top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 31 Januarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

 

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (4)

 

Ons is God se lig wat elke dag moet skyn

 

Hand. 20:23-24 – “Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. 24 Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (2)

 

Paulus se afskeidstoespraak in Milete met die ouderlinge van Efese, gee ons ’n roerende kykie in die passie wat hierdie groot Godsman gedryf het. Al is sy lewe vir hom kosbaar, wil hy net sy lewenstaak voltooi en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het, klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig. Hy draai nie doekies om oor die lyding wat hulle sal verduur nie, dinge wat ook vir hom voorlê op sy pad, soos die Heilige Gees hom geruime tyd al op voorberei.

 

Paulus het geweet wat op hom wag in Jerusalem. Dit het hom egter nie afgeskrik nie. Hy het hom toegespits op die hede, dit wat hy nog moet afhandel voor gevangenskap en vervolging wat op hom wag. Hy wil en kan nie daarvoor wag nie. Hy moet besig bly met Jesus se opdrag en klaarmaak wat hy begin het. Is dit nie ook wat ons moet doen nie? Jesus se wens is dat ek en jy volspoed sal besig bly in Sy aardse wingerd én natuurlik goeie vrugte dra, totdat Hy weer kom. Gerjo-Ben skryf dat ons Christene lewe só in die toekoms, dat ons nie die lewe hier en nou raaksien nie. So asof ons in die wolke leef en nie lekker sien wat hier op die aarde aan die gang is en hoe ons hier moet lewe nie. Ons staan steeds en kyk spreekwoordelik saam met die dissipels na die hemelvarende Jesus (Hand. 1:10).

 

Maar intussen, word ons soos die dissipels, eers teruggestuur om ons aardse take af te handel. Jesus kom weer en intussen moet ons getuig van Jesus. Soms is ons so gefokus op die toekoms en die lewe hierna dat ons vergeet ons het vandag nog ’n rol hier op aarde. Maar dalk is die teenoorgestelde ook waar. Soms druk die lewe so dat ’n mens net op die nóú fokus en heeltemal vergeet waarheen ons op pad is en wat op ons wag.

 

Ons moet onthou dat die dag toe ons weergebore is, let wel, wéér gebore is, was dit nie ’n menslike geboorte nie. Die menslike geboorte veronderstel ’n eindpunt. Daar is ’n dag en datum in die toekoms dat die lewe wat ons geboorte gegee het, tot ’n einde gaan kom. Dit is wat die sonde doen. Dit neem ons na die dood. Maar wanneer ons vir ’n tweede keer gebore word, dan is God daarby betrokke en dan verander alles. Nou is daar nie meer ’n einde nie. Juis wanneer die aardse lewe ophou, skop die nuwe lewe af en hier is geen einde in sig nie.

 

Wanneer ons egter besef dat die tweede geboorte ons in staat stel om verby hierdie wêreldse eindstreep te leef, dan maak dit ons leef in die nóú, in vandag, heel anders. Dan begin ander dinge vir ons saak maak. Nie soseer wat ons het en wat ons nog kan kry nie, maar meer hóé ons die lewe leef. Dan begin ander mense wat saam met ons stap in fokus kom. Dan raak ander se behoeftes ook ons behoeftes en maak ons saam planne om ander se uitdagings uit hulle pad te rol – Jesus noem dit naasteliefde – agapé liefde.

 

Meer nog. As ek en jy ons lewe vandag leef met die wete dat ons tweede geboorte die eindstreep van ‘n ewige dood uit die prentjie kom haal het, dan raak mense waar die eindstreep nog nie ’n werklikheid in hulle lewe is nie, deel van ons alledaagse prentjie. Hoe kan ons die nuus vir onsself hou, terwyl ons sien hoe mense se ewige eindstreep in die donker al hoe nader kom? Wanneer ons werklik besef wat ons hergeboorte vir ons bewerkstellig het en dat die werklike ware vreugdevolle en vredevolle lewe nog op pad is, borrel ons oor; kry ons weer nuwe moed vir die lewe hier en nou; kom die son weer op uit die donker. En dit behoort ons aan te moedig om dit vandag nog, te gaan deel met ander.

 

Wanneer Jesus ons komplimenteer dat “ons die lig is vir die wêreld” (Matt. 5:14), behels dit ‘n ontsagwekkende verantwoordelikheid om dié getuie van Hom te wees deur wie sý Goddelike lig sal skyn om die donkerte rondom ander te verlig! Dit is ‘n enorme verantwoordelikheid vir elke gelowige om te sorg dat hierdie sigbaarheid nie Sondae stop by die kerkdeur wanneer ons daar uitstap nie. Christenskap wat by die kerkdeur stop, baat niemand nie. Dit is immers doelloos en sinloos as ons wat “lig is”, nie daardie lig met ander deel nie, dan bly God se koninkryk gevolglik donker!

  

Kan dit van my en jou gesê word dat ons ligdraers is van God se koninkryk hier op aarde? Herken ander mense die lig van Christus in ons? Straal die teenwoordigheid van Christus van Sondag, ook deur die week in ons, dáár by ons huise, ja, óral waar ek en jy ons bevind? Jesus het nie gesê ons is die lig vir die kerk nie, maar “julle is die lig vir die wêreld.” ‘n Mens se wêreld is sy Christenskap, wat duidelik sigbaar moet wees vir almal om te sien. Omdat geloof in Jesus elke faset van ons lewens aanraak, is die effek daarvan baie sigbaar. Laat God se lig dan onbelemmerd deur my en jou skyn. Nie eers ééndag nie. Nou! Elke dag!

 

“As ons gewillig is dat Christus ons die lig vir die wêreld maak, hoef ons dit nie te verkondig nie, dit sal self wys. Vuurtorings gebruik nie kanonne om die aandag op hulle te vestig nie, hulle skyn net” (Dwight L. Moody).

 

Gebed: Here, hier is ek, net ‘n dowwe liggie, maar darem. U het my ‘n lewensroeping gegee om as lig, U lig te laat skyn in elke plek waar ek my bevind. Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan, sodat hulle U sal verheerlik. Help my om ‘n helder getuie van U krag en teenwoordigheid te wees sodat die donkerte van dié rondom my, deur die lig van U Goddelike heerlikheid vervang sal word. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page