Gedagte vir Vandag
Maandag, 8 Januarie 2024
Koos Espach
Ons vakansie is verby en ons nooi julle graag uit om saam met ons verder te reis deur die Woord van die lewe. Ons gebed is dat elke E-Kerk leser se jaar gevul sal wees met Goeie Nuus, onoortreflike seëninge en gulde geleenthede. Jesusliefde, vreugde en vrede vir 2024.
VII. Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-21:16)
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese
Die oproer in Efese (1)
God se boekhousisteem
Hand. 19:21-22 – “Na hierdie gebeurtenisse het Paulus besluit om deur Masedonië en Agaje te reis en na Jerusalem toe te gaan. ‘Nadat ek daar was,’ het hy gesê, ‘moet ek Rome ook besoek.’ 22 Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit gestuur Masedonië toe, maar self nog ‘n tyd lank in die provinsie Asië agtergebly.”
Vergelyk ook Rom. 15:25-27 – “Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. 26 Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27 Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan.”
Lukas sluit sy vertelling af oor alles wat met Paulus gebeur het in Efese, deur te begin met die oorwinning wat daar behaal is – die duiwel en sy besweerders het ‘n geweldige neerlaag in Efese gely. “Na hierdie gebeurtenisse het Paulus besluit om deur Masedonië en Agaje te reis en na Jerusalem toe te gaan.” Daarna sou hy baie graag ook Rome wou besoek. Onder die leiding van die Heilige Gees het hy besluit dat die werk in Efese so ’n stadium bereik het dat hy weer aan nuwe werk kon begin dink. Tydens sy reis deur Masedonië en Agaje, het hy finansiële bydraes by die gemeentes wat hy op sy tweede sendingreis gestig het, ingesamel en dan na Jerusalem gaan om die kollekte daarheen weg te bring (vgl. 2 Kor. 8 en 9).
Soos ‘n versigtige generaal verlaat Paulus nie dadelik die plek van stryd na die oorwinning nie. Voor hy na Masedonië toe vertrek het, stuur hy twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit daarheen, moontlik om voorbereidende maatreëls vir die kollekte te tref. Hyself het nog ’n tydjie in Asië agtergebly. Paulus het nooit halsoorkop besluit om verder te reis nie. Sy voorneme word deur God bepaal, sy koers is deur die Gees bevestig.
Paulus se insameling van gawes vir die armes in Jerusalem is ’n uitvloeisel van ’n versoek (en moontlik ’n belofte) wat terugdateer tot sy besoek aan Jerusalem waartydens hy vir die diens onder die heidene afgesonder is (Gal. 2:9-10). Die spesifieke redes vir die armoede tussen Christene in Jerusalem is nie nou ter sprake nie, wat wel saak maak is die Christelike verbondenheid, die omgee vir mekaar.
Die Kerk is nie ‘n gebou nie. Dit is ook nie ‘n spesifieke plek nie. Die Kerk is waar God se kinders in die wêreld leef. Ons het dit reeds gesê dat die kerk ek en jy is, en of ons Sondag in die kerkgebou byeen is of by ons eie huise is, die Kerk van God is by ons. By ons werk en by ons huis is ons elkeen die verteenwoordiger van God se huishouding in die wêreld. Dit beteken dat Christus óók in die ‘geldhoekie’ van ons lewe koning sal wees, maar dit is een van die plekke wat ons die swaarste aan Hom oorgee, wanneer geleefde Christenskap só konkreet moet word soos die muntstukke in die kollektesak.
Kan ‘n mens ooit genoeg gee? Wanneer is my geldelike bydrae genoeg? Wanneer predikante oor finansiële verantwoordelikhede of gee van tiendes preek, raak sommige lidmate ongemaklik en kritiseer die boodskap én die boodskapper. Jesus het nogal baie oor geld gepraat! Volgens Howard Dayton handel sestien van die agt en dertig gelykenisse oor geld en besittings. In die vier Evangelies handel een uit elke tien verse uitdruklik oor geld. In die Bybel is daar 500 verse oor gebed, minder as 500 verse oor geloof, maar meer as 2 000 verse wat handel oor geld en besittings. Dit verg nie baie geld om tussen ons en God te kom nie, plaas net twee muntstukke oor ons oë en dit wat God geskep het, én Sy beeld, word belemmer.
Paulus wou nie geld, onder andere, uit die Korintiërs wurg of hulle verplig om ‘n geldelike bydrae te lewer nie, hy wou dat hulle die geestelike beginsel wat op die spel is besef, en dat Christenskap offers vra. Dit moes hulle in Jesus se offer gesien het en daarom het hy nugter hieroor gepraat: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie” (2 Kor. 8:12). Christus het Sy lewe vir ons gegee. Is dit dan te veel gevra om iets van onsself vir mekaar te gee? Werk in 2024 op God se boekhousisteem: Stel Hom voorop, Hy sal vir die res sorg!
“Geld kan jou ‘n kruis koop, maar nie ‘n Verlosser nie; ‘n aardse tempel maar nie die hemel nie” (A.W Tozer).
Gebed: Voorsiener God, maak my onwillig om my beursie vas te knyp wanneer dit by die evangelie kom. Maak my getrou in my rentmeesterskap vir dit wat U uit genade aan my skenk. Skenk my ‘n medelydende hart soos U self het, sodat ek met blymoedigheid my plig teenoor minderbevoorregtes sal nakom. Amen.
Kommentare