

 

Gebed: Here, skenk ons die genade dat nie net die maag gevul word met barmhartigheidsdiens nie, maar die siel gevul word met U magtige en bruisende lewe van genade. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page