top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 8 Februarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (10)

 

Ons is kinders van God

 

Hand. 20:32 – “Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.”

 

Hyself sal nie langer by hulle wees nie, maar Paulus los hulle in die beste hande. Hy vertrou hulle aan God toe en aan die woord van sy genade. As God en Christus vir die ouderlinge sorg, is hulle veilig en sal hulle hulle amptelike werk op die regte manier kan doen. Paulus weet ook dat die woord wat magtig is om hulle op te bou, volwasse Christene van hulle sal maak en “hulle toerus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus” (Ef. 4:12). Deur hierdie woord word hulle ook verseker van hulle erfenis saam met al die gelowiges wat geheilig is deur sy genade.

 

Wat beteken dit vir ons? Paulus is vandag ook nie meer by ons nie, maar soos wat hy die Efesiërgemeente toevertrou het aan God, so sluit dit ons natuurlik ook in. Gelukkig is daar Een wat groter as Paulus is wat elke dag vir sy kinders sorg. Ek en jy sal ook “deel in die seëninge wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.” God se woord, wat deur sy Gees ondersteun word, is magtig om alle gelowiges op te bou en te laat deel in die seëninge wat Hy vir ons voorberei.

 

Paulus bevestig dat ons sal deel in hierdie seëninge wat God as erfdeel aan al die gelowiges belowe het: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Rom. 8:14-17).

 

Is dit nie wonderlik nie? Die Koning van alle konings en die Heerser van alle heersers is ons Vader! Deur God se genade beklee ek en jy ‘n geweldige bevoorregte posisie – die posisie van koningskind! Ons kan dit élke dag so beleef! Die Gees skep vir ons die kindergesindheid. Dit is immers Hy wat ons laat roep: “Abba!” Daarom is een van die aangrypendste waarhede in die Skrif dat ons sondaars, kinders van God kan word. Die feit dat God gewillig is om my en jou as sondaars, Sy kinders te maak en so te noem, klink onbegryplik en tog is dit presies wat die Woord van die Here ons leer: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).

 

Die feit dat ons God as “Abba” mag aanspreek, beklemtoon hoe naby Jesus, die Vader regtig aan ons gebring het – as gelowiges staan ons in die intiemste kring van ons “Abba, Vader!” en is ons daarom “ook erfgename van God, erfgename saam met Christus.” As kinders van God leef ons in ‘n verhouding van persoonlike liefde en blydskap met Hom. Ons spring elke dag met geloofsvertroue in ons Vader se arms en roep: “Vader!” Ons kyk hoe ons vir ons hemelse Vader kan tevrede stel en bly maak!

 

Die Heilige Gees wil ons laat besef dat ons kinders van God is; wat dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê; klein genoeg te wees sodat ons God kan aanroep soos ‘n kindjie: ‘Abba, Vader!’ Die hartseer is dat ons deur die lewe kan gaan sonder om vir God ooit as Abba Vader aan te spreek. Ons is in die Vaderhuis, ons is kinders van die Vader, maar ons loop nog steeds met slaweharte rond. Ons het nog nie daardie intimiteit  met ons hemelse Vader ontgin nie. Om Hom te dien is baie keer ’n plig, nie ’n voorreg nie; ’n móét, nie ’n mag nie; ’n saak van vrees, en nie van blydskap en liefde nie.

 

Ek en jy kan in ons harte oortuig wees van ons hemelse kindskap. Ons kan God werklik beleef as ons Vader. Hy is beslis nie ‘n Big Brother wat ons voortdurend met arendsoë dophou om te sien of Hy ons kan uitvang wanneer ons oortree of sondig nie. Inteendeel, hierdie siening is heeltemal onbybels! Nee, ‘Abba, Vader,’ wil die intiemer sy van Homself vir ons kom wys, Sy arms uitsteek en ons op sy skoot kom tel, ons  vashou en naby ons wil wees en sê: “My kind, Ek weet die lewe is soveel beter as jou Pappa naby is.” Ai, ons is darem bevoorreg. En om die kersie op die koek te plaas, kan ons opgewonde wees dat ons saam met Jesus erfgename van God ons Vader se rykdom is. Iets om na uit te sien né!

 

“God is nie ‘n idee of ‘n definisie wat ons van buite geleer het nie: Hy is ‘n teenwoordigheid wat ons in ons hart ervaar” (Louis Evely).

 

Gebed: Hemelse Trooster, dankie vir U teenwoordigheid, ‘n teenwoordigheid wat anders is, soveel groter, soveel meer intiem en vertroostend. Dankie dat U my die versekering bied, die versekering wat alles oorskry: “Dat ek ‘n kind van God is!” Verseker en herinner my elke dag daaraan. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page