Gedagte vir Vandag
Maandag, 20 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-21:16 )
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (4)
Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (4)
Ek is ‘n kindjie klein ...
Hand. 19:5 – “Toe die twaalf gelowiges dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.” (2)
Vergelyk ook Luk. 9:46-48 – “Daar het ‘n stryery onder die dissipels ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. 47 Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek ‘n kindjie nader om langs Hom te kom staan. 48 Toe sê Hy vir hulle: ‘Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het ...”
Voor ons verder saam met Paulus reis, vergun my om ietsie meer te sê oor die feit dat God dit ernstig bedoel met kinders, soos wat Jesus met vandag se vergelykende vers beklemtoon. Jesus kom hou ’n kind as die ideaal vir die koninkryk van God voor. Dit beteken ’n radikale omkeer van alle bestaande waardes. Dit gaan hier nie oor die sogenaamde “onskuld” of “ontvanklikheid” van die kind, en of die kind al gedoop is al dan nie. Maar oor die kind se totale gebrek aan status, sy/haar nederigheid voor grootmense en volledige afhanklikheid van sy/haar ouers. Jesus verwag van ons as Sy volgelinge, om nie onder mekaar te baklei oor wie die belangrikste is, of watter tipe doop korrek is nie, maar om eerder dieselfde kinderlike afhanklikheid aan God, en onwrikbare vertroue in Sy versorging as ons Vader, te openbaar; om soos grootmense met kinderharte op te tree.
In my geestesoog sien ek hierdie kindjie daar by Jesus staan – (kom ons aanvaar hierdie keer dit was ‘n dogtertjie) – nederig en sonder pretensie, sonder slim redenasies, moontlik kaalvoet met eenvoudige kleertjies aan, hulpeloos en sonder enigiets om Jesus aan te bied. Dalk ‘n bietjie bang, wonder seker wat gaan hierdie grootmense met haar maak, want kinders was tydens Jesus se aardse tyd, net gesien en nie van gehoor nie. Sy was totaal op Jesus se genade aangewese. En dan hoor ek Jesus se liefdevolle stem: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het ...” Só, gering soos hierdie kind, is ons reg vir die Koninkryk van God. Jesus verwyder alle generasiegapings! Ons kán nie wag tot die kind eers groot is voor hy of sy kan inpas by die geloofsgemeenskap van God se koninkryk nie.
Hierdie kindjie staan daar tussen grootmense, die groot manne wat stry oor wie die belangrikste is, (of ons wat stry oor watter tipe doop korrek is.) Sy is iemand se kind. Sy weet sy het ‘n pappa en mamma wat haar lief het. Sy is afhanklik van hulle. Sy weet sy kan en sal dit nie alleen in die lewe maak nie. Sy hou aan hulle vas en haar hele lewetjie draai om hulle. Sy vertrou hulle; hulle sal vir haar sorg; hulle sal haar beskerm; hulle sal alles doen om vir haar die beste te gee. Sy wil nooit van hulle geskei word nie!
Dit is hoe God se kinders moet wees! In die Koninkryk van God is daar net plek vir mense wat nederigheid soos ‘n kind geleer het. Ons moet daardie geweldige sekerheid besit dat ons nie sonder ons hemelse Vader kan leef nie, dat ons nooit van Hom geskei wil wees nie, dat ons as Sy kinders, se hele bestaan om Hom draai. Wie nie tot hierdie verandering bereid is nie, sal nie in die koninkryk van die hemel kom nie. God se koninkryk is alleen bedoel vir diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is – “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel” (Matt. 18:3). Dit maak die vraag na wie die belangrikste sal wees in die koninkryk ‘n sinlose vraag. Die statusbewustheid van die wêreld pas nie in by Sy koninkryk nie. Wanneer ons op ons knieë voor God staan, is ons almal ewe ver of ewe naby aan God!
Om ‘n ouer te wees, is genade van God. Dit is ‘n voorreg om verantwoordelik te wees vir die welsyn, sorg en ordelike lewe van kinders. Die heel eerste opdrag wat God aan die man en vrou gegee het direk nadat Hy hulle geseën het, was: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28a). Gesinsvorming is ‘n uiters verantwoordelike roeping van ons as ouers. Kinders is ‘n seën van die Here en ouers moet hulle met die hulp van God laat opgroei sodat hulle tot eer van God kan leef. Baie ouers wil só graag hulle kinders vorm tot “konings” van hul eie aardse koninkryke terwyl dit elke ouer se eintlike plig is, om te sorg dat hulle kinders by God uitkom, dat hulle hemel toe gaan.
Hoe kan ons hierdie generasiegaping tussen volwassene en kind oorbrug of selfs verwyder? Die enigste manier is om die voorbeeld van die Grootste in die hemelse Koninkryk te volg, naamlik Jesus, die Kind van Betlehem. “Hy trek ‘n kindjie nader om langs Hom te kom staan.” Hy trek my en jou nader, en waar Hy nie trek nie, roep Jesus al God se kinders! Deur feitlik elke bladsy van die Bybel roep Hy: “Kom na My toe …; Volg My!” Staan ons al daar by Hom soos hierdie kindjie in ons verhaal, of oorweeg ons nog huiwerig om nader te gaan?
“Ons mag strewe om soos kinders te wees, maar ons moenie probeer om hulle soos ons te maak nie”
(Kahlil Gibran).
Gebed: Almagtige Vader, rus my toe met liefde en begrip en leer my om te vermaan en te lei. Skenk my só ‘n geloof dat my kinders sal weet dat ek ook maar net kind is, U kind! Help my om ‘n afhanklike kind van U te bly, sodat my kinders en kleinkinders, saam met my ‘n hemelse Vader sal raaksien wat ons lei na waters waar rus is. Amen.
Comments