top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 9 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Die oproer in Efese (2)

 

Goeie nuus troef slegte geld

 

Hand. 19:23-27 – “Juis toe het daar ‘n groot opskudding ontstaan oor die leer van die Here. 24 ’n Silwersmid met die naam Demetrius het silwerbeelde van die tempel van Artemis gemaak en vir die vakmanne ‘n goeie verdienste verskaf. 25 Hy roep hulle en ander mense wat soortgelyke werk doen, toe bymekaar en sê vir hulle: ‘Mense, julle weet dat ons voorspoed van hierdie werk afhang. 26 Julle sien en hoor self dat hierdie Paulus daarin geslaag het om nie net in Efese vir hom ‘n groot aanhang te kry nie, maar ook in byna die hele provinsie Asië. Hy sê dat goed wat met die hand gemaak word, nie gode is nie. 27 Ons bedryf staan in gevaar om ‘n slegte naam te kry.”

 

Juis in die tyd toe so baie inwoners van Efese en die provinsie Asië tot geloof in Jesus gekom het, so ’n groot groep gelowiges finaal met hulle geskiedenis van toordery gebreek het en hulle toorboeke in die openbaar verbrand het, het daar ’n gewelddadige oproer oor ‘die Weg’ in Efese ontstaan. Dit is die Weg van die Here en daarvan is Jesus self die Weg na die Vader en die Waarheid en die Lewe van elke mens en ding (Joh. 14:6). 

 

Paulus se laaste dae in Efese word nou versuur deur hierdie heftige opskudding. Volgens Lukas se vertelling, was dit nie klein nie. Die godin Artemis se populariteit en die silwersmede se beeldjies wat van haar gemaak en verkoop is tydens die jaarlikse fees in Mei, het ‘n goeie inkomste aan ‘n klomp vakmanne in Efese verskaf. Hulle winste het egter dramaties afgeneem vandat Paulus begin preek het dat daar geen ander gode as die ware God van hemel en aarde is nie. Hulle handgemaakte gode is almal morsdood. Silwerbeeldjies van Artemis se imposante tempel en van haarself beteken niks! Die silwersmid Demetrius het egter nie met Paulus saamgestem nie – dié ding dat hulle silwersmede se sakebelange deur die prediking van die evangelie aan bande gelê is, het Demetrius nie aangestaan nie.

 

Demetrius besluit om iets daaraan te doen en roep almal wat gemoeid is met die maak van die beeldjies bymekaar. Hy verduidelik aan hulle dat Paulus se goeie nuus dreig om die dooie afgodsbeeld van Artemis, oftewel Diana, en hulle winste nie net in Efese nie, maar ook in die hele provinsie Asië, hulle stoflike welvaart bedreig. “Hierdie Paulus het daarin geslaag ...”, klink neerhalend – hierdie vent Paulus ...! Al wat Paulus gedoen het was om te verkondig wat die profeet Jeremia eeue tevore al só beskryf het: “(Die heidennasies se) voorskrif om ‘n god te kry, is sinloos: hulle kap ‘n boom in die bos af, ‘n ambagsman kerf dit uit met ‘n beitel, 4 hy versier dit met silwer en goud, met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie. 5 Sulke gode kan net so min praat as ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommerland ...” (Jer. 10:3-5). 

 

Wat sien ons hier gebeur? Die waarheid van die evangelie wat heeltemal gratis is, het ‘n besigheid wat slegte “toekomswins” opgelewer het, uit die pad gedruk. Mense se lewe het regtig verander – ‘n lewensverandering wat op die lange duur, veel meer werd is as invloedrykheid, veel meer werd is as geldgierigheid.

 

Geldgierigheid het ‘n mededingende saligheid geword in baie mense se waardesisteem. Rykdom koop alles; rykdom koop mense uit die gemors waarin hulle hul bevind; rykdom word ‘n maatstaf, ‘n enigste begeerte. Dit word die enigste wapen om die lewe aan te pak. Dit word al waarvoor gelewe word en alles word om dit beplan en uitgevoer. Rykdom veroorsaak dat mense as “stepping stones” gebruik word om bo uit te kom. Liefde vir God en jou naaste word eenkant toe geskuif! Vir baie invloedryke mense in die samelewing, tel diegene wat min geld het, eenvoudig net nie in hulle oë nie.

 

Materialiste stel hulle vertroue in stoflike dinge en hulle glo hulle besittings maak hulle gelukkig. Hulle duur motors sal hulle reis veilig maak; hulle duur klere en juwele dwing gesag af en bring geluk; hulle pragtige huise lok baie vriende na partytjies – alles die geldgod Mammon! Ons kan nie God én geld liefhê nie. Hulle sluit mekaar uit, want beide lê beslag op jou hele lewe. Ons kan nie onnadenkend leef sonder om ‘n keuse te maak nie. Jesus het die regte keuse gemaak tót die dood toe, sodat ek en jy kan leef, om die regte keuse te kan maak!

 

Niks op aarde behoort aan ons nie, God het ons die gebruikreg daarop en daarvan gegee. Hy het dit tot ons beskikking gestel en ons mag dit daarom geniet solank dit net nie ons baas word nie, of nog slegter, ons god – ons Mammon. Want dan besit ons niks, maar Mammon besit ons. Dit is nie die wêreld wat sodanig boos is nie maar die verskeidenheid bose begeertes wat die wêreld onder sy beheer hou met Mammon as “CEO.”

 

Verbied Jesus materialisme? Nee! Hy waarsku egter teen die siekte van materialisme. Om baie te besit is nie ‘n sonde nie, maar wanneer dit ‘n selfsugtige begeerte word is dit wel. Jesus is ook nie teen rykdom nie – daar is ryk mense wat God met oorgawe dien en ook armes wat materialisties is. Dit gaan oor waarop ons fokus. Valse roem en trots op ‘n mens se besittings lei tot versaking van jou afhanklikheid van God. Gevolglik lei dit tot ‘n groot mate van selfverheerliking en word mens “godjie-van-sy-eie-koninkrykie.” Ja, die evangelie raak nie net ons harte nie, maar ook ons beursies. Dis ons keuse wie ons wil dien: Ons goed of ons God. Wanneer ek en jy egter voor die lewende Here buig, word alles nuut – daar ‘geld’ nuwe waardes! Selfs in 2024.

 

“Geld is ‘n universele paspoort na enige bestemming behalwe die hemel; en ‘n universele kredietkaart om enigiets te koop, behalwe geluk” (Anoniem).

 

Gebed: Dankie Here vir die besef dat die belangrikste dinge in die lewe nie dinge is nie. Bevry my van die afhanklikheid van die tydelike bevrediging wat in die verganklike dinge van mammon te vinde is. Plaas my eerder in ‘n verhouding met U onbreekbare liefdesbande want dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page