top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 8 Mei 2024

Koos Espach


Paulus word na Feliks toe gestuur (4)

 

Vertrou op die Here

 

Hand 23:30 – “Toe aan my meegedeel is dat daar ‘n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.”

 

Lisias sluit sy kort maar veelseggende brief af deur melding te maak van die komplot teen Paulus. Ons kan nie anders as om te glimlag oor Claudius Lisias se selfaanprysing en verdraaiing van die feite om in sy guns te tel nie. Die goewerneur moes darem weet hy het soos ‘n held opgetree. Hy het immers Paulus wat ’n Romeinse burger is, se lewe gered. Hy swyg egter dat hy dit eers uitgevind het nadat hy opdrag gegee het dat Paulus gegésel moes word. Dit sou hom in groot moeilikheid laat beland het. Hy is ook ‘n nougesette amptenaar – die Joodse Raad moes Paulus se saak ondersoek en só het hy ‘n oproer voorkom. Niks word gemeld van die oproer tussen die Raadslede nie.

 

Lisias sit nog ‘n veertjie in sy hoed. Fyntjies maar prominent word die ‘ek’ gemeld wat Paulus dadelik na die goewerneur toe gestuur het. Maar hóé hy uitgevind het van die komplot, word nie gemeld nie. ‘Ek’ het net regverdig opgetree u edele, ‘Paulus het niks gedoen wat die dood of tronkstraf verdien nie.’ En onwetend is Claudius Lisias ook ‘n instrument in die hand van God. Paulus moet nog Rome toe, en die Here sorg dat hy sy intrede by Feliks as ‘n onskuldige begin. Lisias was seker tevrede met homself. Hy is van Paulus ontslae. Sy afskuif-politiek is netjies bedek. Hy glo hy verdien bevordering. Hy het Paulus se lewe gered.

 

Paulus se lewe het drasties verander nadat hy in Jerusalem aangekom het. Hy is deur verskeie mense gewaarsku om nie daarheen te gaan nie, maar hy wou die geld wat onder die nuutgestigde gemeentes ingesamel is, aan die arm Jerusalem-gemeente oorhandig. So is die lewe maar, sal ons wat hier lees saam sug! Ons kan darem aflei dat Paulus as ‘n ‘Romeinse burger’ beter daaraan toe was as die kommandant wat sy burgerskap moes koop en as Feliks wat eers ‘n slaaf was.

 

Daar kom tye dat ‘n mens se lewe in ‘n oogwink kan verander. Die dokter deel jou die slegte nuus mee dat jy kanker het; jou geliefde sê jou na maande se hegte verhouding af; jou werkgewer roep jou in om te sê jou pos is afgeskaf en jy moet gaan; ‘n motorongeluk neem jou geliefdes weg of laat hulle met gestremdheid. So kan ons voortgaan. Ja, dis kontraste wat ons soms moet aanvaar. Partykeer sien ons die pad helder en duidelik. Ons weet wat ons met ons lewe wil maak, waar ons wil werk, wie ons lewensmaat moet wees, hoeveel kinders ons graag wil hê; waar ons wil gaan aftree ...! Ander kere is dit moeilik. Daar is net nie lig in die tonnel nie. Ons weet nie meer wat om te doen nie. Alles is mistig en onduidelik. Wil die Here nie maar vir ons wys wat om te maak nie?

 

Ons ken mos dié gevoel. En Paulus sê vir ons welkom, julle bevind julle in goeie geselskap. Hy het ook sulke af tye beleef. Hy kon egter aanhou omdat die Here hom nooit in sy swaarkry verlaat het nie: “Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie” (2 Kor. 4:9). Paulus het albei kante van die geloof geken: die kant van sukses, maar ook die swaarkrykant. Hy was in staat om sy terugslae te oorkom omdat hy geweet het dat die Here hom nooit sou los nie. Hy het geweet God sal sy woord hou. En dit het die verskil aan sy lewe gemaak.

 

Wat van my en jou? Dalk beleef ons ook oomblikke waar ons ‘n punt bereik het dat ons nie mooi weet hoe nou vorentoe nie. Dit voel vir ons of die Here ons op die rand van die afgrond van die onbekende gebring het, en ons net daar alleen gelos het. Hoekom straf God my so; waarom gebeur dit met my; wat het ek verkeerd gedoen om dit te verdien? Nee, dis die verkeerde vrae. God bring ons by sulke plekke, nie om ons te straf met die blinde sambok nie, maar om ons te leer om Hom volkome te vertrou.

 

Ek dink ons kan ou Paulus se geheim maar toepas in ons lewe. Ons kan vol moed wees, ons lewe mos deur die geloof, nie deur sien nie (2 Kor. 5:6). Ons kan maar ‘n tree gee die duister in, ons sal daar iets kry om op te staan. God is mos groter as ons bang. Nog beter, kom ons maak van vandag af ons motto: “Ons stel ons vertroue in die Here, ons sal vasstaan” (2 Kron. 20:20). Geloof in Jesus Christus is die regte medisyne vir vrees. Dit sal ons help om oor ons vrees te triomfeer. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ons weet Wie die toekoms in sy hande hou!

 

“Waarom is dit dan nodig dat ons elke dag van nuuts af moet leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister sy betroubaarheid bewys nie? En eergister? En die dag tevore? (CS Lewis).

 

Gebed: Dankie Here dat ek en my geliefdes veilig is in U hande. Ons stel ons vertroue in U, ons sal vasstaan. Amen.

Comments


Recent Posts