Gedagte vir Vandag
15 Februarie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (49)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (5).
(Matt. 20)
Jesus kondig die derde keer Sy dood en opstanding aan (2).
(Mark. 10:32-34; Luk. 18:31-34)
As gelowige pelgrims is ons op pad Jerusalem toe!
Matt. 20:17-19 – “Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: ‘Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gésel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”
Jesus rig nou sy oë op Jerusalem want Hy weet Sy tyd het gekom. Daarom kondig Hy vir die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding vir die twaalf dissipels aan, waardeur Hy sy identiteit as die lydende Seun van die mens bevestig. Hy verklaar dat Sy lydensweg die vervulling van die profesieë is, maar hoor die dissipels wat Hy sê? Die dissipels kon dit nie verstaan nie omdat hulle nog steeds ‘n Messias in heerlikheid verwag het, en hulleself as deel van Sy “kabinet” van Sy aardse koninkryk gesien het. Hy is egter nie die triomfantelike Messias wat hulle van Romeinse oorheersing sou red soos wat die Jode verwag het nie, maar die lydende Dienaar van die Here soos wat Jesaja 53 beskryf.
Op pad na Jerusalem, sê Jesus vir die twaalf dissipels hulle “gaan nou Jerusalem toe.” Jerusalem was die plek waar Jesus die vervulling van sy Vader se doel, God se wil, bereik het. Die strewe om sy Vader se wil te doen, was die vernaamste oorheersende aangeleentheid dwarsdeur Sy aardse lewe “…omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Joh. 5:30). Hy is op pad Jerusalem toe om God se doel te vervul. Dit maak nie saak wat Hy ook al beleef het nie, “Hy het vasbeslote die reis na Jerusalem begin …” (Luk. 9:51).
Net so is ek en jy ook op pad na “Jerusalem” om Gód se doel te vervul, nie ons eie nie – dit is natuurlik indien dit ons keuse is om Jesus se volgelinge, Sy vriende te wil wees! Solly Osrovech het in sy boek “Dink aan jou Skepper” die volgende geskryf: “Soos jou vrienskap met Jesus Christus toeneem en Sy wil vir jou lewe al duideliker word, sal nie net jou lewe nie, maar ook alle ander verhoudings in jou lewe in so ‘n mate verryk word dat jy in verwondering sal staan voor die onuitspreeklike genade van God wat vir die mens so ‘n wonderlike Vriend gestuur het.”
Vriende van Jesus het te make met die uitverkiesing. Juis daarom is hierdie vriendskap so ’n kosbare besit en moet dit gekoester word deur die onderhouding van die groot gebod van die liefde. Jesus het geweet dat Hy nie by ál die mense op aarde in 3 jaar sou uitkom nie, daarom het Hy “sy dissipels en alle Christen-gelowiges, uitgekies en ons aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou” (Joh. 15:16).
“Op pad na ons Jerusalem”, stuur Jesus ons uit om in hierdie vyandige en deurmekaar wêreld Sy werk verder voort te sit – vrug te dra van goeie werke in gehoorsaamheid aan ons Sender, maar ook deel te wees van die insameling van die oes vir Sy koninkryk. Jesus het ons uitgekies om “ambassadeurs” vir Hom te wees. Om ongelowiges van Hom te kan vertel, moet ons vrugte van die Christen-leefwyse dra, vrugte wat sal hou. Baie mense wil graag vriende van Jesus wees, maar dan op hulle eie voorwaardes: volg hulle eie wil, maak hulle eie planne volgens hulle eie begeertes; stap hulle eie pad. Hulle gebruik met ander woorde, Jesus vir hulle eie selfsugtige doeleindes en dan verwag hulle dat Hy dit sal onderskryf en dan ten minste hulle oortredinge moet ignoreer.
Maar dan “neem Hy ons opsy …” Hy neem ons elke dag opsy, en aanvanklik dink ek en jy miskien dat die Here nie baie wys was om ons “opsy te neem” nie. Ek meen, hoe kan die Almagtige my vertrou. In my natuurlike lewe is ek besig om my eie ambisies uit te leef, op die kruin van sukses, maar soms voel ek nutteloos. Dit is presies waarom Hy my en jou gekies het. Solank as wat ons nog dink dat ons vir Hom van waarde is, kan Jesus ons nie kies nie want ons streef ons eie doelwitte na. Maar as ons Jesus toelaat om ons selfvoorsiening en selfsugtigheid tot ‘n einde te bring, kan Hy ons kies om saam met Hom “Jerusalem toe te gaan”, en reg langs ons, saam met ons te loop.
Om saam met Jesus “Jerusalem toe te gaan,” verg opoffering, dienslewering en volharding. Om ‘n Christusvolgeling te wees is ‘n duur storie. Ons leef in ‘n verdraagsame tyd – alles word verdra, Christene, sataniste, Moslems, waarheid, leuen, korrupsie – daar is ruimte vir alles want dit is die mens se reg. Almal mag praat, almal het ‘n reg en almal is reg, en niemand kan daardie reg skend nie! Waarheid het ‘n relatiewe begrip geword wat die grenslyne tussen reg en verkeerd laat vervaag na mate die situasie verander.
Ten spyte van die feit dat ons “pad na Jerusalem” toe ‘n tyd van verandering is, verwarring, verguising van alle beginsels en groot onsekerheid, klink die woorde van Hebreërs 13:8 baie duidelik: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Wat Jesus doen elke keer as Hy ons “opsy neem”, is genoeg om vir ewig van te lewe. Hy het onvergelyklike genade betoon, genade wat nie algemeen is nie maar persoonlik. Sy beloftes het krag en is waar, dis nie leë beloftes wat ons teleurstel nie. Nêrens is ‘n vangplek nie, geen fyndruk wat my en jou sal diskwalifiseer of sal laat val nie. Om saam met Jesus “Jerusalem toe te gaan”, beteken om soos Jesus, ons kruis op te neem. Dit is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is. Is ons steeds bereid om deur Jesus “opsy geneem te word?”
“God se doel met ons is in werklikheid om te midde van groot stres en probleme rondom ons, nie verbouereerd te raak nie maar Hom nóú op die golwe van ons lewe sal sien loop, Hom sal vertrou – al is die kus nêrens in sig nie” (Oswald Chambers).
Gebed: Here Jesus, “neem my opsy”,ek wil graag saam met U “Jerusalem” toe. Ek is jammer dat ek so baie keer bedenkinge gehad het oor dinge, selfs nie kon leer om U volkome te vertrou nie, en my eie paadjie te stap. Laat my toe om my vrese na U te bring en by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Gee vir my nuwe moed om ‘n mens te wees met onderskeidingsvermoë sodat ek kan besef dat daar wel dinge is wat ek nie kan doen nie, dinge waarmee ek U kan vertrou. Help my om so te lewe dat ek U vertroue waardig sal wees. Amen.
Kommentare