top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 10 November 2023

Koos Espach


VII. Paulus se Derde Sendingreis (2)

Apollos preek in Efese (1)


Gedoop met die Gees of met vuur?


Hand. 18:24-25 – “Intussen het daar ‘n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n deeglike kennis van die Skrif. 25 Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes.”


Lukas onderbreek nou die verhaal van Paulus se reis om ’n voorval te vermeld wat vir die ontwikkeling van die gemeente van Korinte van groot belang was. Tussen Paulus se eerste en tweede besoek aan Efese hoor ons van die optrede van Apollos. Hy is gebore in Aleksandrië in Egipte. Dit was die tweede grootste stad in die Romeinse ryk naas Rome en ’n belangrike sentrum van geleerdheid. Hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif wat hy nie net geken het nie, maar ook gebruik het.


Van wie en waar Apollos onderrig ontvang het, word nie gesê nie. Dit kon moontlik in Aleksandrië gewees het. Hy word nie ’n Christen of apostel genoem nie, tog was hy goed bekend met die feite in verband met Jesus en het noukeurig alles oor Hom geleer. Hy het egter slegs ‘die doop van Johannes geken’ wat ’n voorbereiding was vir die koms van die verwagte Messias van God (Luk. 1:17, 76-79). Die doop in die Naam van Jesus Christus, soos deur Petrus op Pinksterdag verkondig is, was klaarblyklik onbekend aan hom: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige gees as gawe ontvang” (Hand. 2:38).


Wat behels die doop van Johannes die Doper, die doop wat Apollos geken het? Lukas verwys daarna in sy evangelie: “Johannes het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig dat die mense hulle moet bekeer, laat doop en God sal hulle sondes vergewe. 16 Ek doop julle met water, maar my meerdere kom ... Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. (Luk. 3:3, 16). Johannes kon alleen in die Jordaanrivier doop wat bloot ‘n uiterlike teken was van die afwassing van die Jode se sondes. Sy Godgegewe taak was om hulle tot bekering tot God op te roep. Dit word daarom ‘n bekeringsdoop genoem. Die doop was die werklike bewys dat hulle berou het oor hulle sonde, en dit moes die Jode tot ‘n hartsverandering en lewensverandering beweeg. Die water waarmee hy gedoop het, het nie hulle lewens verander nie, dit het van hulle sélf afgehang of hulle ‘n innerlike gesindheidsverandering wou aangaan, of hulle hulle wou bekeer.


Jesus, die Messias se doop daarenteen, sou harte verander. Die Messias se doop sou ‘n teken wees van God se innerlike hartswerk deur sy Gees. Want alleen die Gees, kan ingryp in menseharte en ware, standhoudende hartsverandering bewerk. Die Gees gee my en jou ‘n geleentheid om ‘n verhouding met God aan te knoop. Die Heilige Gees lei ons tot ware berou sodat ons tot die besef kan kom wat sonde aan ons doen – daardie sogenaamde stemmetjie …! Hy stel ons in staat om ‘n gesindheidsverandering teweeg te bring, en te word wat God wil hê ons moet wees.


Johannes sê die Messias sal ook met “vuur doop” – vuur brand skoon, dit bring lig, dit verander, dit verwyder die gemors en maak suiwer, dit werk in ons harte ‘n ywer op, om “vuur en vlam” vir God te wil optree. Die doop met vuur is Christus se oordeel oor hulle wat hulle harte in ongeloof verhard, en nie een of ander fabel of sensasie waaraan menige ongelowiges dit koppel nie. Die “vuurdoop” van Christus se oordeel is ‘n werklikheid.


Ek wonder wat sien God wanneer Hy na ons kyk? Vrugtelose bome wat nie vrug dra nie? Mense wat misluk om ‘n nuwe lewenswyse aan te kweek? Christene wat eens op ‘n tyd entoesiasties was en toe maar saam met die stroom ingeval het en lou of selfs koud geword het? Mense wat langsamerhand die noodsaaklikheid van kerk toe gaan, Bybel lees en gebed begin verwaarloos het totdat dit later weggekwyn het tot niks? Mense wat steeds aan die COVID-sindroom lei en die kerkgeboue steeds leeg is ná COVID?


Of ... sien God mense wat gedoop is met die Heilige Gees? Johannes die Doper preek vandag ook vir ons. Die Messias van Johannes se tyd, is dieselfde Messias van vandag, en deur Sy Gees gee hy vir ons die geleentheid om ‘n liefdesverhouding met Hom aan te gaan sodat ons vervuld en versterk en gelei kan word daardeur. Ja, ons het miskien al in die verlede probeer om “reg te leef”, om uit eie krag te verander, maar elke keer gefaal, hópeloos misluk! Wanneer die Gees ons bring tot berou en belydenis, voorsien Hy ook die krag om ons lewe te verander. “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:23-24). God verlaat nie mense nie, hulle doen dit self! Waar bevind jy jou?


“Belydenis moet iets meer wees as gewone berou oor sonde: dit omsluit ‘n verandering van jou menslike natuur wat vir God welbehaaglik is” (Lew Wallace).


Gebed: Hemel Vader, Dankie dat U my aanspreek deur U Woord. Dankie dat U my deur Johannes die Doper my daaraan herinner dat my ewige toekoms op die spel is. Dat ek moet onthou dat daar eendag verseker ‘n finale skeiding kom. Here Jesus, maak deur U Gees my wakker sodat ek U stem kan hoor, en wanneer ek U stem hoor, sal luister, sodat ek “as oorwinnaar, alles sal erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein” (Lied 602:5). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page