top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 2 Februarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem  

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

 Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (6)

 

Alles is vir ons vertel

 

Hand. 20:25-27 – “Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. 26 Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, 27 want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie.”

 

In die derde deel van sy toespraak met die ouderlinge van Efese daar in Milete, skets Paulus sy toekoms en dié van die gemeentes in Asië. Hy sê dat hy onder hulle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, maar dat hy nou weet dat hulle hom nie weer sal sien nie. Hy het dit waarskynlik afgelei uit die groeiende teenstand van die Jode, asook uit die voorspelling dat daar in Jerusalem gevangenskap en vervolging op hom wag (v. 23).

 

By hierdie geleentheid verklaar hy dat dit nie sy skuld is as enigeen van hulle verlore gaan nie. Hy beklemtoon dat hy dit “vandag” doen, terwyl hulle voor hom staan en hy die laaste kans het om met hulle te praat. Paulus het sy sending/sy diens, voltooi as ’n lewende getuie van die evangelie van God se genadige verlossing deur Jesus Christus, die Koning van God se koninkryk. Dit is nie hoogmoed of eiewaan van hom wanneer hy so praat nie. Hy het die woord van God getrou verkondig en is nie verantwoordelik daarvoor as iemand nie daarna wou luister nie. Wat hy eintlik sê is, nie een van hulle se bloed is op sy hande nie – “Hulle het die ramshoring gehoor, maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood” (Eseg. 33:5).

 

Wat Paulus hier probeer doen het deur nie na te laat  “om die heilsplan van God in sy volle omvang aan hulle te verkondig nie”, is vandag steeds die moeilike taak van leraars om God se Woord, en sy wil op die regte manier aan gelowiges oor te dra. Ek is seker dat die meeste van die leraars graag net ‘mooi’ preke sou wou lewer wat niemand kwaad maak nie, maar dit is verseker nie altyd moontlik nie. Patykeer moet die Woord ook soos ‘n swaard met twee snykante wees, soos die Hebreërskrywer sê (Heb. 4:12). God se volle raadsplan moet verkondig word en nie net die ‘mooi en lekker’ daarvan nie. Soms maak dit seer, veral daardie preke wanneer die leraar ‘net met jou gepraat’ het. Ja, en ongelukkig is daar ook diegene wat dan aanstoot neem en hulle heil by ‘n ander kerk gaan soek, of besluit kerk is nie vir hulle nie.

 

Maak nie saak watter kerk dit is nie, die taak van elke leraar van die kerk is om die Woord van God, dit waaroor God oor Homself deur die eeue bekend gemaak het, oor te vertel – alles daarvan – the good, the bad and the ugly. Die wye en volle spektrum van God se genade moet gehoor word! Ek en jy moet die nodige kennis van God se Woord hê sodat ons kan staande bly in versoekings en ook wanneer valse leringe na ons kant toe geslinger word. Ons moet die volle raadsplan van God ken, nie net wat ons graag sal wil hoor nie.

 

Ons kom gedurig onder die geklank van die Woord en is ook nie onbeïndruk nie. Na ‘n “treffende boodskap dominee”, of “jou boodskap het vandag weer diep gesny dominee, dankie ons het dit weer nodig gehad”, draai ons om huis toe, drink ‘n koppie tee, (of ietse sterker), braai ‘n vleisie, vee monde af en … leef maar weer voort soos altyd. Ons gewete is immers gesus tot volgende week se diens.

 

Ons het vandag die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord in die Ou- én Nuwe Testament. God se roeping tot ‘n persoonlike verhouding met ons, word veral sigbaar deurdat Hy kennis van Hom binne ons bereik gebring het – en om ons nog verder te bevoorreg, bring Hy dit in ons eie taal! Maar, wat maak ons met hierdie voorreg? Het die Bybel maar net nog ‘n boek geword wat êrens in die huis stof opgaar? “Die belangrikste is dat God sy woorde [aan ons] toevertrou het” (Rom. 3:3), en dit beteken nie dat die Bybel veilig gebêre moet word nie, maar wat daarin staan, geléés moet word, gedóén moet word en wat dit vra, te déél met ander.

 

Goddank, ons is bevoorreg om ‘n Bybel te kan besit – dit is lewende woorde van die lewende God wat Sy Woord vir ons uit genade gee! In ons geestelike groei moet ons nie net by melkkos bly nie, maar die Bybel in diepte leer ken. Ons kan nie net op ander wag om ons toe te rus nie. Kennis word eers relevant wanneer dit toegepas word in aksie – dit help niks ons het al die kennis van die Bybel maar dit word nie toegepas nie. Dit is dieselfde om dokter toe te gaan a.g.v. ‘n siekte en nie gesond word omdat ons nie sy voorgeskrewe behandeling volg nie.

 

Ons moet self geestelik begin groei deur Bybelstudie, onssélf so verdiep in God se Woord om uit te vind wat God vir my en jou wil sê, sodat ons vrugte kan dra, vrugte wat sal hou! Dis wat God van ons verwag! Jesus doen ‘n beroep op ons om op God se Woord te “hoor en daarvolgens te handel.” (Matt. 7:24). Dis nie maklik nie, maar kom ons probeer immers om die volle waarheid te leef en aan ander bekend te maak.  

 

“Wie die Bybel vinnig lees, trek net so min voordeel daaruit as wat ‘n by daaruit sou kry indien hy skrams oor ‘n blom vee eerder as om diep in te gaan en die stuifmeel uit te haal” (Madame Guyon).

 

Gebed: Here, dankie vir U Woord, ‘n fontein van lewende water, die onfeilbare gids vir my lewenspad, die onbeskryflike bron van wysheid en troos. Help my om elke woord daarin, met geloof en vertroue tot U eer aan te neem en só U volle raadsplan te ontdek, te doen en ook met ander te deel. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page